
Foto:
Appolis Arries April.
Baartmaan Bandjies Bokbaard and Bruintjies.
Carelse
Duimpies
Goliath and Grootboom.
Daar is ’n pragtige toneel in Athol Fugard se toneelstuk Sorrows and Rejoicings oor die gevoelswaarde van name. Een van die karakters, ’n digter genaamd Dawid, blaai rond in ’n Karoodorp se telefoonboek. Hy maak daar en dan ’n stuk poësie van dit wat hy vind, al met die alfabet langs:
January Japhta Julies and Jantjies
Kleinbooi
Malgas Muggels and Meintjies
November
Plaatjies Persensie
Hierdie soort name moet mens op jou tong rondrol, verduidelik hy vir sy gespreksgenoot. Hulle smaak soos die Karoo. Soos soet water en droë stof.
As jy lank genoeg met die naam “Arries” in jou mond rondspeel, hoor jy die fluistering van verligting wanneer ’n briesie die blare van die bloekomboom aan die einde van ’n warm dag laat ritsel.
Sambok September Stuurman
Vaaltyn Voetpad Vetbooi
Witbooi
Daar eindig sy lys.
Hy mymer dat “Vaaltyn” ’n naam is wat die grys brosheid van die veld in die middel van knellende droogte oproep. En Marta Barends se naam smaak vir hom soos warm bruin brood en doringboomheuning. Die toneel raak ten slotte triestig, omdat Dawid aanvoel dat hierdie name soos stof wegwaai. Hy haal aan uit Eugène Marais se gedig “Die Lied van Suid-Afrika”, waarin Marais die land karakteriseer as kil en onverskillig teenoor die mense wat hier ten gronde gaan en vergete raak.
As jy dit regkry is dit musiek.
Dit is natuurlik die afgelope week se nuus oor die naamsveranderings in die Oos-Kaap wat my aan hierdie Fugard-toneel herinner het.
Die stad Port Elizabeth word nou Gqeberha, Oos-Londen se lughawe heet voortaan Koning Phalo en King William’s Town se nuwe naam is Qonce.
Daardie Xhosa-klieks aan die begin van “Gqeberha” en “Qonce” is nie maklik vir ’n Afrikaanssprekende nie, maar as mens dit eers regkry is dit pure musiek.
Ook klinkende is die feit dat ’n lughawe wat eens genoem was na dr. H.F. Verwoerd en meer onlangs as die Port Elizabeth-lughawe bekend gestaan het, herdoop is na die Hoofman Dawid Stuurman- lughawe.
Stuurman se van kom voor in Fugard se naamlied en dié Khoisan-ikoon is boonop een van die figure wat altyd voor mens opdoem by die lees van Marais se “Lied van Suid-Afrika”:
Tien male moes hulle veg vir my.
Tien male moes hulle kerm en stoei,
Tien male in die stof gebrei,
Tien male opstaan weer en bloei.
Gaan lees gerus oor sy veelbewoë lewe.
Stuurman is weg by die plaas waar hy gewerk het nadat die boer hom genadeloos met ’n sweep gelooi, sy wonde met sout ingevryf en hom in die son gelos het om te ly.
Daarna is hy drie keer Robbeneiland toe gestuur omdat hy hom teen die koloniale regerings van sy tyd verset het. Twee keer het hy ontsnap, maar op die ou end is hy na Australië gestuur, waar hy as banneling dood is. Sy oorskot kon nie gerepatrieer word nie, omdat dit in ’n massagraf beland het.
“Ek adem nooit hul name meer,” lui een van die ander versreëls uit Marais se gedig. Ten minste is dit nie meer waar vir Stuurman nie. Hierdie naamsverandering is een wat sin maak. Stuurman se lewe is gekenmerk deur aankoms en vertrek, gedwonge swerftogte en ’n reis waarvan hy nooit sou terugkeer nie.
Dit is gepas dat juis ’n lughawe na hom genoem word, want op dié manier kom hy tuis en word gekeer dat nog ’n Oos-Kaapse naam soos stof wegwaai.