Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Smeulende skade van die mensdom se gebrek aan voel
Foto:

“Moeder is vandag dood. Of dalk gister, ek is nie seker nie.”

So lui die openingsin van Albert Camus se roman Die buitestaander (deur Jan Rabie in Afrikaans vertaal). Aan die woord is Meursault, een van die mees apatiese karakters in die Westerse letterkunde. Nie net toon hy ’n onrusbarende gebrek aan verdriet of ontsteltenis oor sy ma se afsterwe nie; hy staan afgetrokke teenoor alles en almal om hom.

Dit is juis sy afstandelikheid en gebrek aan emosie wat mettertyd tot sy ondergang lei. Hy verseker sy minnares dat hy haar nie liefhet nie. Hy help ’n koppelaar om ’n niksvermoedende vrou in ’n lokval te lei sodat sy wreed aangerand kan word. Nadat Meursault later sonder motief of goeie rede ’n vreemdeling op ’n strand vermoor, toon hy geen berou nie. Selfs in die hof en wanneer hy ter dood veroordeel word, bly hy afstandelik.

Camus se uitbeelding van ’n man in die greep van doodse, verlammende apatie is onthutsend. Die afwesigheid van selfs die geringste teken van passie, empatie, belangstelling of besorgdheid by Meursault saai verwoesting in sy eie lewe – en dié van ander mense om hom.

Die boek spook by mens elke keer as jy opnuut besef: Daar is baie Meursaults in die wêreld.

T

In so ’n situasie is dit duidelik dat apatie nie dieselfde as luiheid is nie.

oe die Universiteit van Kaapstad se Jagger-biblioteek en leeskamer onlangs afgebrand het, was daar wydverspreide skok en ontsteltenis. Terselfdertyd was daar schadenfreude van kritici wat nie kan of wil begryp dat argumente oor kolonialiteit onvanpas is vir ’n Afrikastudies-biblioteek waar inheemse kennismateriaal geberg is nie. En dan was daar die siniese maneuvers in daardie skemersone waar selfs belese, gesofistikeerde mense wat van beter weet, onverskillig gereageer het. Teenoor diegene wat betrokke geraak het om te probeer red wat te redde is, wat steeds volgehoue worstel met die rampspoedige gebeure en daaroor bly treur, staan dié skouerophalendes.

Dit was selfs waar van sommige alumni, akademici en studente, mense met ’n direkte belang by die rampspoedige gebeure wat enorme intellektuele verliese versinnebeeld het. Hulle het miskien ’n gepaste geluidjie of twee gemaak, maar dan goedsmoeds aangegaan met hul lewe en gewone dagtakies asof niks skort nie.

In so ’n situasie is dit duidelik dat apatie nie dieselfde as luiheid is nie. Die woord beteken letterlik “sonder om te voel”. Dit is die lamheid van mense wat weet dat iets belangriks ontbreek, maar wat nie die dryfkrag het om dit na te streef nie. Dit is die afwesigheid van dwingende emosie om betekenisvolle optrede te rig.

Apatiese mense kan aan hul passiwiteit uitgeken word. Hulle gee net nie genoeg om nie. Hulle gee nie om dat hulle nie omgee nie.

Daar is al opgemerk dat apatie dikwels deel uitmaak van skisofrenie, parkinson-siekte, progressiewe supranukleêre verlamming, huntington-siekte, alzheimersiekte, vaskulêre demensie, frontotemporale demensie, ernstige depressie en bipolêre versteuring.

“It’s a disease,” skryf Richard Yates oor apatie in Revolutionary Road. “Nobody thinks or feels or cares anymore; nobody gets excited or believes in anything except their own comfortable little goddamn mediocrity.”

Elie Wiesel, wat die Jodeslagting en ’n Nazi-konsentrasiekamp oorleef het, het apatie of onverskilligheid beskryf as die teenoorgestelde van liefde, kuns, geloof en van die lewe self.

Op sý beurt het die 18de eeuse historikus Alexander Tytler apatie uitgesonder as die sewende van nege fases wat tipies is van beskawings wat tot niet gaan.

Apatiese mense het ophou glo in die intrinsieke waarde van die doelwitte wat hulle vroeër vir hulself gestel het, of het vertroue verloor in hul vermoë om hierdie doelwitte te bereik. Omdat ’n vlam in hulle doodgegaan het, verteenwoordig hulle ’n donker wêreld.

Byna net so tragies as die biblioteekbrand is dit dat daar, terwyl die boeke en manuskripte nog gesmeul het aan die voet van swartgebrande Tafelberg, daar in restaurante en koffiewinkels, op Facebook en Twitter, in supermarktoue en gimnasiums, mense rondgestaan het wat onbewoë en met ’n glasige blik opgemerk het: “Ons biblioteek het vandag afgebrand. Of dalk gister, ek is nie seker nie.”

Meer oor:  Sonja Loots  |  Skuinskyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.