Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Wat ís gepaste toon as jy van die rampsalige Angie praat?

Met skaamtelose vermetelheid mor die raad van onderwysministers jou wrintiewaar nou oor “die trant en toon” van die uitspraak waarin regter Norman Davis beslis het dat matrieks nie hul wiskunde- en wetenskapvraestelle hoef oor te skryf nie.

Daar word boonop gekla dat die uitspraak die sektor in ’n ongekende krisis gedompel het. Wat ’n verstommende stukkie blaamverskuiwingstaktiek. Niemand kan darem seker dink leerlinge en ouers sal dit sluk nie! Die waarheid is dat die departement verantwoordelikheid moet aanvaar vir swak kontrole, voorsorgmaatreëls en beveiliging van vraestelle. Meer nog: Dit is tyd om openlik te praat oor die feit dat die uitgelekte vraestelle die minste van die probleme is.

Reeds vir langer as ’n donker dekade sit die land in Angie Motshekga opgeskeep met ’n ramp­salige swak onderwysminister wat geen vriend is van die kinders nie.

Sy het al die Grondwet vertrap met haar versuim om handboeke betyds by skole te kry en dit is tydens haar wagbeurt dat Michael Komape en Lumka Mketwa verdrink het in puttoilette by die hole waar hulle skoolgegaan het. Sy wag verniet dat ons dit vergeet.

In Junie het sy kat-en-muis gespeel met die hele land oor wanneer skole heropen, met ’n onverskoonbare op-die-nipper-stertomswaaiery wat kinders nóg meer ontwrig het. En benewens die gemors met die uitgelekte vraestelle en die gemoedere van reeds getraumatiseerde matrieks was daar ook pas die nuus oor die skokkende swak wiskunde- en wetenskapvaardighede van Suid-Afrikaanse leerlinge.

Geen groot skaamte, skok of verbystering nie.

Die jongste tendense in internasionale wiskunde- en wetenskapstudie, oftewel Timms-uitslae, toon dat Suid-Afrikaanse gr. 9-leerlinge die tweede laagste punt in wiskunde behaal en die swakste vir wetenskaplike prestasies van al die lande wat aan die studie deelgeneem het. Altesame 59% van gr. 9-leerlinge het nie basiese wiskundekennis gehad nie en 64% het nie basiese vaardighede in wetenskap gehad nie. Gr. 5-leerlinge het nog swakker presteer as die gr. 9’s, met 63% wat nie basiese vaardighede in wiskunde toon nie en 72% wat in wetenskap nie weet wat de joos aangaan nie. Om sake erger te maak het Suid-Afrika die toetse aan leerlinge in gr. 5 en gr. 9 uitgedeel, terwyl leerlinge in gr. 4 en gr. 8 in ander lande aan die peiling deelgeneem het. Ons het dus gekroek en ons resultate sou nóg swakker gewees het as ons op gelyke grondslag moes meeding.

Die studie het geen statistiese beduidende verbetering gevind tussen die 2015-uitslae en die 2019-uitslae vir gr. 5-leerlinge in Suid-Afrika nie. Lees daardie sin gerus weer: In byna ’n halfdekade kon die departement van onderwys absoluut geen verbetering in laerskoolkinders se ontoereikende wiskundevaardighede teweegbring nie. Natuurlik was die swakste presteerders leerlinge in Suid-Afrika se histories benadeelde en landelike skole: Daardie leerlinge waarvoor Motshekga en haar regering kastig so diep omgee.

Motshekga het gereageer soos sy altyd reageer. Geen groot skaamte, skok of verbystering nie. Net maar ’n doodse gemompel van clichés wat herinner aan die Prediker se woorde: Nog ’n bietjie verder slaap, nog ’n bietjie lê en sluimer, nog ’n bietjie hande gevou lê om uit te rus.

Die minister en haar departement kom eenvoudig nie die mas op nie. Hulle misluk klaaglik daarin om ons kinders toe te rus met die nodige vaardighede vir ’n toekoms met ’n al hoe groter tekort aan gegradueerdes op die gebied van wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde.

Jaar ná jaar moet ons tevrede wees met stagnasie en agteruitgang. Dit bring mens terug by die vraag: Wat is die gepaste trant en toon wanneer mens van so ’n minister en haar departement praat? Ek is nie ’n regter wat ’n hofuitspraak skryf nie, maar as iemand wat elke dag met taalnuanses besig is, sou my aanbeveling kort en kragtig wees: misprysing, misnoeë en minagting.

Meer oor:  Sonja Loots  |  Angie Motshekga  |  Skuinskyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.