Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Pleidooie teen skrikbewind van studente – hier en in VSA

Prof. Mamokgethi Phakeng, visekanselier van die Universiteit van Kaapstad (UK), het ’n nagmerrieweek agter die rug. Buiten vir skok en verdriet oor die selfdood van haar vriend en kollega prof. Bongani Mayosi, moes sy die vurige woede verduur van ekstremistiese studenteleiers van die sogenaamde Fallist-beweging.

Phakeng se “sonde” was dat sy gesê het studente se optrede teenoor Mayosi tydens die 2016-’17-protesoptogte het tot sy depressie bygedra. Volgens haar was hy gebroke dat swart protesteerders hom ’n coconut genoem het.

Sy het gesê sy bekommer haar oor die geestesgesondheid van ander lede van die universiteitsgemeenskap in die nadraai van die protesbeweging, want uit vrees vir verbale aanvalle het sommige bang geraak om oor hul gevoelens te praat. Sy glo in die belangrikheid van aktivisme en protes, maar meen die stryd vir die aftakeling van stelsels van onderdrukking behoort nie mense te benadeel nie.

Die reaksie van studente-ekstremiste soos Chumani Maxwele, asook Mohammed Abdulla se aandrang dat sy studente om verskoning moet vra, was ’n duidelike geval van “the left turning on its own”, ’n frase wat TheNew York Times gebruik het in beriggewing oor die storm wat losgebars het om die kop van prof. Bret Weinstein by die Evergreen State College in Washington.

Op die oog af is Weinstein, ’n wit Amerikaanse man, en Phakeng, ’n swart Suid-Afrikaanse vrou, baie verskillend. Albei is egter voorstanders van diversiteit, gelykheid en insluiting in die akademie.

Weinstein se voorbehoude oor gedwonge rasse-segregrasie het daarop uitgeloop dat sy veiligheid op die kampus so erg in die gedrang gekom het dat hy moes bedank.

Daar is ook noue ooreenkomste in hoe hulle geteiken word deur ekstremiste in die linkse of progressiewe groeperings waartoe hulle self behoort.

Weinstein, wat homself as “diep progressief” identifiseer, Bernie Sanders ondersteun het en ’n uitgesproke ondersteuner van die Occupy Wall Street-beweging was, het in die oog van die storm beland toe swart studente besluit het dat wit studente, dosente en personeel ’n dag lank van die Evergreen-kampus moet wegbly.

Weinstein se voorbehoude oor gedwonge rasse-segregrasie het daarop uitgeloop dat sy veiligheid op die kampus so erg in die gedrang gekom het dat hy moes bedank.

Die herrie wat Weinstein sy werk gekos het, herinner aan die onlangse besluit van UK-studente dat wit mense nie welkom sou wees by aandetes van ’n winterskool-program op dié kampus nie. Volgens Ciaran Heywood, een van die organiseerders, was wit mense se afwesigheid by die aandetes “prysenswaardig”.

Phakeng het egter die studente se besluit “vreemd” genoem. “In ’n omgewing wat transformatief wil wees, wil jy juis mense van verskillende rasse lok en dit werk nie uit as jy sekere dele sonder verduideliking uitsluit nie,” het sy volgens berigte gesê.

Dit is duidelik dat Phakeng se toekoms, en die toekoms van haar universiteit, bepaal gaan word deur haar houding jeens die soort rolspelers wat hier, soos op Amerikaanse universiteitskampusse, van mense en groepe selfsensuur verwag indien hulle verlammende stigmatisering en die vernietiging van hul loopbane wil vryspring.

Weinstein noem dit die “gepeupel” (mobs): Groeperings wat nie gelykheid wil bewerkstellig nie, maar ’n nuwe rasse-hiërargie om mag en beheer in te palm.

Die bordjies word bloot verhang en as deel van so ’n siniese magsgreep sneuwel die beginsel dat mense op die inhoud van hul karakter beoordeel moet word, eerder as op grond van hul velkleur, geslag of seksuele oriëntasie.

“Take back the left,” is een van die slagspreuke wat Weinstein gebruik in sy pleidooie teen die skrikbewind van fascistiese, magshonger ekstremiste op universiteitskampusse – en dit lyk asof Phakeng goed daarin slaag om vir medemenslikheid en redelikheid te pleit sonder om te vergeet van haar verantwoordelikheid om swart studente te inspireer en op te hef.

Dit is nie iets waarvoor enigiemand om verskoning hoef te vra nie.

Meer oor:  Sonja Loots  |  Skuinskyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.