Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Vir oulaas onsin uit Dlamini se mamparrapot

So dronk, dom en dikgevreet aan onverdiende voorregte is die fronsende fiasko Bathabile Dlamini – voormalige minister van skades, skandes, maatskaplike ontwikkeling en kamstig van vroue – dat sy nie eens ’n bedankingsbrief kan skryf nie.

Een sinnetjie sou genoeg gewees het. Soos Richard Nixon in 1974 in sy bedankingsbrief aan Henry Kissinger geskryf het: “I hereby resign the Office of President of the United States.” Dit was nie moeilik nie. Sy kon volstaan het met: “Koebaai, julle is eindelik ontslae van my.”

Of sy kon op ’n geskikter probeer het om wraak te neem. Soos die Goldman Sachs-fondsbestuurder Greg Smith, wat sy bedanking aangekondig het in ’n opspraakwekkende rubriek in The New York Times – wat tot gevolg gehad het dat sy eertydse werkgewer in een dag ’n verlies van $2 miljard gely het.

Spesifieke onthullings oor wat Dlamini die “smallanyana-ê-skeletons” in ANC-hoës se kaste noem, sou ’n goeie beginpunt gewees het.

Sy kon probeer het om nederig te wees. Soos Eleanor Roosevelt, wat in 1939, toe sy nog presidentsvrou was, ’n bedankingsbrief soos volg begin het: “I am afraid that I have never been a very useful member of the Daughters of the American Revolution and I know it will make very little difference to you whether I resign or whether I continue to be a member of your organisation.”

Sy kan nie eens ’n bedankingsbrief skryf.

Ondanks haar reputasie as suurpruim, kon Dlamini haar toevlug tot humor geneem het. Soos Conan O’Brien, wat sy bedanking as aanbieder van The Tonight Show op NBC soos volg afgesluit het: “Have a great day and, for the record, I am truly sorry about my hair: It’s always been that way.” As tong-in-die-kies of pseudoverskonings nie haar ding is nie, kon sy dalk opreg om verskoning gevra het vir die leuens, die bedrog en die onbekwaamheid.

’n Mens sou dink dat sy bietjie moeite sou doen om ten minste hierdie een taak onder die knie te kry. Dit is immers die laaste bedankingsbrief wat sy ooit gaan skryf: Die kans dat sy ooit weer ’n werk gaan kry – met haar misdaadgeskiedenis en reputasie as lui leuenaar – is luisklein.

Dit alles weet Dlamini. Selfs Dlamini weet dit. Maar pleks van alle redelike en rasionele alternatiewe, het sy al weer ’n konkoksie van onsamehangende onsin in haar mamparrapot opgekook. Vir oulaas het sy voor die televisiekameras staan en rondratel in die stoom van haar pruttende brousel vol verregaande verontskuldigings, vingerwysery en vaaghede. Sy is nie bitter nie, het sy gegorrel.

As iemand omgegee het, sou hulle kon uitwys dat sy inderdaad geen rede het om bitter te wees nie. Die belastingbetaler wel, want in ruil vir miljoene aan onverdiende salarisse, het sy bedrog gepleeg, onder eed gejok en ’n gemors gemaak van alles waarby sy betrokke was.

Is dit ’n laaste klap in belastingbetalers se gesig dat sy nou wéér ’n klomp geld uit die staatskoffer kry? Ja, natuurlik. Maar moenie bekommerd wees nie. Onthou: Sy moet nog 20% van die koste van die saak oor die Sassa-debakel betaal. Die res van haar pensioengeld sal sy bestuur soos wat sy alles anders bestuur het, wat beteken daar sal nie ’n sent van oorbly nie.

As daar enige geregtigheid in die wêreld is, eindig hierdie verhaal waar sy oor ’n dekade of wat in haar grootworddorp, Nkandla, in ’n baie lang tou staan en wag op ’n uitbetaling van haar klein maatskaplike toelaag. Dit is haar enigste inkomste, want haar dae as korrupte trogvreter is lankal verby en vergete. Sy is arm, honger, alleen en oud. Haar drank is op. Sy kry koud en haar voete is seer. Sy wonder hoe lank dit gaan neem om tot voor in die tou te kom sodat sy eindelik weer kos en elektrisiteit kan koop, maar wat sy nie weet nie is dat die nuwe regering se minister van maatskaplike ontwikkeling, ’n vriend van ’n president wat sy nie ken nie, ’n nikswerd is en dat geen uitbetalings daardie dag gedoen gaan word nie. Of die volgende dag nie. Of die volgende dag nie.

Meer oor:  Bathabile Dlamini  |  Sonja Loots  |  Skuinskyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.