Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Voller yskas, hoër ‘tronkmure’

Op Nuwejaarsdag lees ek graag ’n ou verhaal. Iets waarheen ek graag wil terugkeer. Vanjaar, op ’n stranddorp waar die meeste vakansiegangers wit en welgesteld is, was dit Abraham H. de Vries se “Die uur van die idiote”, oor ’n welvarende egpaar in ’n strandhuis vol weelderige besittings.

Vroeg in die verhaal koop ’n afgetrede nuusredakteur die koerant en lees daarin oor een van die bes bewaarde geheime van die Klein-Karoo: dat tydens die volstruisveertydperk kinders van welgestelde families met mekaar getroud is, ondanks reeds bestaande familiebande. Die huwelike is gewoonlik deur die ouers gereël om rykdomme bymekaar te hou. Die idiote wat dikwels uit hierdie huwelike gebore is, is in kelderverdiepings onder die groot volstruispaleise deur diensmeisies opgepas, en is slegs een keer per week toegelaat om buite rond te loop: Sondae tussen twee en drie, terwyl almal anders ná die middagete geslaap het.

Later in die verhaal onthaal die egpaar ’n paar gaste by hul huis. Dit raak ’n aand van oordadige kos, luukse besittings, banale gespreksonderwerpe en stiltes wat eindig met die harde slae van die see teen die rotse, wat met tussenposes hoorbaar word. Die geluid van die see raak simbolies van die karakters se “dowwe opstandigheid of verlange of albei”. Almal is versadig, maar “elkeen loop verlate in sy eie klere rond”. Die volheid van die rykmanswêreld is inderwaarheid leeg. Die silwer eetgerei wat blink in die dowwe lig, die geelhouttafel, die swaar fluweelgordyne en bokhaaroortreksels, die persiese matte en rooileer-diepinsakstoele en boekrakke en koperskeepslamp en volvloermatte en Mozart uit die Bang & Olufsen-luidsprekers bied geen sekuriteit of verweer nie.

Die egpaar en hul gaste is vasgevang in hul eie “uur van die idiote”, die tyd wanneer die gevolge van materialisme, inhaligheid en ’n gebrek aan medemenslikheid in die helder lig sigbaar word.

Voor hulle groet, vra een van die besoekers: “Kan ons nie eers help opwas nie?” Die gasvrou antwoord: “Nee, nee, ons het al ’n bediendetjie.” Ná hul vertrek, sien die man voor sy geestesoog hoe ander inwoners van die dorp – die bouer, die huisvrou, die bankbestuurder, die tandarts, die aktrise en die prokureur – fiksheids-

oefeninge in ’n sauna doen. Hulle is gevangenes van die maniere waarop hulle geld en status najaag, selfs wanneer hulle met iets heeltemal anders besig is. Almal bevind hulle in ’n metaforiese tronk, met die see as simbool vir hul vryheidsdrang.

Die egpaar en hul gaste is vasgevang in hul eie “uur van die idiote”, die tyd wanneer die gevolge van materialisme, inhaligheid en ’n gebrek aan medemenslikheid in die helder lig sigbaar word.

Toe ek klaar gelees het, vou ek die boek toe en ry gou supermark toe sodat ek die yskas vol lekkernye nog voller kan laai.

Almal is nog slaperig ná die vorige aand se sjampanjevierings, maar deur die luukse huise se groot vensters sien ek hoe bediendes reeds kussings uitskud en vloere vee. Die tou by die winkel is lank. Almal se mandjies is tot boordensvol gelaai.

Almal in die tou is wit, almal agter die kasregisters is bruin.

Terwyl ons wag, word vertel dat die dorp se mees welgestelde huiseienaar baie maer en uitgeteer lyk ná sy onlangse finansiële terugslag. Opvallend dat hy nie weer gisteraand die dorp op ’n vuurwerkvertoning trakteer het nie, skinder hulle.

Terug by die huis kry ek my sit op die bankie met die koninklike uitsig oor die skitterende see, ontwerperslywe wat op peperduur fietse verbyflits en blink bote in opritte. Die uur van die idiote, dink ek.

En: Hoe moet hierdie soort verhaal om godsnaam eindig?

* Dr. Sonja Loots is ’n letterkundige.

Meer oor:  Sonja Loots  |  Die Ander Kant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.