Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Wêreld wil nie saam vaar op die skip van inenting-dwase

Dink aan ’n skeepskaptein, effens doof en blind, en omring deur matrose wat daarop aandring om eerder self die skip te stuur, al het hulle hoegenaamd geen kennis van navigasie nie. Terwyl hulle oorgehaal is om enigiemand wat die teendeel beweer te vermorsel, en vegtend mekaar oorboord gooi, kry sommige dit reg om die kaptein te bedwelm en besit te neem van die skip. Al vretend en suipend seil die muiters verder. Hulle klop mekaar op die skouer en noem mekaar “stuurman”, “loods” en “seevaarder”, selfs al het hulle geen begrip van hoe ’n ware skeepskaptein die seisoene en uitspansel en sterre en wind moet kan lees nie, en al begryp hulle nie dat sy gesag setel in die kuns en kennis wat hy bemeester nie.

Vir Plato was hierdie fabel, wat hy in die sesde boek van Die Republiek in die mond van Sokrates lê, tekenend van sekere regeringsmodelle. Ryke stof in die aanloop tot verkiesingsdag, maar daar is ook ander interpretasiemoontlikhede vir die eeue-oue beeld van ’n norring niksweters wie se gepeupelbewind almal se lewe in gevaar stel. So byvoorbeeld kan dit tragiekomies van toepassing gemaak word op die Amerikaanse “ship of fools” wat die afgelope week in die Karibiese waters onder kwarantyn geplaas is.

Die skip, met sowat 300 Scientoloë aan boord, is toegang tot St. Lucia geweier nadat dit geblyk het iemand aan boord het masels en dat vele van die passasiers nie teen masels ingeënt is nie. Die kaptein het intussen 100 dosisse entstof gevra sodat diegene wat hulle nou ter elfder ure wel wil laat inent, dit inderhaas kan doen. ’n Mens kan maar net jou kop skud oor die feit dat hierdie malletjies gevaar staan om ’n Middeleeuse dood te sterf aan ’n siekte wat voorkombaar is. Dieselfde geld die masels-uitbraak onder ortodokse Jode in Brooklyn, New York, vroeër.

Outisme is nié weens entstowwe.

Hierdie petaljes is natuurlik deel van ’n wêreldwye toename in die voorkoms van masels, een van die aansteeklikste siektes op die planeet. Hoewel inentings die mensdom so goed teen masels beskerm het dat dit bykans uitgeroei was, het die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) in 2018 gesê maselsgevalle het wêreldwyd intussen met 50% gestyg.

Die eerste mens wat die skuld hiervoor moet kry, is Andrew Wakefield, wat in 1998 in ’n artikel in die mediese vaktydskrif The Lancet beweer het dat masels-inentings outisme by kinders kan veroorsaak. Mag sy kierangs braai.

Byna ewe aandadig is die derduisende dikvellige gekke wat aan hierdie onwetenskaplike onsin vasklou in die aangesig van stapels vakartikels en wetenskaplike bevindings wat dit weerlê. Die ergste is dat sulke tjommelaars se tropgedrag ons almal in gevaar stel, want die krag van masels-immunisering is helaas ook tropverwant. Die sukses daarvan berus immers op hoeveel mense die inentings kry.

Nie net masels nie, maar ook waterpokkies is terug. In die Amerikaanse deelstaat Noord-Carolina, die staat met die meeste kinders wat op geloofsgronde vrygestel is van inentings, was daar in November die grootste uitbraak van waterpokkies sedert die entstof meer as 20 jaar gelede beskikbaar gestel is. Net maar nóg een van die vele gevolge van opruiery deur die anti-entstof-rampokkers.

Rampokkers? Ja. Die WGO meen immers “inenting-huiwering” is een van die tien grootste gevare vir wêreldgesondheid. Dit is hoog tyd dat muiters wat die skip oor ’n afgrond wil stuur, vasgevat word. Toenemende druk op Facebook en Google om fopberigte oor inentings te bekamp, is ’n stap in die regte rigting. Ouers wie se kinders aan masels sterf omdat hulle nie ingeënt was nie, moet van strafbare manslag aangekla word. En as jy weer by jou kind se swemles of netbalwedstryd ’n mamma hoor kekkel oor hoe sy nie háár bloedjie gaan laat inent nie, ruk haar om hemelsnaam in die bek.

Want entstowwe veroorsaak nié outisme nie. En die aarde ís rond. En ons wás op die maan. En die Nazi’s hét Jode vergas.

Meer oor:  Sonja Loots  |  Skuinskyk  |  Inenting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.