Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Van Riebeeck – die man wat nie hier wou wees

Alle problemen begonnen met Van Riebeeck, heet die pasverskene boek van die Nederlandse skrywer Niels Posthumus.

Die titel is ’n direkte verwysing na oudpres. Jacob Zuma se stelling in 2015 dat al Suid-Afrika se probleme met Jan van Riebeeck se koms begin het. Dit was die vertrekpunt vir Posthumus se joernalistieke ondersoek oor ’n man wat volgens hom in Nederland gesien word as ’n voetnoot in die geskiedenis.

Die boek begin met wetenswaardighede wat hier betreklik bekend is: Dat die standbeeld van “Van Riebeeck” in Kaapstad eintlik die beeltenis is van ene Bartholomeus Vermuyden, ’n ander VOC-amptenaar. Dit is ook Vermuyden se gesig wat jare lank op banknote en posseëls gepryk het. En dat Jan nie naastenby so sag op die oog was as Bart nie.

Posthumus wys dan op ’n meer subtiele vervalsing. Die standbeeld is van ’n man wat skynbaar ontspanne en ingenome na Tafelberg kyk, op sy gemak aan die suidpunt van Afrika. Jan van Riebeeck wou egter nooit hier wees nie. Reeds in 1653, in sy eerste verslag aan die VOC, het hy gekla oor die “saaie, domme, luie en stinkende mensen” van die Kaap.

Posthumus herinner ons dat Van Riebeeck vroeër oneervol ontslaan is weens bewerings van selfverryking. Die ondankbare taak om ’n verversingspos hier op die been te bring is aan hom toegewys omdat niemand anders daarvoor kans gesien het nie. Hy was nie goewerneur nie, net “kommandeur”. Lewenslank en lank ná sy dood was hy ’n man van geringe statuur.

Anders as in Asië, Oos- en Wes-Afrika, waar daar ook voor kolonisering slawehandel plaasgevind het, was dit in die Kaap suiwer ’n Europese en meer spesifiek Nederlandse bedinksel.

Waarom dan soveel tyd en energie bestee aan navorsing oor iemand in wie Nederlanders nie belangstel nie? Die antwoord skuil in die boek se onderskrif: “Wat Nederlanders niet weten over hun rol in Zuid-Afrika.”

Verfrissend van Posthumus se benadering is die keiharde vasbeslotenheid om Nederland se aandeel vierkant in die oë te kyk. Dit is, volgens sy eie erkentenis, nie iets waarvan Nederlanders op skool as deel van die geskiedenisleerplan leer nie.

Hy illustreer uitgebreid dat, selfs al was die individu Van Riebeeck betreklik onbenullig, die gevolge van Nederlandse kolonisering enorm was.

Hy argumenteer dat die huidige kernprobleme van Suid-Afrika – rassisme, die strukturele armoede van die meerderheid van die swart bevolking, ongelyke grondbesit en die historiese traumas veroorsaak deur koloniale onderdrukking en apartheidsgeweld – inderdaad teruggevoer kan word na Van Riebeeck se koms en die begin van Nederlandse kolonisering.

Posthumus draai allermins doekies om oor Nederlandse en VOC-betrokkenheid by die slawegeskiedenis aan die suidpunt van Afrika.

Van Riebeeck het al in sy tweede week aan die VOC geskryf om slawe te bedel. In die 150 jaar daarna is ongeveer 63 000 slawe na die Kaap gebring. In die eerste dekades van die Kaapkolonie was die meeste slawe die eiendom van die VOC.

Posthumus wys trouens op ’n uniekheid van die Kaapse slawegeskiedenis. Anders as in Asië, Oos- en Wes-Afrika, waar daar ook voor kolonisering slawehandel plaasgevind het, was dit in die Kaap suiwer ’n Europese en meer spesifiek Nederlandse bedinksel.

Die swaarkry en lyding van slawe vorm dus deel van wat hy voor eie deur lê: “Onze kolonisatie van de Kaap.”

Waarom is Nederlanders nie geïnteresseerd in die postkoloniale chaos wat ons elders ter wêreld agtergelaat het nie, wonder hy tereg.

Dit is insiggewend dat die publikasie van Posthumus se boek saamval met ’n belangwekkende uitstalling oor die Nederlandse slawegeskiedenis in die Rijksmu-seum in Amsterdam.

Nederlanders raak tóg meer bereid om hul historiese self in die oë te kyk en krities om te gaan met hoe die “Goue Eeu” onthou word.

En wat moet die saaie, domme, luie en stinkende mense van Suid-Afrika maak van dit alles? My gevoel by die lees van Posthumus se boek was verligting. As ’n voormalige koloniseerder meer krities oor die verlede begin dink, lei dit noodwendig tot ruimer perspektiewe vir die eertydse gekoloniseerdes. Dit is hopelik die begin van ’n nuwe goue eeu van kenniswinste en groter insig.

Meer oor:  Jan Van Riebeeck  |  Niels Posthumus  |  Sonja Loots  |  Skuinskyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.