Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: ‘Vat so, vaal mannetjie’ – dis wat vroue in Serena herken

Enige vrou met groot borste en boude, ’n flambojante uitrusting of twee in haar klerekas en die vermoë om ’n gesonde reik-wydte emosies te verwoord, en wat al saam met ’n sekere soort passief-aggressiewe vaal mannetjie gewerk het, weet intuïtief wat verlede week met Serena Williams gebeur het.

Eenvoudiger gestel: Enige vrou wat al saam met mans gewerk het, wéét.

Serena het kwaad geraak. Skouspelagtig, swetend, siedend sielswoedend, kompleet met snot en trane en ’n geskel van diep uit haar bloed en baarmoeder.

Die bleek klein aspersie vir wie sy woedend geraak het, het so te sien kalm gebly. Met hangskouertjies, knietjies bymekaar, geen haartjie uit plek nie en ’n hooggetrekte wenkbrou het hy op sy troontjie bly sit en haar uit die hoogte betrag, en dit het haar nóg kwater gemaak.

Vir die miljoene vroue wat Serena se vulkaniese uitbars­ting ná onbetwisbare oortredings van spelreëls vurig verdedig, is haar tirade en die beoordelaar se kil reaksie simbolies van ’n tipiese soort skermutseling met mans.

Wêreldwyd mis sportskrywers – waarvan die meeste natuurlik mans is – skouspelagtig die punt wanneer hulle in ellelange ontledings uiteensit hoe Serena reël twee-en-’n-half-subseksie-sewe en reël veertien-punt-ses oortree het.

’n Spel wat eindig met die vrou as verloorder.

Serena het haar gedra soos ’n gefrustreerde tennisspeler wat besig is om te verloor en die skeidsregter het hom gedra soos ’n skeidsregter.

Maar ’n gesofistikeerde gesprek oor haar woede, en die reaksie daarop, sal in ag neem dat dit ook gaan oor magswanbalanse by die kruispad van ras en gender, en oor die eeue oue stereotipering van die woedende vrou as histeries teenoor die passief-aggressiewe vaal mannetjie as redelik en rasioneel.

Die spotprent van die Australiese misoes Mark Knight is in hierdie opsig nie net rassisties nie, maar voorspelbaar chauvinisties. Met ’n fopspeen langs haar gebreekte raket word Serena as ’n groot baba uitgebeeld, tipies van die manier waarop vroue se woede, en hul maniere om aan daardie woede uiting te gee, deur mans gepolisieer, verkleineer en belaglik gemaak word.

Die persverklaring waarin die beoordelaar ná die wedstryd laat weet hy is “fine”, is ook geen verrassing nie. Natuurlik is hy “fine”. Die vaal mannetjie wat wegkruip agter die onsigbaarheid van passiewe aggressie is altyd “fine”. Hy het niks gewaag nie en niks gewys nie, maar hy kan nogtans agterna ’n slagofferposisie inneem.

Dat Serena reeds dekades lank weier om haar te laat tem, daardie dapper beduiweldheid waarmee sy haar vinger byna in die neus druk van ’n figuur wat vir haar om begrypbare redes simbolies is van die vooroordele en magswanbalanse waarteen sy al lewenslank baklei, presies dáárdie blakende, vuurwarm vegtersinstink, het van haar ’n sportlegende gemaak.

En presies daardie kant van haar maak haar ’n rolmodel vir elke vrou wat bewus is van mans se hebbelikheid om sterk vroue te straf deur hulle subtiel te ondermyn en dan as onprofessioneel te brandmerk indien hulle protesteer: te emosioneel, te veeleisend, te aggressief, te baasspelerig, te histeries. Daar is berge navorsing oor dié fenomeen en oor hoe vroue daardeur ontmagtig word.

Serena se ondersteuners kyk na die beeldmateriaal van haar en herken daarin ’n spel wat niks met tennis te doen het nie: ’n spel waarvan die reëls deur mans gemaak is en wat altyd eindig met die vrou as verloorder. Serena het opgetree soos vroue geleer word om nie op te tree nie, en terwyl sy dit doen, het sy verduidelik dat sy opstaan vir haar dogter.

In die proses het sy ook ander vroue en hul dogters ’n guns bewys. As simboliese gebaar van verset sal die beeldmateriaal van haar wat vinger swaai vir die aspersie, ten regte in miljoene huise as opvoedkundige lesmateriaal geliasseer word onder die hofie: “Vat so, vaal mannetjie.”

Meer oor:  Serena Williams  |  Skuinskyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.