Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Twee rye spore: Dopsteek, opstand immers sinoniem

Die EFF-leiers wie se leë drankbottels soveel skok en schadenfreude ontlok het, is nie die eerste of laaste revolusionêre met ’n diepe dors nie. Die ganse aardbol se geskiedenis wemel van dranksugtige vegters; en wat hulle drink, versinnebeeld reeds eeue lank hul strewes en swakhede.

Die geskiedenis van die Franse Revolusie is deurdrenk met alkohol. Op die vooraand van die opstande het elke volwasse Fransman 300 liter wyn per jaar gedrink: goedkoop bakleiwyn vir die gewone burgers en deftige cru’s uit Boergondië, Bordeaux en Champagne vir die adel. Tydens die 1789-opstande is die doeanemuur om Parys in puin gelê uit protes teen hoë belasting op wyn. Tolhekke is verwoes terwyl die brandstekers wyn gedrink het ter viering van nuwe vryhede. Tydens die revolusie het die Jakobyne en sans-cu­lottes rooiwyn gedrink, terwyl witwyn en sjampanje met die monargie en aristokrasie geasso­sieer is. Ná die revolusie het vin rouge steeds die ideale van vryheid, gelykheid en die nuwe republiek versinnebeeld.

Ook in Amerika was opstand en dopsteek sinoniem. Die Britse beslaglegging van die drankhandelaar John Hancock se skip Liberty het bygedra tot die Bostonse Teepartytjie, ’n deurslaggewende gebeurtenis in die Amerikaanse Vryheidsoorlog teen Brittanje. Voordat die Sons of Liberty koning George se tee in die hawe uitgestrooi het, was hulle in Boston se Green Dragon Tavern, waar hulle nie tee gedrink het nie. En hulle het dalk tee in die water gestrooi, maar die rum aan boord is ongetwyfeld in hul kele af.

Die Amerikaanse “founding fathers” was almal op hul eie manier bacchante. Die eerste president, George Washington, was tot sy dood een van die land se grootste whiskey-distilleerders. John Adams het elke dag voor ontbyt appelbier gedrink. Thomas Jefferson het die Amerikaanse onafhanklikheidsverklaring in ’n taverne begin skryf, en einste Hancock was een van die eerste ondertekenaars. Abraham Lincoln het whiskey verkoop voordat hy president geword het en Benjamin Franklin was die skrywer van The Drinker’s Dictionary, met meer as 200 eufemismes vir dronk wees. Oor wyn (nie oor bier soos dikwels beweer word nie), het hy verklaar: “Wyn is die bewys dat God lief is vir ons en wil hê dat ons gelukkig moet wees.”

Ons was lank genoeg buite weste.

Die probleem met die EFF-leiers is nie noodwendig dát hulle drink nie. Adolf Hitler was ’n geheelonthouer en Winston Churchill het soos ’n vis gesuip. Die probleem is hoeveel hulle drink, en veral wát hulle drink. Selfs sonder ’n graad in geskiedenis is die simboliek van sjampanje onmiskenbaar. Dit hou nie daar op nie. Die pynappel op hul leë Tanqueray-bottels is ’n simbool van bevoorregting, ’n assosiasie wat terugstrek na die 16de en 17de eeu toe slegs Europese koninklikes en adellikes dié eksotiese vrug kon bekostig. En is Meerlust, ’n plaas wat reeds agt generasies in wit besit is, nie die soort grond wat die EFF wil onteien nie? Sulke teenstrydighede laat hulle nou twee rye spore in ’n morele moeras stap.

Die EFF se kritiek op drankadvertensies is egter nie sonder meriete nie. In ’n land van armoede is advertensies wat alkohol voorhou as simbolies van finansiële sukses en sosiale status, diep onverantwoordelik.

Dit is nie net die armes wat gehelp moet word om hierdie mite te onttakel nie. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) drink byna die helfte van alle drinkers in Suid-Afrika te veel. In ’n verslag wat verlede jaar uitgereik is, gebruik die WGO ’n skaal van een tot vyf om lande se alkoholmisbruik te meet, met vyf die ergste. Slegs Rusland en Oekraïne het vyf gekry. Suid-Afrika vier. In geen ander land ter wêreld word meer kinders met fetale alkoholsindroom gebore nie; en ons is die land met die meeste padongelukke weens dronkbestuur.

“Ek het meer uit drank gehaal as drank uit my,” het Churchill glo met groot bravade verklaar. Die mense van Suid-Afrika kan dit lankal nie meer sê nie. Die EFF-leiers, en die res van ons, moet stadiger oor die klippe. Daar is werk om te doen en ons was almal lank genoeg buite weste.

Meer oor:  Sonja Loots  |  Kampsbaai  |  Skuinskyk  |  Eff
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.