Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Tetris-speletjie is metafoor vir Eskom en die lewe self

Dit is die soort ding waarvoor daar skielik tyd is wanneer die krag oor die feestyd afklik en ’n beskuldigende stilte oor jou deurmekaar kasarm neerdaal: Die Groot Skoonmaak, die ruk-en-rol-regpak en die wild-en-wakker uitsorteerdery van alles wat slonserig is.

Genugtig, wánneer laas was iemand in hierdie kaste, raas en blaas jy terwyl jy begin oopgooi en uitgooi. Die vergeelde koerante waarmee die rakke gevoer is, verklap dat daar inderdaad ’n hele aantal jare verstryk het sedert die laaste Operasie Orden.

Die koerante dateer uit Februarie en Maart 2016. Daar is talle berigte oor beurtkrag, want Suid-Afrikaners was toe al uitgekuier met die voortslepende probleme waarmee ons sedert die eerste instorting van steenkoolsilo’s in November 2014 te kampe gehad het. Daar het konsensus geheers dat die land nie verdere onderbrekings in elektrisiteitsvoorsiening kon bekostig nie.

Gelukkig was daar sommer hope goeie nuus. Of so het ons gedink. Ons het nog nie goed besef hoe verweef die Eskom-probleme met staatskaping is nie en ons was aansienlik liggelowiger as nou. Rapport skryf in hierdie tyd oor “Eskom se sukses” en bevind dat pres. Jacob Zuma sy staatsrede-belofte om die kragkrisis op te los, gestand gedoen het. Elektrisiteitsvoorsiening is gestabiliseer en beurtkrag is “grootliks iets van die verlede”. Die einde van die kernkragverkrygingsproses, waardeur 9 600 MW by die elektrisiteitsnetwerk gevoeg sal word, is naby.

‘Jy moet werk of sterf en dan moet jy weer begin.’

In retrospek is die entoesiasme aandoenlik. Brian Molefe, destyds nog Eskom se uitvoerende hoof, verklaar dat Suid-Afrika binne vyf jaar surplus elektrisiteit sou hê. “Die surplus sal gebruik kan word om die ekonomie te laat groei of dit kan gebruik word om ’n inkomste in Amerikaanse dollar te genereer,” verseker hy. Die berig beskryf hom as “ ’n baie positiewe Molefe” en rits sy beloftes af. Wanneer die Medupi- en Kusile-kragstasie mettertyd ten volle in werking tree, sal Suid-Afrika se kragprobleme iets van die verlede wees. Dan sal die land meer as genoeg elektrisiteit hê. “Iets gruweliks sal moet verkeerd loop met ons planne voor beurtkrag weer toegepas word,” verklaar hy.

In ’n ander berig uit dieselfde tyd lees ek dat Lynne Brown, destyds minister van openbare ondernemings, die media toegespreek het oor die Ingula-hidrokragstasie in die Drakensberge. Brown het gesê Ingula se eenheid 3 is suksesvol aan die land se elektrisiteitsnetwerk gekoppel en dat al vier eenhede van die Ingula-skema teen die einde van 2016 aan die netwerk gekoppel sou wees.

Op sy beurt deel Molefe in ’n onderhoud brokkies oor hoe Eskom weer op die been gebring word. Meer instandhouding, minder dieselverbruik. Nuwe aanlegte. ’n Kapitaalinvesteringsplan om kundigheid en vaardighede te behou (daarom is die astronomiese hoë salarisse aan topbestuur geregverdig). Hy vertel voorts dat die “nuwe strategie”, die regrukplan, Operasie Tetris heet.

Met agternawysheid weet ons dat Molefe en Brown sou kom en gaan, soos vele voor en ná hulle. Ons weet dat dit met Operasie Tetris sou gaan soos dit altyd met Tetris gaan.

Die speletjie, wat in Rusland bedink is tydens die kommunistiese regime, is trouens ’n uitstekende metafoor vir die verknorsing waarin Eskom ons almal dompel.

Almal wat al ooit ure verloor het aan die rangskikking van verskillend-gevormde blokkies wat uit die plafon op jou neerreën, weet hoe dit werk. Jy kan nie wen nie en jy kan nie ophou nie. Die bedreiging van sistemiese ineenstorting wyk nooit. Foute lei tot ander foute en hulle word moeilik ongedaan gemaak. Elke klein sukses wat jy behaal, word beloon met verdere uitdagings. Jy moet werk of sterf, en dan moet jy weer begin, totdat jy weer moet begin, totdat jy weer moet begin.

Terwyl ek in die donker sit en kaste regpak, met my gedagtes by Tetris as metafoor vir Eskom en die lewe self, flikker die ligte aan. Voor my sien ek gans te duidelik die kas wat nooit aan die kant kom nie. Dis byna vier jaar later en my huis is steeds nie in orde nie. En, erger nog, Eskom s’n ook nie.

Meer oor:  Sonja Loots  |  Skuinskyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.