Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Raskaart speel so voorspelbaar soos kuddedraf
Foto:

Dit is ’n strelende naggeluid tipies van die tye waarin ons leef: Die sagte “klik” wat mens heel eerste hoor wanneer die elektrisiteit weer aangaan ná ’n middernagtelike beurtkragonderbreking.

In die sekondes daarna hoor jy deur jou slaapwaas hoe die toestelle en masjiene in jou huis weer saggies begin biep en brom en jy rol tevrede in jou kooi om. Dinge is effens beter as wat dit was, weet jy.

Min of meer so voel mens oor die nuus dat André de Ruyter van Eskom in ’n onafhanklike ondersoek vrygespreek is op bewerings van rassisme en magsmisbruik.

Toe Solly Tshitangano, voormalige verkrygingshoof, met sy opportunistiese twakstorietjies gekom het, was dit ’n ope vraag wat sou gebeur. Die land se geskiedenis van rassisme en die feit dat rassisme geensins tot die verlede behoort nie, skep vrugbare teelaarde vir Tshitangano se taktiek. Dit is moeilik vir iemand soos De Ruyter om te protesteer sonder om hom skuldig te maak, of te lyk of hy hom skuldig maak, aan die procédés van historiese blindheid wat die sielkundige dr. Wahbie Long so priemend analiseer in Nation on the Couch: Inside South Africa’s Mind.

Die ongelukkige gevolg van ons kollektiewe letsels en donker politieke onbewuste is dat Tshitangano nie die eerste of die laaste skuldige mamparra is wat op siniese wyse die rassekaart speel om sy bas te red nie. In te veel werkplekke is daar skelms of luiaards wat dit as ’n gerieflike dekmantel, wapen, pantser of afskrikmiddel gebruik. Baie bestuurders sal eerder hul mond hou en anderpad kyk as om die risiko te loop om as rassiste gebrandmerk te word. Flagrante vergrype en versuim word sienderoë toegelaat omdat die aptyt ontbreek vir dissiplinêre stappe wat voorspelbaar ontspoor of uitrafel sodra rassisme-beskuldigings as verweer ingespan word. Duimsuigbeskuldigings oor rassisme boemerang selde so skouspelagtig soos met die bevindings van adv. Ishmael Semenya oor Tshitangano. Die uitspraak is verfrissend omdat dit die onregverdige uitkoms wat baie verwag het op sy kop keer. Dit gebeur boonop terwyl opinies, besluite, uitsprake en standpunte wat teen die stroom beur al hoe skaarser raak.

Dit is miskien die grootste luukse wat daar is: Die vermoë en durf om weloorwoë en kundige standpunte te huldig wat anders klink as die konsensusmening.

In Business Day se Wanted-tydskrif, gemik op die mark vir luukse goedere, lees ek ’n onderhoud met Menzi Mbatha van Greystreet Capital. Hy gesels oor sy liefde vir Apple-produkte, die Yamaha Disklavier Enspire wat hy present gekry het, sy Panerai Luminor Marina 44 mm-horlosie en die 1970’s-model Tudor Submariner waarop hy sy oog het; oor sy familieplaas en sy Paul Smith-pajamas en die Ferrari Scaglietti wat hy wil koop en sy bewondering vir die rubrieke van “Oom JP”.

“Elke kwartaal skryf JP Landman ’n politieke analisestuk vir Nedbank Private Wealth. Keer op keer styg hy uit bo die heersende pessimisme en demonstreer hy vlytig waarom ons positief moet bly oor die vooruitsigte van ons land,” verduidelik Mbatha.

Ek het eers gedink dit is snaaks dat Mbatha die rubrieke van JP Landman in dieselfde asem noem as soveel luukshede, maar hoe meer ek daaraan dink hoe meer gepas is dit. Dit is miskien die grootste luukse wat daar is: Die vermoë en durf om weloorwoë en kundige standpunte te huldig wat anders klink as die konsensusmening. Bykans so uitsonderlik soos om ’n kobaltblou Ferrari Scaglietti in jou motorhuis te kan parkeer.

Een van die min onlangse voorbeelde is die menseregteprokeur Richard Spoor se Twitter-aankondiging dat hy oudpres. Jacob Zuma gratis sal verteenwoordig omdat hy meen die staat se saak is swak. Spoor is geen staatskaper of Zuma-apologeet nie en Zuma het, terloops, sy aanbod van die hand gewys. Belangrik is egter dat Spoor almal herinner het aan ’n etiese hoeksteen van sy beroep: die reg op ’n regverdige verhoor.

Die moddergooiery wat op sy twiet gevolg het, was morsig, maar Spoor lyk soos iemand wat weet dat moddergooiery nie die ergste is wat jou kan oorkom nie. Miskien ken hy ook daardie ou Nederlandse spreekwoord oor die kuddediere: “Als je achter de kudde aanloopt, loop je altijd door de stront.”

Meer oor:  Richard Spoor  |  Sonja Loots  |  Skuinskyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.