Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Te veel skool nie goed vir jou, sê vakbonde

Wanneer kinders uiteindelik môre weer begin skoolgaan, begin hulle met ’n enorme agterstand. Terwyl staatskole in opdrag van die regering gesluit gebly het, het private skole óf vroeg in die jaar oopgemaak óf aanlyn begin klasgee.

Die leerlinge in private skole het dus al ’n magdom werk gedoen, terwyl kinders in staatskole net verder agteruitboer.

Die twee weke van niksdoen wat agter die rug lê, kom natuurlik nadat ontsettend baie leertyd verlede jaar verloor is. Terwyl private skole en hul leerlinge toegerus was om aanlyn te funksioneer, kon slegs uitsonderlike staatskole dit laat werk.

Dit is steeds die geval. ’n Peiling deur die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) toon dat minder as die helfte van skole daartoe in staat is om aanlyn voort te gaan. Regeringsplanne om alle skole van breëband-internet te voorsien, klink vergesog as mens in ag neem daar is steeds skole met puttoilette. Staatskole open dus môre met die seker wete tyd het verlore gegaan en dit kan later in die jaar weer gebeur. Dit is duidelik nóú die tyd om soveel moontlik gedoen te kry. Dit is dwingend en dringend dat skole heropen.

Behalwe dat ons kinders moet lees en skryf en somme maak, is die oopmaak van skole ook in ’n breër sin goed vir hul welstand. Dié standpunt word onderskryf deur die Suid-Afrikaanse Pediatrievereniging, wat meen om kinders langer uit die skool te hou het ’n slegte uitwerking op onderwys, voeding, geestes- en fisieke gesondheid. Dit klink maklik en voor die hand liggend: Vee ’n slag die slaap uit die oë en begin werk. Daar is baie om te doen.

Maar wag ’n bietjie. Reeds het minstens twee vakbonde die afgelope week begin kerm oor die skoolkalender nie genoeg voorsiening maak vir vakansies nie. Boonop moet ons lees dat 43,7% van SAOU-lede sê hulle sal weier om ingeënt te word teen die koronavirus.

Dit is verstaanbaar dat ons vies is omdat ons vir Januarie skoolfonds moet betaal al was daar geen skool nie.

Kan jy nou meer. Die voorreg om nog ’n werk te hê en boonop uitgesonder te word vir vroeë inenting beteken skynbaar vir hierdie lui skorriemorries net mooi niks. En dit is die mense wat ons kinders moet help opvoed! Dit is geen wonder die ouers van kinders in staatskole raak moedeloos nie.

Pandemie-komplikasies het ’n ongenaakbare lig geskyn op bestaande gebreke. Die gevolge van jare lange onderbesteding en wanbestuur is duideliker as ooit tevore. Die al groter wordende gaping tussen staatskole en private skole is onrusbarend en die halsstarrigheid van vakbonde net nóg ’n meulsteen om die nek.

Natuurlik begin ouers wonder of hul kinders in staatskole in die steek gelaat word. Dit is verstaanbaar dat ons vies is omdat ons vir Januarie skoolfonds moet betaal al was daar geen skool nie; omdat skoolgeld onveranderd bly al gaan talle kinders slegs elke tweede dag skool; en met weinig sprake meer van skoolsport en kultuuraktiwiteite.

Die SAOU het reeds alarm gemaak omdat meer as ’n derde van skole aangedui het dat minder as 15% van ouers skoolgeld vir Januarie betaal het. Na regte moes daar regeringsfinansiering gewees het om skole oor hierdie bult te help, want dit is geen verrassing nie dat platsak en keelvol ouers vasskop oor hierdie kwessie.

Wat nié gaan help nie is die maatreëls waarvoor Equal Education, ’n liggaam wat hom beywer vir gelyke geleenthede vir ál die kinders in Suid-Afrika, nou pleit. In ’n ope brief aan die president en onderwysminister spreek hulle die afgelope week hul kommer uit oor al die sake hierbo genoem, maar vra dan dat die regering groter beheer oor private skole uitoefen sodat hulle nie so ’n groot voorsprong oor staatskole opbou nie.

’n Mens kan net jou kop skud. Die oplossing vir die groeiende gaping tussen private skole en staatskole kan onmoontlik wees om met regulering te sorg dat eersgenoemde met dieselfde slakkegang beweeg as laasgenoemde. Kom ons sorg eerder dat ons staatskole die mas opkom.

Die reg op ordentlike onderwys is immers ons kinders se grondwetlike reg, nie ’n voorreg gereserveer vir die klein groep wie se ouers private onderrig kan bekostig nie.

Meer oor:  Sonja Loots  |  Skuinskyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.