SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Respek vir vroue vuishou op ’n slag . . . Grappig?

Waar was Suid-Afrikaanse seuns die afgelope week tydens die grootskaalse ontsteltenis oor geweld teen vroue en meisies?

Baie van dié wat ek ken, was soos gewoonlik met oorfone op die kop voor hul skerms, diep in hul eie wêreld.

Om te verstaan hoe daardie wêreld lyk en klink, moet ’n mens rondsnuffel in die aanlyn wêreld van rappers, gamers, vloggers, YouTubers en Instagram-influencers om te sien waarmee ons kinders se onderontwikkelde frontale lobbe gebombardeer word.

Felix (PewDiePie) Kjellberg, die Sweedse 20-plusser met meer as ’n 100 miljoen YouTube-intekenaars, is ’n voor die hand liggende beginpunt. Die skepper van kinderagtige, hiperaktiewe, psigedeliese vlogs (’n video-dagboek) oor skynbaar oppervlakkige onderwerpe word wêreldwyd deur jongmense aanbid. Dat hy gereeld in omstredenheid gehul is, laat skynbaar sy gewildheid net verder groei.

Negatiewe publisiteit ’n paar jaar gelede nadat hy twee Indiërmans betaal het om ’n teken vas te hou waarop “Death to all Jews” geskryf staan, het gekom en gegaan. ’n Storm oor sy gebruik van ’n vieslike raspejoratief het oorgewaai.

In Maart vanjaar was ’n massamoordenaar se laaste woorde voordat hy by ’n moskee in Christchurch ingebars en dosyne mense afgemaai het: “Remember, lads, subscribe to PewDiePie.” En steeds bly PewDiePie se ondersteunersbasis groei.

Die redes vir sy sukses hou verband met die ontstellende ondeurdringbaarheid van die kultusgemeenskappe wat om hierdie soort figure gedy. PewDiePie se volgelinge noem hulself “the nine-year-old-army” (selfs al is die meeste van hulle tieners of jong mans) en verdedig hul held vuriglik teen kritiek, gewoonlik met die verweer dat sy kritici “hom nie verstaan nie”.

Ná ’n week soos die afgelope een, kan geen ouer dit egter aanvaarbaar vind dat ’n stelling soos “respecting wamen one fist at a time” afgemaak word as ’n grap nie.

Wanneer groot handelsmerke swig voor openbare druk en hul borgskappe onttrek, vind hulle doodgewoon alternatiewe inkomstestrome. Die boodskap is duidelik: As jy ’n groot genoeg legioen van ondersteuners om jou kan versamel, maak morele veroordeling deur buitestanders al hoe minder saak.

Daarom kan PewDiePie onverstoord voortgaan om woorde soos “gay”, “vertraag” en “outisties” vir speelse beledigings te gebruik. Hy sal ook aanhou om sy “weermag” volgelinge se denke oor vroue op problematiese wyse te beïnvloed.

Hy maak nie meer grappies oor verkragting nie, maar hy noem vroue steeds “b*tches” en gebruik die frase “Respect Wamen” as deel van ’n satiriese meme wat soos volg geparafraseer word:

“Let’s say your fist is respect and you punch the face of a wamen with the fist, you RESPECT WAMEN.”

In ’n vlog oor die onderwerp gebied PewDiePie sy jong volgelinge om die “sisfist” te gebruik as deel van “respecting wamen one punch at a time”. Hy volg dit onmiddellik op deur te sê dat dit ’n swak grap is, voordat hy aanbeweeg na beeldmateriaal van ’n ou man wat vertel dat mans vroue soos vuilgoed moet behandel omdat hulle daarvan hou.

Nog ’n swak grap? Onmoontlik om te sê, maar dit is onwaarskynlik dat sy nine-year-old army tred hou met die vinnige ratverwisselings en fyn onderskeide tussen erns en luim.

Om opgewerk te raak oor ’n idioot op YouTube, een van baie, is uitdagende terrein vir enige ouer. Dit maak jou potensieel ’n soortgenoot van daardie fratse in die 1980’s wat Metallica en Nirvana agteruit gespeel het en die walvisgeween as duiwelsgebede geanaliseer het.

Ná ’n week soos die afgelope een, kan geen ouer dit egter aanvaarbaar vind dat ’n stelling soos “respecting wamen one fist at a time” afgemaak word as ’n grap nie.

Die 100 miljoen jong mans wie se denke gevorm word deur ’n vrouehater soos PewDiePie sal die skare betogers wat Donderdag voor die parlement vergader het, op skouspelagtige wyse verdwerg.

Wat help dit ons maak plakkate en hou optogte as ons nie bereid is om, ook saam met ons eie seuns, te besin oor die kulturele wortels van geweldsmisdaad teen vroue nie? As ons dit nie doen nie, gaan ons nog lank bly hoor dat ons humorsin tekortskiet.

Dit is mos maar alles net ’n grap, Uyinene Mrwetyana . . . ’n Grap, Jesse Hess . . . ’n Grap, Meghan Cremer . . . ’n Grap, Lynette Volschenk. Lag julle al?

Meer oor:  Sonja Loots  |  Geweld Teen Vroue  |  Skuinskyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.