Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: SA kampusse is blind vir die Chinese perd in hul midde

Daar was lanklaas ’n beter tyd vir Suid-Afrikaanse universiteite om hul problematiese verhouding met China se berugte Confucius-instituut te heroorweeg. Die 70ste herdenking van die Volksrepubliek van China is vandeesweek gevier met ’n massiewe militêre parade en ’n toespraak waarin Xi Jinping gespog het oor die skouspelagtige ekonomiese opkoms van China.

In Hongkong het die maande lange gewelddadige protesoptogte egter gewys dat Xi se leierskap wydverspreide woede en wanhoop ontlok. Die voortslepende betogings is ’n klinkende waarskuwing vir alle instellings wat beginsels oorboord gooi in ruil vir kontantinspuitings van die Chinese regering: Selfs in China besef derduisende mense dat ekonomiese welvaart sonder vryheid bitter smaak.

Die narratief wat die Kommunistiese Party van China aan die wêreld opdis, een wat wentel om innovering en voorspoed, is invloedryk. Dit is immers ’n regering wat sinoniem is met sy onbeskaamde gebruik van daardie titaniese tweeling: propaganda en sensuur.

In die Afrikaanse media was die voormalige diplomaat Gert Grobler, dosent aan die Zhejiang Normal-Universiteit, se dweepsieke lofsang oor alles waarop China trots kan wees, die afgelope week hiervan ’n verstommend betreurenswaardige voorbeeld.

‘China is sinoniem met propaganda en sensuur.’

Skrywers, denkers, navorsers en akademici het ’n etiese plig om China se meesternarratief uit te daag deur te wys op die hoë koste wat betaal word vir ekonomiese vooruitgang sedert die kommunistiese bewindsoorname. Die wêreldwye omgewingsverwoesting en stroping van natuurlike hulpbronne wat met China se ekonomiese groei gepaardgaan, asook die verhale van korrupsie, ongelykheid en geweldige wreedheid in die diep verdeelde partystaat, moet noodwendig deel wees van die geheelbeeld.

Met goeie rede neem internasionale kommer toe oor die aanhouding van meer as ’n miljoen Moslems in die weste van die Xinjiang-streek in interneringskampe wat die regering eufemisties “beroepsopleidingsentrums” noem. En altyd moet onthou word dat China naas Turkye die land is met die meeste skrywers en joernaliste in aanhouding.

Dit is teen hierdie agtergrond dat universiteite wêreldwyd herbesin oor hul bande met die Confucius-instituut, volgens The New York Times China se “mees gedrewe poging tot beeldpoetsery”.

In Australië het die Universiteit van Queensland aangekondig dat ooreenkomste met die instituut heronderhandel word om te verseker dat die universiteit beheer hou oor kursusinhoud, aanstellings en akademiese vryheid herwin.

Dit volg nadat die National Associaton of Scholars (NAS), ’n instansie gemoeid met akademiese vryheid in Amerika, reeds geruime tyd gelede aanbeveel het dat Amerikaanse universiteite alle bande verbreek met die Confucius-instituut.

Duidelik is daar wêreldwyd ’n groeiende besef dat universiteite óf hul bande met die Confucius-instituut moet verbreek, óf strenger moet aandring op beheer oor voorgeskrewe tekste, kursusinhoud en dosente-aanstellings; dat ooreenkomste met die instituut openbaar gemaak moet word; en dat kursusse deur Confucius-dosente nie kredietdraend kan wees nie.

Nogtans ontbreek daar op sommige Suid-Afrikaanse kampusse enige bewustheid van die noodwendige bedreigings vir akademiese onafhanklikheid wat die Confucius-instituut inhou.

Dit sal ook nie deug om die Confucius-instituut te vergelyk met die werksaamhede van die Alliance Française (Frans) of Goethe-instituut (Duits) nie omdat die Chinese regering ’n perd van ’n heel ander kleur is as Westerse demokrasieë soos Frankryk en Duitsland.

Terwyl die dekolonisering van universiteite ’n modieuse gespreksonderwerp is, is dit gewoon verstommend dat koloniseringsgebare op Suid-Afrikaanse kampusse deur die Chinese regering sonder slag of stoot toegelaat word.

Meer oor:  Skuinskyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.