Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Was daar maar nou ’n held soos Wolraad Woltemade ...

Diep in donker addendums van geskiedenisboeke moet ’n mens delf om iets te vind wat vergelyk met die goor geniepsigheid en kwaadwillige kleinlikheid van die voortslepende strandsluitings (en die dralende drankverbod op die koop toe).

Die afgelope week het ek so erg na ’n soutwaterswem verlang en het my mond so gewater vir al die geseënde soorte vog wat my stééds ontsê word, asof ek ’n stout kind sou wees, dat ek bedremmeld oor Suid-Afrika se wyngeskiedenis sit en nalees het.

En so het ek, via ’n hervertelling deur André Brink in ’n boek oor dessertwyn, afgekom op die Sweedse botanis Carl Thunberg se beskrywing van die heldedaad van Wolraad Woltemade, wat in Junie 1773 verdrink het terwyl hy besig was om matrose van ’n gestrande skip te red.

Dit is ’n verhaal wat ons dink ons ken, maar waarvan ons vergeet het dat dit afspeel teen die agtergrond van ’n neweverhaal oor strande en alkohol.

Woltemade se seun, ’n jong korporaal in diens van die VOC, is saam met ’n groot aantal soldate na Paardeneiland gestuur terwyl die skip vlak teen die mond van die Soutrivier gestrand gelê het en besig was om middeldeur te breek. Hul opdrag was nie om lewens te red nie, maar eerder om die kus te patrolleer om seker te maak dat niemand iets steel van wat op die strand uitspoel nie.
Hulle het selfs ’n streep galge al teen die see af opgerig as afskrikmiddel.

Dit alles terwyl 149 mense besig was om te verdrink en Woltemade sy lewe gegee het om 14 van hulle te red.

Thunberg vertel van ’n matroos wat, in ’n desperate poging om die strand lewendig te haal, nakend van die wrak van De Jonge Thomas in die see gespring het met sy seemanskis by hom. Toe hy halfdood op die strand uitkruip, het sy kis klaar uitgespoel. Toe hy dit vind en begin oopsluit met die sleutel wat aan ’n tou om sy nek hang, word hy deur die soldate gevange geneem en met die galg gedreig, want daar mag mos niks gebuit word wat op die strand uitspoel nie.

Toe die arme drommel protesteer dat dit sy eie kis is, moes hy hoor dat geen uitsonderings gemaak kan word nie. Hy is darem nie gehang nie, maar wel daar en dan gegesel.

Die res van die dag moes hy, poedelkaal en buite weste, op die strand rondkruip totdat hy die soldate teen die aand probeer oorreed het om vir hom ’n mantel uit sy kis te haal. Maar by die kis gekom, was dit reeds deur iemand anders geplunder.

Dit alles terwyl 149 mense besig was om te verdrink en Woltemade sy lewe gegee het om 14 van hulle te red. Hy is vroegoggend strand toe om vir sy seun ’n brood en ’n bottel wyn te neem. Toe hy die hulpkrete van die matrose hoor, het hy op sy perd se rug gespring en op dié se rug na die wrak geswem om van hulle op te pik. Ses keer heen en weer, totdat hy en sy perd onder die water verdwyn het. En dit terwyl ’n magdom soldate op die strand rondstaan, kibbel oor kleinlikhede en vermoedelik self ook ’n bietjie plunder.

Dit is ’n aaklige verhaal oor magsvergrype en die drakoniese toepassing van sinlose maatreëls. Natuurlik het ons regering nie ’n ry galge op ons strande opgerig nie, maar wanneer hulle die weermag stuur om strande te bewaak, of met patrollievoertuie waarvoor belastingbetalers opgedok het oor strande jaag en vasval, of wanneer hulle oor verlate strande storm en eensame branderplankryers platduik en boei, spreek hul optrede van dieselfde soort siek beheersug en verwronge prioriteite.

Elke keer wanneer “oom Cyril” een van sy “familievergaderings” hou, raak dit duideliker as voorheen hoe gevaarlik absolute mag kan wees en hoe misplaas ons metafore. Die president is g’n ons oom nie en sy eensydige aankondigings van die bevelsraad se bisarre maatreëls geen familievergadering nie, want kiesers is nie kinders nie en behoort nie so behandel te word nie.

Meer oor:  Sonja Loots  |  Skuinskyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.