Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Optimisme kry dalk wind van voor, maar hoop bly staan
Foto:

“Go home and get a nice, quiet sleep,” het die Britse eerste minister, Neville Chamberlain, in 1938 gerusstellend buite Downingstraat 10 gesê. Dit was deel van sy “Peace for Our Time”-toespraak, waarin hy die Britte verseker het dat sy sending na Duitsland durende vrede verseker het.

Minder as ’n jaar later het die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek.

Chamberlain was nie die eerste leier wie se valse optimisme in sy gesig ontplof het nie en hy sal ook nie die laaste wees nie. Vanjaar het pres. Donald Trump Amerikaners vertel dat Covid-19 teen Paasfees iets van die verlede sou wees. Pres. Cyril Ramaphosa het beloof dat daar nooit weer beurtkrag in Suid-Afrika sal wees nie. Alles variante van die politici in Etienne Leroux se kultusroman Magersfontein, o Magersfontein! wat, selfs terwyl hulle deur vloedwater meegesleur word, bly prewel: “Daar’s geen rede tot paniek.”

Miskien is dit tyd om koebaai te sê aan optimisme, dink ek, toe dit bekend raak dat Johnny Nash oorlede is. Die dood van die skepper van “I Can See Clearly Now” moet ’n slegte teken wees. Johnny is dood en ons beleef die einde van ’n era! Die verbete sonnigheid van almal se staatmaker-goedvoeldeuntjie pas nie meer in ons wêreld nie! Van nou sien ons net swarigheid en narigheid!

As ’n mens moet kies tussen valse optimisme en ’n blinde geloof dat alles ten goede sal meewerk aan die een kant en pessimisme aan die ander kant, kies dan maar eerder pessimisme. Só skryf die filosoof Ernst Bloch, veral bekend om sy studie The Principle of Hope. Ten minste word pessimiste nie so hulpeloos onverhoeds betrap deur foute en katastrofes nie. Maar Bloch was nie so swartgallig soos dit dalk klink nie. Hy is juis bekend om sy werk oor hoop, wat volgens hom anders werk as optimisme. Hoop kyk probleme vierkant in die oë, maar word nie daardeur lamgelê nie. Dit is wel gevaarlik om te hoop, want hoop kan verkeerd wees en verpletter word.

Dit is wel gevaarlik om te hoop.

Onder Bloch se invloed skryf Rebecca Solnit in Hope in the Dark dat dit ’n dobbelspel is om te hoop. Dit is om ’n weddenskap op die toekoms te plaas. Dit is die wilsbesluit om te glo dat ’n beter toekoms moontlik is, al word dit nie belowe nie en al is dit nie gewaarborg nie.

Met die filosowe van hoop in my hart en Johnny Nash se liedjie in my ore dwaal my gedagtes ten slotte ook na Nash se naamgenoot, die Nobelprys-bekroonde ekonoom John Nash. Nash het ná die verwerwing van sy doktorsgraad in wiskunde so erg skisofrenies geraak dat sy vrou, Alicia, hom in ’n psigiatriekliniek laat opsluit het. Sy het van hom geskei, maar nie ophou glo in hom nie. Ná ’n dekade van hel waarin sy lewe uitmekaar geval het, het Alicia hom teruggeneem in haar huis om vir hom te sorg. Met haar steun en beter medikasie het hy sodanig herstel dat hy weer kon werk.

Danksy A Beautiful Mind, die Oscar-bekroonde fliek oor sy lewe, is die res van die verhaal redelik bekend. Hy het ophou glo dat ruimtewesens hom wil ontvoer en in 1994 is hy bekroon met die Nobelprys vir ekonomie. In sy aanvaardingstoespraak het hy gepraat oor die verband tussen psigose en kreatiwiteit. Hy het voortborduur oor Zarathoestra, wat in die sesde eeu voor Christus ’n godsdiens geskep het wat om die aanbidding van vuur gewentel het (Zoroastrianisme).

Sy punt was dat daar in elke eeu mense is wat volgens sommige mal is en volgens ander geniaal. Die grens is nie altyd duidelik nie.

Daardie vreemde toespraak was ’n mooi einde vir sy vreemde verhaal, maar as ék die fliek gemaak het, was dit ’n musiekspel en het John Nash losgebars en Johnny Nash se liedjie begin sing: “I can see clearly now the rain has gone / I can see all obstacles in my way / Gone are the dark clouds that had me blind.”

Dit is immers twee Jannemanne wat mens weer laat glo in hoop, daardie slimmer sussie van optimisme.

Meer oor:  Sonja Loots  |  Skuinskyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.