Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Waarom ons dromers oor ’n katedraal ween

Vir Quasimodo was die klipgevoeg van Notre Dame eier, nes, huis en hemel, hy het dit gevul soos ’n slak sy dop, dit was sy heem, sy grot, sy rugstut, hy was tuis daarin soos ’n skilpad in sy dop. Sy borsweer was die katedraal.

Só klink dit wanneer flardes van Victor Hugo se roman Notre-Dame de Paris via ’n omdigting deur die filosoof Gaston Bachelard in Marlene van Niekerk se pragroman Memorandum opduik. Dit is maar net een klein neerslag van ’n verhouding wat reeds eeue lank verbeeldings boei: die groot liefdesverhouding tussen verhaal en katedraal.

Omdat die twee minnaars se verknooptheid byna so oud is soos die gedrukte woord, het lesers nie slegs met ’n vlees-en-bloed-blik nie, maar ook met die binne-oog na die brandende Notre Dame gekyk. Vir hulle is dit onmoontlik om nié vir Gargantua op die torings te sien sit nie. Die reus kyk neer op die Parysenaars, maak grynsend sy gulp oop, haal sy enorme pieterman te voorskyn en urineer so oorvloedig dat 260 418 sterflinge in die strate en stegies onder hom versuip (kinders en vroue nie bygereken nie).

Betowerdes en bespooktes – diegene wat Gargantua et Pantagruel, François Rabelais se ensiklopediese uitbarsting van karnavaleske uitbundigheid, lewenslank onder lede het – het ook met die binne-oor geluister hoe Gargantua die katedraal se klokke laat beier voordat hy dit gaan hang om die nek van sy perd, wat swaar gelaai is met brie en haring, maar die ligte klokgewiggies skaars merk.

Vuur versinnebeeld die noodlot.

Terwyl die vlamme rooi brand, was alles vir hulle terselfdertyd gehul in die melkwit skynsel van skedel, die onaardse gloed van passasies uit Balzac en Hugo wat nooit hul houvas op hierdie katedraal sal laat los nie. Hoewel CNN dit nie uitgesaai het nie, het Frollo deur die rook sy weg gebaan om oudergewoonte te sluip deur die Porte du Cloître, die kloosterdeur met die toneel waar Theophilus sy siel aan die duiwel verkoop. Esmeralda het soos ’n slang gekrul aan die galgarm voordat sy in die knekelhuis gegooi is; en die misvormde beiaardier het sy surrogaatvader by die katedraaltorings afgestamp om soos die duiwel wat uit die hemel gewerp word, gillend na benede te tuimel.

In Notre-Dame de Paris sien Hugo argitektuur as ’n manier van skryf en geboue as hiërogliewe, woorde, sinne en boeke. Dit alles staan vir hom onder die teken van noodlot. Hy het op ’n keer die woord “ananke” (Grieks vir noodlot) op een van die katedraalmure uitgekerf gesien, maar toe hy weer daar kom, was dit weg. Al wat hy kon doen, was om die verdwene woord te probeer herstel met sy romanmotto: “Op hierdie woord het ek die boek gebou.” Dat dit juis vlamme was wat soveel vernietiging gesaai het, was dalk gepas. Vuur versinnebeeld die noodlot, skryf Bachelard immers.

Om al hierdie redes, en vele meer, het sommige die afgelope week, terwyl die vlamme gedeeltes van die mensdom se onderbewuste verswelg, gesteier oor die weerloosheid van wêreld en woordwêreld. Maar soos in Hugo se slottonele, met plunderaars wat in die katedraalportale rondmaal, was die gebrom van barbare die hardste geluid.

Die vlakkykers wat slegs sien wat Disney of Hollywood aan hulle opgedis het, die kitskosvreters van Twitter-tekste en Instagram-beelde, het die verlies geringgeskat en die verdriet verdag gemaak: “Hoe durf jy te koop loop met die feit dat jy al daar was, wat van dié wat nie so bevoorreg is nie? Tipies Westers om histeries te raak oor die Notre Dame as daar iets is soos die Hagia Sophia! Wat van die ysbere en bye wat uitsterf, dis tog veel erger? Soveel geld vir die restourasieprojek terwyl kinders honger ly in Afrika en vlugtelinge in bootjies na Europa aandobber!”

Die dromers het nie geantwoord nie. Hulle het na hul boekrakke gestap, eensaam soos die boggelrug, en hier en daar verslae rondgeblaai, en baie moeg gevoel. Hul gedagtes was by hul borsweer. Hul harte was seer.

Meer oor:  Skuinskyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.