Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Steek ’n kers op vir die honger en bang skares
Sonja Loots

Terwyl bykans die ganse mensdom op hul eie of in klein, intieme kringe van ander afgesonder is, verlang ek intens na die drukte en wemeling van ’n skare mense. Die verlange is nie vol fiemies nie, eerder ’n vae newel: Alle herinnerings aan volgepakte teaterouditoriums, sportstadions, lesingsale, vliegtuie of winkels is meteens kosbaar. Ek is lus vir toestromings na strande, krioelende mierneste mense in roomyswinkels, ’n gestamp en gestoot tydens protesoptogte, die geskuifel in ’n styfgepakte kerkbank, die wedywering vir die kroegman se aandag onder ’n trop drinkers wat langs ’n kroegtoonbank saambondel, en norrings kinders wat op speelgronde swetterjoel.

Daarom verdiep ek my in een van die boeiendste beskrywings van skares in die Westerse letterkunde. In al die Evangelies, maar veral in Markus, is die beskrywings van “die menigte rondom Jesus” so prominent dat die skare een van die hoofkarakters in die verhaal raak. Van alle kante af het hulle na hom gekom, lees ons. Hulle oorval hom, druk van alle kante teen hom vas, probeer aan sy kleed raak en stroom na waar hy gelykenisse vertel en wonderwerke doen.

In Kapernaum was daar só ’n groot samedromming dat die dissipels nie ’n verlamde man by die deur kon indra van die huis waar Jesus was nie. Hulle moes ’n opening in die dak maak en die man op sy draagbaar daardeur laat afsak. Wanneer mense van Galilea, Judea, Jerusalem en Idumea, van oorkant die Jordaan en van rondom Tirus en Sidon aangestroom kom, raak die gedrang so groot dat Jesus op ’n skuit uitvaar “sodat die mense Hom nie vertrap nie”.

Jesus het hulle jammer gekry omdat hulle “soos skape sonder ’n herder was”. En omdat hulle honger was.

En wat ’n gekwelde, sieklike spul was die spul Galileërs nie. Onder hulle is daar die besetenes van Kapernaum en Gadara, ’n man met ’n gebreklike hand, ’n melaatse, die vrou met bloedvloeiing, die siek dogtertjie van Jaïrus en die blinde bedelaar Bartimeus.

Vandag weet ons dat mense in die eerste-eeuse Mediterreense wêreld inderdaad deurspek was met siektes. Akademici reken alle ouer mense het gely aan tandverrotting en osteoartritiese kwale. Met hoes, anemie, masels, verkoue, oogkwale en tuberkulose moes jy maar saamleef. Oogsere en katarakke was baie algemeen. Parasiete ook. Meer as die helfte van kamme en haarversiersels wat opgegrawe is dra duidelike getuienis van luis-infestasies. Uit fekale oorblyfsels kan afgelei word dat dit gewemel het van ingewandsparasiete soos lintwurms.

Luidens navorsing het baie van die mense wat nadergestap het om meer uit te vind oor Jesus, waarskynlik swaar geloop. Onbehoorlike spalkings het gesorg dat gebreekte enkels, bene, arms en handbeentjies op alledaagse wyse liggame misvorm het. As mens inreken dat die lewe vir hulle kort en uitsigloos was, is dit verstaanbaar waarom die Unisa-akademikus P.J. Botha in ’n vakartikel oor die skares in Markus die menigtes om Jesus beskryf as “krom, honger, siek, en pessimisties”.

Jesus het hulle jammer gekry omdat hulle “soos skape sonder ’n herder was”. En omdat hulle honger was. By twee geleenthede was daar veel meer mense as kos. Toe Jesus 5 000 met vyf brode en twee visse, en later 4 000 met sewe brode en ’n paar vissies voed, het die skare op meer as een manier uit sy hand geëet. Maar almal wat die verhaal ken, weet dat die menigte hom verloën het. Die skare wat deur hom genees en gevoed is, bespot hom, slaan hom, spoeg op hom en vra Pilatus om eerder die nikswerd Barrabas as vir Jesus vry te laat.

In die wêreld van die evangelieskrywer(s) is die skare dus ’n ambivalente beeld. In die wêreld soos ons hom op hierdie Paassondag vind, is dit weer so. Die sorgelose, gesonde, plesierige skares waarna ons verlang, behoort voorlopig tot die verlede.

Hierdie Paasfees is soos geen ander nie: Ons gedenk dit een-een, of saam met ons heel naastes, terwyl ons ’n kers opsteek vir die arm, honger en bang skares van nóú, met hordes van hulle so siek soos die Galileërs van ouds, al is dit op ’n heel ander manier.

Meer oor:  Sonja Loots  |  Skuinskyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.