Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Samelewing verdien sulke ‘monsters’ van Generasie Z

Oscar Wilde het geglo dat ’n mens die gesig kry wat jy verdien. Miskien is dit ook waar dat samelewings die kinders kry wat hulle verdien.

Noemenswaardig baie kommentators het die afgelope week, in reaksie op beeldmateriaal van ’n onderwyseres wat ’n leerling aan die Kaapse meisieskool Sans Souci deur die gesig klap, gekies om die leerling en haar ma te blameer – en om sommer ook haar hele generasie en hul ouers uit te kryt. Verontwaardigend het dit opgeklink: Is daar nie een of ander liefdadigheidsorganisasie wat vir hierdie kind maniere kan skenk nie? Daai klap sou ’n spin kick bygehad het as ék die juffrou was! Die juffrou moet soema die ma oek ’n taai klap gie! Daai klein backchatting brat is tipies van haar arrogante, astrante generasie!

En een Twitter-gebruiker het sommer prontuit verklaar: Julle is besig om ’n klomp k*kke groot te maak.

Nou ja. Dié van ons wat as opvoeders werk, soos ook dié wat ouers is, weet Generasie Z is nie engeltjies is nie. Kinders wat tussen 1995 en 2012 gebore is, trek dwars en kla en betwis en bevraagteken soos hul voorgangers dit nooit as te nimmer sou waag nie. Hulle is uitmergelend en onmoontlik en beproef ’n mens tot die absolute uiterste toe. Hul aggressie en gebrek aan respek is verstommend.

Navorsing wys hulle is die vetste generasie nog, en dui selfs daarop dat hul gemiddelde IK laer is as vorige generasies s’n. Hulle lees nie, kan nie skryf of spel nie en is so baie op hul fone dat ons net die bokant van hul koppe sien. As hulle by jou huis instap, vra hulle eers die WiFi-wagwoord voordat hulle (dalk) vra hoe dit gaan. Hulle neem langer om groot te word as vorige generasies en behaal teen ’n vertraagde pas die tradisionele ontwikkelingsmylpale van volwassewording (soos om rybewyse en werk te kry of uit hul ouerhuise te trek).

Ons raak almal soms siedend woedend vir die jong monsters, maar dit is byna altyd ’n fout. Daar is genoeg wat daarop dui dat hulle ons liefde en lankmoedigheid, vergifnis en geduld verdien.

Hulle is egter ook die generasie wat, soos geen ander voor hulle nie, die impak begin voel van klimaatsverandering en eko-verwoesting. Hul wêreld is een van verwoestende brande en skielike vloede, met 90% van see­voëls wat plastiek in hul maag het, en ’n insekryk wat teen ’n vinnige tempo uitsterf.

Sommige noem hulle die post-apokaliptiese generasie.

Boonop is hulle ’n getraumatiseerde generasie wat, veral in hierdie land, op talle maniere met geweld saamleef. Hulle word betas, verkrag en vermoor; hulle ken óf eerstehands óf indirek huisrooftogte en plaasmoorde en diefstal en motorkapings; hulle woon in buurte geteister deur bendes; hulle trotseer gevare in busse en treine en taxi’s op pad skool toe; hulle val in skole se puttoilette; hulle ontvang gebrekkige skoolonderig; hulle is honger, depressief, angstig en aandagafleibaar; hulle word swanger op skool of sny hulself of toon selfmoordneigings; hulle is verslaaf aan alkohol of dwelms of aanlyn-porno; hulle word deur kuberboelies en -perverte geteiken.

Hulle is eensaam, want omdat hulle veral op hul fone sosialiseer, sien hulle veel minder van hul vriende as vorige generasies. Minder as 35% word groot met ’n ma én ’n pa, en Suid-Afrika is die land waar verreweg die meeste kinders ter wêreld in ’n huis sonder ’n pa woon.

Behalwe enkelouergesinne word hulle deur oumas, anties en ouer sibbes grootgemaak. Hul land se leiers is moreel verrot en geestelike leiers is grootliks afwesig.

Volgens ’n Unisa-studie het 98% van kinders tussen 13 en 18 toegang tot die internet, maar die impak hiervan op hul brein-en seksuele ontwikkeling en geestelike en sosiale welstand is nog betreklik onbekend.

Ons raak almal soms siedend woedend vir die jong monsters, maar dit is byna altyd ’n fout. Daar is genoeg wat daarop dui dat hulle ons liefde en lankmoedigheid, vergifnis en geduld verdien.

Ironies genoeg is “sans souci” ’n Franse frase wat “kommervry” en “sonder sorge” beteken. Dit is nie waar van die lewe van enige van die meisies in die skool wat só heet nie, en ongelukkig ook nie waar van die lewe van enige van die kinders onder ons vlerke nie.

Meer oor:  Sonja Loots  |  Skuinskyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.