Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Twakpraatjies pret ná stille inperking
Sonja Loots

In die eerste episode van die nuwe seisoen van die Britse televisiereeks The Crown, wat vandeesmaand afgeskop het, is daar ’n toneel waarin Margaret Thatcher kort nadat sy in 1979 die eerste vroulike premier van Brittanje geword het, ’n skare joernaliste gesaghebbend op hul plek sit. Sy weet alte goed dat dit ’n tyd van ekonomiese en politieke onrus is, met die regering byna bankrot, werkloosheid aan’t toeneem, konflik met vakbonde en dreigemente van geweld deur die Ierse Republikeinse Leër. Daar is baie om te doen en baie om oor te redekawel, maar met ’n glimlag van staal verklaar sy uit die hoogte en langs haar neus af: “I won’t be drawn on any subject save the weather. It’s alovely day.”

Dit is ’n pragtoneel, ongeag jou opinies oor die destydse politiek van Thatcher, omdat dit deel vorm van ’n jarelange eg-Britse literêre tradisie versinnebeeld deur die “novel of manners”. Skrywers soos Jane Austen en George Eliot het in hul romans uitgebeeld hoe Britse vroue in die 19de eeu in voorkamers en op gemanikuurde grasperke, by dinees, dans- en teepartye, moes konformeer en streng konvensies van etiket moes handhaaf om sosiaal aanvaarbaar te wees. Die Thatcher-toneel is ’n inversie van die boekheldin wat kletspraatjies oor koek en tee moet verduur om ’n man of die goedkeuring van ’n sekere sosiale sirkel te kry. Dit wys hoe Thatcher small talk as wapen gebruik om haarself te laat geld.

In die werklike lewe was die ystervrou natuurlik nie iemand wat graag oor die weer, of enigiets anders, wou babbel nie. Sy het immers verkondig dat jy jou tot mans wend as jy wil hê daar moet oor iets gepraat word, en tot vroue as jy wil hê iets moet gedoen word. Sy was glo taktloos en selfs grasieloos in sosiale situasies. Praatjies maak was gewoon nie vir haar ’n prioriteit nie.

Daar is baie wat soos Thatcher voel oor small talk. Dit is mense wat meen hulle is te besig, te deftig of te diepsinnig vir klein geselsies oor niks in besonder nie. Dit is vir diesulkes dat Uber in sommige lande gebruikers toelaat om vooraf aan te dui dat die bestuurder liefs nie met hulle moet gesels nie. Dit moet hulle beveilig teen wat in Duits plauschplage genoem word: Die druk om praatjies te maak met die mense met wie jy daagliks omgaan, maar van geen adamskant ken nie.

Nadat ons almal vir soveel maande in ons huise moes bly en daar geen vreemdelinge was om mee te praat nie, het ek egter anders begin dink oor twakpraatjies. Noudat ons weer mag kom en gaan, is die klein heen-en-weerdery van vriendelike frasetjies, die gerusstellende uitruil van kloekmoedige clichés, die nederigheid en onskuld en vrolikheid van opmerkings wat nie noodwendig ontsettend slim of snaaks is nie, ’n aandoenlike manier om weer in die wêreld en aan mekaar te behoort.

Toe ek verlede naweek die eerste keer in baie maande ’n vlug moes haal vir ’n vergadering, het ek besef die soort praatjies wat my voorheen mateloos irriteer het, en wat ek gesien het as dom en dikvellig en manipulerend, is eintlik tekens dat alles klopdisselboom gaan met ons almal. Dankie tog dat ons voorlopig weer woon in ’n stukkie wêreld waar dokters en hul pasiënte, haarkappers en hul kliënte, taxibestuurders en hul passasiers en kelners en hul klante mekaar met niksseggendhede kan koester en gerusstel.

Jammer mense, maar ek was daardie vrou wat al die pad van Kaapstad na Johannesburg en terug in die Uber, in toue, in winkels en in die vliegtuig met dese en gene gesels het oor die weer, die musiek, die kos en allerhande koeitjies en kalfies. Oor diegene wat monosillabies mompel, wegkyk of iewers anders gaan sit kan mens maar net jou kop skud. Dit is dan so ’n lekker dag! En dis erg van die aardbewing in die Kaap, nè? En dankie tog ons het weer lekker reën gehad!

  • Dr. Sonja Loots doseer letterkunde aan die Universiteit van Kaapstad.
Meer oor:  Sonja Loots  |  Inperking  |  Twakpraatjies  |  Margaret Thatcher  |  The Crown
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.