Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Vasstaan wyl ‘korrektes’ om jou enkels kef

Of kommer oor die koronavirus nie erg genoeg is nie, ly die mensdom toenemend aan ’n soort astrofobie.

Letterlik beteken astrofobie ’n obsessiewe vrees vir weerlig en donderweer, maar metafories herinner dit aan intense beangstheid oor die digitale donderweer wat losbars wanneer een of ander onbesonne siel hom of haar aan sogenaamde wrongspeak skuldig maak.

Iemand wat aan astrofobie ly, toon ’n buitengewone beheptheid met die weer en weervoorspellings. Hulle probeer storms vermy en indien hulle tóg in een vasgevang word, doen hulle een van twee dinge. Hulle klou aan ander vas vir beskerming of probeer in klerekaste en badkamers of onder beddens wegkruip.

Dit klink komieklik, maar dit is nietemin beskrywend van die gedrag van hordes skrywers, joernaliste en akademici wanneer nóg ’n storm oor identiteitspolitiek begin opsteek.

Nie almal het die sindroom onder lede nie. Eerder as om weg te kruip het die skrywer J.K. Rowling dapper terugbaklei teen die kosmiese geweld van die storm wat om haar kop losgebars het omdat sy die gebruik van die woord “vroue” eerder as “mense wat menstrueer” voorgestaan het in ’n twiet wat kwansuis transfobies sou wees. Dit was min of meer so dramaties soos die kragmeting tussen haar fiksieheld Harry Potter en die bose Voldemort. ’n Mengsel van oordrewe emosie, ideologiese kodewoorde, pseudowetenskaplike protestasies, vervloekings en dreigemente het uit alle oorde op haar neergedaal.

Soos Harry sal hulle waarskynlik lewenslank die merk van die weerligstraal op hul voorkop dra.

Op die ou end het sy en 150 ander bekendes in die kunswêreld, insluitende Margaret Atwood, ’n brief onderteken wat in Harper’s Magazine gepubliseer is en waarin hulle hul kommer uitspreek oor die “onverdraagsame klimaat” waarin wraak volg op uitlatings wat as “oortredings van spraak en denke” beskou word.

Dit raak volgens hulle onrusbarend algemeen dat skrywers, kunstenaars en joernaliste wat van konsensusmenings afwyk of dié menings nie met genoeg entoesiasme beaam nie, gestriem word.

Dié waarskuwing klink deesdae op van verskeie kontinente en politieke kampe.

Selfs indien mens slegs op vrouestemme fokus is dit opvallend dat vrees vir oordrewe vervolging, verdagmakery en vernedering geverbaliseer word deur “linkse” én “regse” rolspelers. Hoewel die Britse joernalis Melanie Phillips waarskynlik meer “regs” is as Rowling, is sy op soortgelyke wyse bekommerd oor die marginalisering van stemme wat afwyk van die nuwe ortodoksie. Haar bewerings oor antisemitisme en boeliegedrag deur haar liberale kollegas herinner weer sterk aan die beskuldigings van Bari Weiss ten tyde van haar bedanking as meningsredakteur van The New York Times.

Vir Weiss was dit onaanvaarbaar dat die koerant nie meer oopstaan vir die oorweging van alle vrae van openbare belang en intelligente besprekings uit alle oorde nie, maar eerder fokus op die herhaling van dieselfde geykte mores en die plaas van materiaal wat “ideologies kosjer” is.

Dié vroue verskil heelwat. Belangriker as die verskille, of selfs die argumente om elke spesifieke skermutseling, is egter die ooreenkomste tussen wat hulle te sê het en, dankie tog, nog wáág om te sê. Al drie gebruik die woord “pynlik” vir die manier waarop hulle op die slagveld van identiteitspolitiek verguis is. Soos Harry sal hulle waarskynlik lewenslank die merk van die weerligstraal op hul voorkop dra.

Natuurlik kan mens die gevaartekens ook in Suid-Afrika sien.

Rowling, Weiss en Phillips se teenhangers is mense soos prof. Glenda Gray, wat vir die regering gesê het sy inperkingsmaatreëls is onsinnig; Zetu Makamandela-Mguqulwa, wat geweier het dat haar ombudsverslag oor die Universiteit van Kaapstad se rektor in die doofpot gestop word; en prof. Nicoli Nattrass, wat kaalvuis terugbaklei teen bewerings van rassisme deur die topbestuur van haar universiteit (ook die UK).

Hierdie vroue kan nie oor dieselfde kam geskeer word nie, maar het een iets gemeen: Hulle is nie verlam deur ’n irrasionele vrees vir die bedreiging van storms oor hul ongerieflike standpunte nie. Of jy nou vír of téén hulle is: Ten minste ly hulle nie aan astrofobie nie.

Meer oor:  Sonja Loots  |  Skuinskyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.