Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Waar is die woede oor ons kinders wat verniel word?

Die verkragting van die baba Tshepang, wat op die ouderdom van nege maande deur ’n MIV-positiewe man verkrag is, het in 2001 die land geruk.

Nooit weer nie, het ’n kollektiewe sug opgeklink. Asseblief nooit weer nie.

Maar dit was maar nog net die begin van die gewelddadige oorlog wat Suid-Afrikaanse mans, broers en ooms in stilte teen ons kinders en babas voer.

Wag ’n bietjie, menere, lees eers klaar voordat julle nóg ’n spul briewe skryf waarin julle my ’n “hatige feminis” noem (asof daardie twee woorde sinonieme is). In die afgelope drie jaar is meer as 50 000 kinderverkragtings aangemeld. In dieselfde tydperk is 2 600 kinders met vuurwapens, byle, pangas, troffels, hamers, lyfbande en gif in Suid-Afrika vermoor – volgens amptelike polisiestatistieke wat Bheki Cele onlangs in die parlement bekend gemaak het.

Kinders is die slagoffers van 41% van alle verkragtingsake in Suid-Afrika, het hy onthul. En ’n skokkende 9% van alle aangemelde verkragtingsake handel oor misdade teen kinders jonger as nege jaar. Hierdie kinders is nie uitsluitlik nie, maar in verreweg die meerderheid van gevalle dogtertjies, en gewoonlik die slagoffers van mans.

Uit die syfers blyk dit duidelik dat die probleem al hoe erger raak. Die getal kinders wat verkrag word, word elke jaar meer. Vir die 2016-’17-boekjaar was daar 19 071 aangemelde sake. Sedert Mei vanjaar, toe Cele die statistieke gedeel het, is ’n 18 maande oue dogtertjie in KwaZulu-Natal vermoor; is die sesjarige Stacey Adams in Eastridge, Mitchells Plain, verkrag en vermoor; is ’n agtjarige dogtertjie in Ncombe in Mpumalanga verkrag en vermoor; is ’n 14-jarige meisie in Diepsloot, Soweto, verkrag en vermoor; is die vierjarige Uyathandwa Stuurman in Khayelitsha verkrag en vermoor; en is die lykie van die vyfjarige Minentle Lekhatha onder ’n brug in die Strand gevind, sonder haar oë.

Die waarheid is dat alle kinders in Suid-Afrika weerloos is en dat hul ouers se uitgelese adres en bankbalans hulle nie kan beveilig nie.

Daar was moontlik ander gevalle wat ek misgelees het.

Baie Rapport-lesers sal die afgryse van sulke statistieke probeer verwater deur hulself wys te maak dat dit in ánder buurte en ánder samelewings as hul eie gebeur, met ánder mense se kinders. Maar die kind wat die afgelope week in ’n Dros-restaurant in Silverton, Pretoria, verkrag is, kon enigiemand se kind gewees het. Sy was in die speelarea van die restaurant, digby die toilette, en is binne die restaurant deur haar aanvaller gegryp en onder die neus van kinderoppassers, haar ma en ander klante weggeruk en verniel.

Die waarheid is dat alle kinders in Suid-Afrika weerloos is en dat hul ouers se uitgelese adres en bankbalans hulle nie kan beveilig nie.

Ook waar is dat ons in ’n samelewing leef waar die regering ’n totale onvermoë toon om geweldpleging teen kinders aan te pak; en een waarin daar iets enorm skort met die psige van die derduisende mans wat hierdie kinders teiken.

Daarom is dit so vreemd dat Ace Maga-shule, sekretaris-generaal van die ANC, die afgelope week by die huis van die vermoorde tieneraktivis Stompie Seipei niks te sê gehad het oor die 2 600 kinders wat die afgelope drie jaar in Suid-Afrika vermoor is nie.

Die lot van kinders wat in die nuwe Suid-Afrika verkrag en vermoor word, is nie minder verskriklik as die marteldood van die 14-jarige Stompie in 1989 nie.

En daarom is dit óók verskriklik dat Suid-Afrikaners steeds onbereid en onkapabel is om te praat oor die alomteenwoordige, klein én groot, ooglopende én subtiele, internasionale én plaaslike verskyningsvorme van patriargale, chauvinistiese houdings wat alles saam skering en inslag vorm van ’n samelewing waar mans ’n skrikbewind voer; en waar vroue nie naastenby woedend genoeg is daaroor nie.

Meer oor:  Die Ander Kant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.