Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Selfverbetering oor eeue het toe stilstand bereik

Die blinde digter Homeros se liedere oor die swerftogte van Odusseus is altyd weer relevant. Vandeesweek onthou ek weer dat die Odusseia, die beginpunt van die Westerse letterkunde, aan antieke Grieke uiteengesit het hoe om gasvryheid teenoor vreemdelinge te betoon.

Keer op keer, wanneer die Middellandse See die arme Odusseus druipnat en dronkgeslaan op nog ’n onherbergsame strand uitspoeg, word hy uitermate gasvry ontvang. Op die eiland van Kalipso ontvang die nimf hom liefderyk. Wanneer hy sewe jaar later vertrek, oorlaai sy hom met gunste en gawes. Op die eiland Skeria gee die koningsdogter Nausikaä vir hom klere en ’n goue kruik vol olie om hom in te smeer. Hy word gevoed en sy hare word selfs gekam sodat sy krulle “soos die blomblaartjies van hiasinte” lyk.

Wanneer Odusseus in koning Alkinoos se paleis in die paleiskaggel gaan hurk, protesteer een van die koning se raadgewers. In my Nederlandse vertaling lui dit: “Dat is niet so best, Alkinoos, het is niet netjes, dat een gast in de as moet zitten”.

Alkinoos neem Odusseus se hand, laat hom sit op die glansende setel wat gewoonlik vir sy gunstelingseun gereserveer is, bedien keurige kos en heuningsoete wyn en besluit dat ’n feesmaal in die paleis gehou sal word ter ere van die gas.

Die vroue maak Odusseus se bed op met purper klede en laat hom in die paleis oornag: “Kom maar vreemdeling, alles is klaar, u kunt naar bed gaan.”

Hierdie lofsange van Homeros aan Xenia het die grondslag gevorm vir latere beskouings oor gasvryheid in die letterkunde en filosofie.

Dit is nie slegs die rykes wat gasvryheid betoon nie. Wanneer Odusseus uiteindelik na Ithaka terugkeer, gee die varkwagter Eumaeus hom kos en skuiling in sy hut sonder dat hy weet met wie hy te doen het. Die varkwagter redeneer “swervers en bedelaars komen van Zeus”.

Ook Odusseus se seun word met gasvryheid oorlaai. Koning Nestor weier dat Telemachus in sy skip slaap en trakteer hom ryklik in sy paleis, want ook Nestor glo die kuiergas is ’n beskermling van Zeus, die god van gasvryheid. Wanneer Telemachus die paleis besoek van Menelaos en Helena, word weer eens beklemtoon dat vreemdelinge deur die gode gestuur is en beskou moet word as gode in vermomming.

Hierdie lofsange van Homeros aan Xenia het die grondslag gevorm vir latere beskouings oor gasvryheid in die letterkunde en filosofie. Dit verklaar byvoorbeeld hoekom daar in die kloostertradisie soveel waarde aan die versorging van pelgrims en reisigers geheg is. Die ontvangs van Telemachus as seun van Odusseus en beskermling van Zeus herinner my byvoorbeeld aan Paulus se Filemonbrief in daardie ander groot bronteks van die Westerse letterkunde. Paulus stuur ’n weggeloopte slaaf terug na sy meester, maar vra dat Filemon dieselfde gasvryheid aan die slaaf betoon as wat hy aan Paulus self sou betoon het. Paulus skryf die slaaf is soos sy eie hart en derms.

In die resente filosofie is hernieude belangstelling in gasvryheid gekoppel aan debatte oor vlugtelinge en migrante. Wanneer ons in die dae van inperking oor gasvryheid dink, is dit met ander woorde teen ’n panoramiese agtergrond. Terwyl ons tans nie kuiergaste tuis mag onthaal nie, word ons gasvryheid wel op ander maniere getoets. Ons moet byvoorbeeld leer om gasvryheid te betoon teenoor die gedagte aan die dood. Dit is weliswaar ’n onwelkome gas, maar een wat ons moet herken as ’n engel wat ons lewe betekenis gee.

Minder esoteries is die dringende, letterlike nood van honger mense buite ons deure. Selfs die varkwagter in die Odusseia het geweet dat swerwers en bedelaars deur die gode gestuur word. Paulus het geweet dat so ’n swerwer soos sy eie derms is. Die mense wat vandeesweek die weldoener Peter Wagenaar se motor aan die brand gesteek het omdat hy hongeres in Seepunt voed, het dit alles vergeet. Die ganse mensdom se fynste pogings tot selfverbetering oor eeue heen bereik in sulkes ’n doodloopstraat.

Geen filosofiese of kunstradisie, geen geloof of beskawing bekend aan historici, sou anders daaroor gedink het nie. Dit is ’n daad van gruwelike, growwe barbaarsheid.

Meer oor:  Homerus  |  Sonja Loots  |  Skuinskyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.