Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Wat gebeur as prinse dink hulle kan die pes ontglip . . .

Ons ken almal ’n prins Prospero (of dalk ’n prinses Prospero).

Die hoofkarakter in Edgar Allan Poe se verhaal “The Masque of the Red Death” was vreesloos, selfs toe die Rooi Dood toegeslaan het. Dit was ’n noodlottiger en naarder pes as enigiets wat dit voorafgegaan het. Dit het skerp pyne veroorsaak, skielike duiseligheid en dan groot bloeding uit die porieë wat slagoffers binne ’n halfuur laat sterf het.

Prins Prospero was vrolik en onverskrokke en toe sy dominiums half ontvolk is, het hy ’n duisend fris en gesonde vriende uit die geledere van die ridders en dames van sy hof opgeroep en hom saam met hulle teruggetrek in die diep afsondering van een van sy gekanteelde abdye. ’n Hoë en sterk muur het die struktuur omring en toe almal binne was, het die hofdienaars die ysterhekke toegesweis om te verseker dat niemand kon inkom of uitgaan in oomblikke van impulsiewe wanhoop of waansin nie.

Binne die abdy was alles wat hulle nodig had. Met sulke voorsorgmaatreëls sou die hof kontakbesmetting vermy. Die buitewêreld moes maar self klaarkom. Intussen was dit dwaas om te treur of te dink. Daar was narre, daar was improvisatori, daar was balletdansers, daar was musikante, daar was skoonheid, daar was wyn. Al hierdie dinge en veiligheid was binne. Buite was die “Rooi Dood”.

Die figuur was lank en maer en van kop tot toon geklee in ’n grafkleed.

Teen die einde van die vyfde of sesde maand in afsondering het prins Prospero sy duisend vriende vermaak met ’n gemaskerde bal van ongewone grootsheid. Dit was ’n wellustige toneel, daardie maskerade. Dit is in sewe suites gehou. In die sewende suite was daar ’n reuse-ebbehoutklok. Die pendulum het heen en weer geswaai met ’n dowwe, swaar, eentonige gegalm; en op die uur het daar uit die koorsagtige longe van die staanklok ’n geluid gekom wat helder en hard en diep en buitengewoon musikaal was, maar van so ’n eienaardige aard dat die musikante van die orkes ophou speel het as hulle dit hoor, die dansers ophou dans het en almal vir ’n paar oomblikke van stryk gebring is. Selfs die ligsinnigste onder hulle het bleek geword en die ouer mense het hul hande oor hul voorhoofde gevee, asof hulle verward was. Maar wanneer die geslaan van die horlosie stil raak, het ligte gelag weer opgeklink en het die musikante na mekaar gekyk en geglimlag asof hulle verleë was oor hul eie senuweeagtigheid. Hulle het hulself voorgeneem om oor 60 minute hul kalmte te behou, maar elke keer was daar weer beroering.

Teen middernag, voordat die laaste van die staanklok se 12 slae opgeklink het, het sommige partygangers bewus geraak van die teenwoordigheid van ’n gemaskerde figuur wat niemand voorheen raakgesien het nie. Daar was ’n gegons en ’n gefluister, van afgryse en van walging. Die figuur was lank en maer en van kop tot toon geklee in ’n grafkleed. Sy masker het so baie gelyk na die gesig van ’n lyk dat dit moeilik was om te glo dit is maar net ’n kunstige namaaksel. Boonop was sy klere en gelaat bloedbevlek.

“Wie waag dit om ons te beledig met hierdie siek grap,” het prins Prospero gebulder toe hy die figuur sien. “Ruk sy masker af sodat ons weet wie om te hang wanneer die son opkom.” Toe ’n paar howelinge met die wilde moed van wanhoop die figuur gryp waar hy in die skadu van die staanklok staan, het hulle egter ontdek dat daar geen tasbare gestalte binne die grafklede en masker was nie.

En eindelik is die teenwoordigheid van die Rooi Dood erken. Een vir een het al die mense neergeval in die bloedbevlekte sale waar hulle feesgevier het. Elkeen het gesterf terwyl hulle val. En toe die laaste een dood was, het die horlosie gaan staan en al die kerse doodgegaan. En donkerte, verval en die Rooi Dood het oor alles en almal geheers.

  • Die oorspronklike verhaal uit 1842 kan in Engels gelees word op die webblad van die Edgar Allan Poe-museum. Die museum is in Richmond, Virginia, waar 13 mense reeds aan Covid-19 gesterf het.
Meer oor:  Sonja Loots  |  Skuinskyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.