Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Van varkjag tot skaapslag – ’n fascis weet hy kort ’n monster

“Kill the pig, cut her throat, spill the blood!” Die rituele kreet van ’n trop besete seuns tydens varkjag-orgies in Lord of the Flies is miskien nie presies só op Clifton se strand geuiter nie, maar die gebeure rakende die skaapslagtery daar – en Andile Mngxitama se rol daarin – het nietemin sterk herinner aan William Golding se politieke allegorie.

Golding is geïnspireer deur die onheilspellende onhebbelikheid van die bedorwe klein Engelsmannetjies waarvoor hy in die 1950’s in Salisbury skoolgehou het. Hy het geglo hul oënskynlike hoflikheid maskeer ’n primitiewe wreedheid waaraan hulle uiting sal gee indien hulle ooit daartoe geleentheid sou kry. Sy roman oor ’n groep seuns wat al dieper verstrengel raak in ’n web van vrees, haat en agterdog; en die houvas van ’n magshonger klein oproermaker wat die vonke van sy volgelinge se primitiewe drifte op vreeslike wyse laat opvlam, het egter universele relevansie.

Die verhaal begin wanneer die seuns ná ’n vliegongeluk besef dat hulle gestrand is op ’n skynbaar idilliese tropiese eiland iewers in die Stille Oseaan. Daar is genoeg kos en water, maar die vlieënier het in die ongeluk omgekom en daar is geen volwassenes om orde te handhaaf nie. Die seuns behoort ruweg tot twee groepe: Dié wat hulle skaar by die demokraties verkose leier genaamd Ralph aan die een kant, en die voormalige lede van ’n seunskoor onder leiding van die broeiende Jack Merridew aan die ander kant.

Aanvanklik kom albei groepe ooreen oor demokratiese reëls vir hul nuwe samelewing en Ralph se trompetskulp word gebruik om spreekbeurte in die seuns se “parlement’’ te reguleer: Jy mag slegs praat wanneer jy die skulp in jou hand het. Merridew steur hom egter min aan reëls en verkies ’n taktiek van intimidasie en geweld. Sy pogings om Ralph as leier te onttroon misluk wel weens ’n gebrek aan steun, maar nadat van die seuns oortuig raak dat daar ’n monster op die eiland skuil, kry Merridew dit reg om homself as die hoof van ’n nuwe fascistiese orde te vestig. Hy is ’n uitgeslape manipuleerder wat in chaos gedy. Hy maak van sy koorlede ’n bende bloeddorstige jagters wat hulle in meedoënlose dierewreedheid verlustig. Die seuns se irrasionele geloof in ’n eilandgod, en Merridew se opportunistiese misbruik hiervan om mag in te palm, word deur Ralph beskryf as “the breaking up of sanity”.

’n Rituele offer aan ’n verbeelde monster.

Soos wat Merridew al hoe meer bedrewe raak in sy pogings om ander tot geweld aan te hits, sneuwel demokratiese waardes en norme een vir een. Hy verbrysel in ’n geveg die trompetskulp wat laasgenoemde versinnebeeld en onder sy invloed spoel die jag op wildevarke en die slag van varke as rituele offers aan dieeilandmonster oor in die moord op twee seuns wat sy mag bedreig. Hierdie seuns is beeldend van twee groepe wat tradisioneel fascisme probeer teenwerk: die kuns­tenaars en die intellektuele. Een van hulle is Simon, ’n kunssinnige dromer wat van meet af aan twyfel in die bestaan van die monster. Hy meen die grootste boosheid op die eiland skuil in die seuns self. “Maybe there is a monster. What I mean, is . . . Maybe it’s only us,” argumenteer hy. Maar sy boodskap gaan verlore, want hy word later in ’n uitbarsting van tropgeweld deur Merridew se jagters verskeur.

Soos op die eiland van onheil in Lord of the Flies, was daar nie regtig ’n monster op Clifton se strand nie. Daar was net ’n opportunistiese fascis wat weet dat vrees vir monsters nodig is vir leiers soos hy om te floreer. Die lede van sy koor het gretig saamgesing en boonop ’n rituele offer gebring aan ’n verbeelde monster. Slegs tyd sal leer waartoe hulle nog in staat is, want soos die Britse skoolseuns onder leiding van Merridew, is die Black First Land First-bende onder leiding van Mngxitama simbolies van “the breaking up of sanity”. Waar hulle was, los hulle net bloed, vlieë en die splinters van verbryselde trompetskulpe.

Meer oor:  Sonja Loots  |  Skuinskyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.