Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Zille, Kaapstad se karma en spirituele reën

“Johannesburgers wat hulle in Kaapstad se droogtekrisis verlekker, moet onthou karma kan ’n ware teef wees,” het Helen Zille die afgelope week getwiet. Fout. Karma het kil geglimlag, haar kop skalks gekantel en vir Zille ’n kosmiese vatso!-klap gestuur. Die woede oor Zille se kleinlikheid het gestrek van Johannesburg tot in die Kaap-van-te-min-storms, en sy moes (weer eens) op vernederende wyse haar woorde sluk en om verskoning vra.

Boontjie kry sy loontjie. Wie wind saai, sal storm maai. Wie ’n gat vir iemand anders grawe, val self daarin. Oftewel: Karma is a bitch and she’s in town.

Vra maar vir Zille. En Patricia de Lille. En Markus Jooste. En Jacob Zuma. En Mosebenzi Zwane. En Qedani Mahlangu. En Anoj Singh.

Voor ons te lekker lag – die versoeking is groot – moet ons onthou hóé boontjie sy loontjie kry. Toe Boontjie saam met Strooitjie, Ertjie en Kooltjie-vuur by ’n stroompie kom, het Strooitjie dwars in die water gaan lê sodat Boontjie en Ertjie kon oorstap. Toe Kooltjie-vuur dieselfde wou doen, het Strooitjie gesmelt en saam met Kooltjie-vuur onder die water verdwyn. Boontjie het so hard gelag dat hy gebars het.

Nou ja. As ons dit kan regkry om nie in schadenfreude verlore te raak nie, bied die huidige nuusgebeure volop geleentheid om meer sinvol oor karma te besin as Zille. ’n Mens hoef nie in reïnkarnasie of die weerwraak van ’n kwaai godin te glo om aanklank te vind by die grondgedagte van die Sanskritwoord met sy wortels in die Hindoeïsme en Boeddhisme nie. Dat jou fisieke en spirituele handelinge gevolge het vir jou lewe op aarde, en dat alles wat ons doen en sê en dink na ons terugkom, is duidelik uit die huidige stortvloed berigte oor katastrofes, skades en skandes.

As ons dit kan regkry om nie in schadenfreude verlore te raak nie, bied die huidige nuusgebeure volop geleentheid om meer sinvol oor karma te besin as Zille.

Die implikasies van die begrip karma strek egter verder as die gevolgtrekking dat Zuma, Zwane en Mahlangu self verantwoordelik is vir wat op die oomblik na hul kant kom. Dit beteken ook dat die land se inwoners húlle verdien het.

Jung het oor onopgeloste emosies en die sinchronisiteit van karma gesê as ’n mens nie bewus is van ’n innerlike konflik nie, manifesteer dit as ’n noodlot.

Die Kaapstadse psigoanalis Stephen Farah skryf die afgelope week skerpsinnig oor wat die kollektiewe onbewustelike psige van Kaapstad en die simbolies-mitologiese beeld van die droogte vir Kapenaars sê. Hy benader die droogte as kollektiewe droom en analiseer dit as tekenend van ’n dorheid in die gemeenskap: ’n beeld van hubris, elitisme, solipsisme en ’n gebrek aan verbondenheid met die vasteland en die groter Afrika-gemeenskap, waar waterskaarste algemeen voorkom.

In psigoanalitiese terme: ’n toestand van opgeblase en patologiese narsisme en ’n onwilligheid om persoonlik verantwoordelikheid te aanvaar.

Miskien het sulke esoteriese gedagtes, in tye van groot praktiese probleme, tog nog waarde. Dalk reën water, eerbare leiers en die gees van ubuntu weer op ons neer as ons gedagtig bly aan Boeddha se vers oor karma (vry vertaal uit die Anguttara Nikaya):

Ek is die eienaar van my dade,

die erfgenaam van my dade,

gebore deur my dade,

verwant aan my dade.

Ek word ondersteun deur my dade.

Van elke daad wat ek verrig,

goed of sleg,

daarvan is ek ’n erfgenaam.

Meer oor:  Helen Zille  |  Die Ander Kant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.