Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Vroue moet wys hoe slim hulle is en seuns oplei

Baie mense meen dat meisies in Suid-Afrikaanse skole op direkte en indirekte wyses benadeel word deur die oorblyfsels van dekades lange diskriminerende patriargale praktyke, maar eintlik is meisies op skool én universiteit veel beter daaraan toe as seuns.

Onlangse navorsing deur Nic Spaull en Hendrik van Broekhuizen toon meisies leer vinniger lees en vaar beter in wiskunde. Hoewel daar min of meer ewe veel seuns as meisies in gr. R is, is daar vir elke 100 meisies in matriek slegs 85 seuns in matriek. Vergeleke met hul manlike eweknieë vorder 34% meer vroue as mans tot op universiteitsvlak en behaal 56% meer vroue as mans ’n voorgraadse kwalifikasie.

Hierdie bevindings word gerugsteun deur indrukwekkende navorsing. Spaull en Van Broekhuizen het die vordering van 112 402 leerlinge ses jaar lank gemonitor met behulp van inligting vanaf die hoër­onderwysbestuursinligtingstelsel asook die departemente van basiese onderwys en van hoër onderwys en opleiding.

Die resultate is merkwaardig: Dit maak nie saak wat die ras, ouderdom of sosiaal-ekonomiese status van seuns is nie, in alle subgroepe, in alle provinsies, vaar hulle swakker as meisies. Hul kans om tot in matriek te vorder of ’n tersiêre kwalifikasie te behaal, is kleiner. Ook op universiteit suig hulle aan die agterspeen.

Hierdie resultate strook met navorsing in byna alle middel- en hoëinkomste-lande. Die duidelike voordeel wat vroue op skool en universiteit het, is ’n wêreldwye tendens. Die feite word dus nie betwis nie, maar daar is natuurlik ruimte vir verskille oor hoe die feite geïnterpreteer moet word.

Die duidelike voordeel wat vroue op skool en universiteit het, is ’n wêreldwye tendens.

Omdat vroue in die verlede op diskriminerende wyse beperkte of geen toegang tot opvoeding gegun is nie, en aangesien dit steeds in sommige dele van die wêreld die geval is, is die versoeking tot schadenfreude groot. Ons het mos nog altyd geweet vroue is slimmer, of hoe? Mans moet maar vrede maak met dié ongerieflike feit. Dit is mos niks minder as reg nie?

Dit kan onmoontlik reg wees. Vroue, veral vroue wat gekant is teen geslagsdiskriminasie, behoort bekommerd te wees oor wat die Ikey-filosoof prof. David Benatar bestempel as “the second sexism” (in sy gelyknamige boek). Benatar redeneer mans word wêreldwyd onregverdig benadeel as deel van ’n tweede, verwaarloosde seksisme. ’n Mens hoef nie met Benatar se omstrede stellings saam te stem om die volgende som te maak nie: Dit is in ons almal se belang om beter te sorg vir ons seuns op skool en universiteit.

In Suid-Afrika is die onvermoë om laer- of hoërskoolopleiding te voltooi een van die grootste aanwysers van toekomstige mislukking. Seuns wat voor matriek uit die skoolstelsel verdwyn, dra by tot chronies hoë werkloosheidsvlakke en lae verdienste. Dit plaas ernstige beperkings op nasionale ontwikkeling. Ons stem almal saam dat opvoeding die belangrikste manier is waarop voorheen benadeeldes maatskaplike en ekonomiese mobiliteit verkry, en dat ons só die onbillike verdeling van die land se hulpbronne moet aanpak.

Ons skole en universiteite slaag nie daarin om dieselfde gelyke geleenthede vir seuns- en manstudente te verseker as vir meisies en vroue nie. Dit is duidelik tyd om oorweging te skenk aan pedagogiese en institusionele hervormings wat sal verseker dat die potensiaal van ons seuns nie verkwis word nie.

As ons as vroue nie kan help om beter onderwysbeleid te formuleer om die hindernisse waaroor mans en seuns struikel uit die weg te ruim nie, is ons dalk nie so slim as wat navorsing wys nie.

* Dr. Sonja Loots is ’n letterkundedosent aan die Universiteit van Kaapstad.

Meer oor:  Die Ander Kant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.