Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Wat as Poppie se storie nooit geskryf is nie?

Haar naam was nie Poppie Nongena nie, maar Ntombizodumo Eunice Ntsatha. Hoewel haar ware identiteit jare lank onbekend was, en eers in 2009 bekend gemaak is, was sy die inspirasie vir Elsa Joubert se Die swerfjare van Poppie Nongena. Noudat Joubert se dokumentêre, biografiese roman oor haar lewe verfilm is, sal Ntsatha se verhaal van voor af rimpels begin maak.

Ntsatha het twee jaar lank as huiswerker vir Joubert gewerk voordat sy en haar werkgewer op Tweede Kersdag 1976 ’n rigtinggewende gesprek gevoer het oor geweld in die township. Dit was die begin van ’n komplekse samewerkingsooreenkoms. Joubert het ure lange onderhoude met Ntsatha gevoer, wat ongeletterd was. Sy het onderneem om hierdie (outo)biografiese vertellings te dokumenteer en die opbrengste van die eindproduk gelykop met Ntsatha te deel.

Die resultaat was ’n veelbekroonde boek wat gou topverkoperstatus behaal het. In Soos familie, haar studie oor stedelike huiswerkers in Suid-Afrikaanse tekste, skryf Ena Jansen dat Die swerfjare van Poppie Nongena vir Joubert gevestig het as die belangrikste literêre dokumenteerder van ’n swart vrou se lewe in Afrikaans; en vir Poppie/Ntombizodumo as een van die kragtigste swart stemme in Afrikaans, haar moedertaal.

Jansen meen dat die politieke impak van die teks enorm was omdat dit baie wit Suid-Afrikaners se oë vir die eerste keer geopen het vir die strukturele geweld wat swart mense aangedoen is deur die passtelsel.

“Of daar ’n verband bestaan tussen Joubert se teks en die afskaffing van die paswette in 1986 kan moeilik vasgestel word, skryf sy. “Maar wel kan ’n mens veronderstel dat regeringsgesinde kiesers danksy Poppie vir die eerste keer sou besef hoe onmenslik die wette was.”

Nogtans kan die waarde van die teks nie betwis word nie. Die winste staan saam met die verliese op die balansstaat.

Dit sou ’n fout wees om die manier waarop dié twee vroue se pad gekruis het, te verromantiseer. Die magsewewig in hul verhouding was ongelyk. Per slot van sake is slegs een van hulle se lewe onherstelbaar deur apartheidswetgewing verwoes, was slegs een arm en ongeletterd, en het slegs een se lewe moeilik gebly ondanks die feit dat Die swerfjare van Poppie Nongena ’n bekroonde blitsverkoper geword het.

Iets van die ongelykhede in mag, status en invloed word weerspieël deur die feit dat slegs Joubert se naam op die voorblad staan. Dit was inderdaad sý wat as kunstenaar van vertellings ’n verhaal gemaak het, maar in ’n regverdiger bestel sou die biografie verskyn het met albei vroue se naam op die voorblad. Dit sou ook nie nodig gewees het vir Ntsatha om op ’n skuilnaam aan te dring uit vrees vir viktimi­sasie nie; en die manuskrip sou van meet af aan as politieke protesgebaar geposisioneer gewees het pleks van Joubert se destydse aandrang dat die juis nié ’n politieke teks wil wees nie.

Nogtans kan die waarde van die teks nie betwis word nie. Die winste staan saam met die verliese op die balansstaat. Sonder Die swerfjare van Poppie Nongena sou daar, pleks van die literêre monument vir die swaarkry van Ntsatha, niks gewees het nie. Pleks van die spore van haar sterk stem, slegs stilte.

Dit is ’n teks gebore uit skreiende onkunde: Ná publikasie het Joubert erken dat sy voor 1976 niks begryp het van die daaglikse lewe van swart Suid-Afrikaners nie. Sy was soos haar wit lesers, wat afgesien van hul huiswerkers, min kontak gehad het met swart Suid-Afrikaners.

Watter verweer sou ’n skrywer kon aanvoer teen die argument dat dit beter is om nié te skryf nie, eerder as om te skryf oor iets wat sy nie ken nie? Daar is eintlik maar net een antwoord. Skrywers wat só ’n sprong waag, weet dat hulle waarskynlik gekritiseer sal word. Hulle weet dit en waag dit omdat dit beter is as om stilgemaak te word. Soos Steve Biko verklaar hulle: “I write what I like”. Om Biko se woorde só te gebruik, is ’n gebaar van toe-eiening. ’n Skrywer wat daardie kans waag, glo dat daar sonder die opeis van vryheid op alle bladsye in alle boeke slegs leë spasies sou wees.

Meer oor:  Sonja Loots  |  Elsa Joubert  |  Skuinskyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.