SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Menings
Sonja Loots: Skielik verlang ek na mense in Minnesota se goeie maniere

Tydens ’n onlangse reis na die Amerikaanse Midde-Weste vergaap ek my aan die inskiklike innemendheid van elke liewe interaksie met elke liewe mens.

Dit voel of ek beland het op die stel van die Coen-broers se Fargo, wat in Minnesota en die naburige Noord-Dakota afspeel. Dié rolprent gee ’n goeie indruk van inwoners se geneigdheid tot “understatement” en vasstaande vermyding van konfrontasie of ophef. Die dokumentêr oor die verfilming van Fargo heet met goeie rede Minnesota Nice.

By Minnesota se mense hoor ek dat hulle hard werk aan hul beroemde, beleefde vriendelikheid. Hulle help hul bure sneeu skoffel as dit -4 °C buite is.

Hulle sê aanmekaar asseblief en dankie en glimlag baie. Hulle laat ander mense klaar praat. Trouens: Hulle laat ’n kort pouse om seker te maak die ander persoon is regtig klaar gepraat voordat hulle iets sê. Hulle kommunikeer sonder woede en irritasie en vloek nie in die openbaar nie (jy sal glo aangekyk word asof jy ’n baba geklap het). Inkommers leer gou om minder intens te wees. Vriendskappe ontluik stadig en daar is komplekse sosiale kodes oor hoeveel toenadering toelaatbaar is. Nuwe idees word nie in vergaderings soos ’n bloederige stuk biefstuk op die konferensielokaal ter tafel gesmyt nie, maar lank vooraf en met versigtige voetwerk in een-tot-een-gesprekke geopper.

That’s all good, right?

Nee, nie altyd nie. “Minnesota nice rhymes with Minnesota ice,” reken ’n Über-taxidrywer. Hy glo dit is ’n manier om mense op hul plek te hou, ’n verskoning om passief-aggressief te wees.

Self begin ook ek mettertyd agterkom dat geweldig hoflike mense uitputtend is. Omdat hulle nooit direk is nie, moet jy soos ’n private speurder kodes ontsyfer. Die gedwonge geselsiesmakery wat as goeie maniere deurgaan, kan ook ’n beproewing wees.

Hulle sê asseblief en dankie en glimlag baie.

So gaan kyk ek tydens my besoek saam met my gashere na ’n paar huise wat te koop is, maar Min­neapolis se eiendomsagente is so vol praatjies dat ek op ’n keer onderlangs in ongeduldige Afrikaans brom ek wens hulle wil net shut-up en vir my die huise wys en klaarkry. “Ons bou nou eers verhoudings,” word ek fluisterend vermaan.

Teen die tyd dat ek na Suid-Afrika terugkeer, sien ek effens uit na die Suid-Afrikaanse manier van doen: Skaamtelose stootskrapergedrag en renosterstorm-

maniere.

Maar net totdat ek kort voor middernag, tranerig moeg en vlugvoos, gehawend en gedisoriënteerd, ná ’n lang tougewag te staan kom voor iets wat in voorkoms en gedrag pure tarantula is. Sonder ’n woord sit die nors staatsamptenaar daar in haar goggagrot: die hokkie waar ek my paspoort moet laat stempel en verwelkomende professionaliteit sou verwag. Haar kop en borsstuk hang skuins oor die toonbank en haar monddele klap hard op mekaar.

Nog besig om die laaste stukke van haar ma op te vreet, dag ek, voordat ek sien dit is ’n stuk kougom wat sy so heen en weer van kies tot kies slinger. Sy het ’n styfgespande gordel tot op die uiterste beproef om haar bolvormige agterlyf af te snoer en laasgenoemde rus loom op die stoel.

Sy groet nie, glimlag nie, maak nie praatjies nie, skud nie poot nie. Gluur net en steek lui een van haar tasters in die rigting van my paspoort, stempel dit so stadig as moontlik om onnodige uitputting te vermy en slingerskuif dit minagtend terug in my rigting terwyl haar mandibels bly maal en maal en maal.

Ek wiel my tas ’n paar meter weg voordat ek verbysterd en verdrietig op die lughaweteëls vassteek. As ek kon, het ek net daar omgedraai en teruggegaan na die plek waar mense weet hoe om hulle te gedra. Maar helaas: Ek sit al weer pens en pootjies vasgespin.

* Dr. Sonja Loots doseer Afrikaans- en Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van Kaapstad.

Meer oor:  Skuinskyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.