Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Zuma se broek om enkels . . . oor blote boek

“Jirre! Romans!”

Skaterend-onsamehangend het ons ongeskoolde president dié week dit nodig gevind om sy agterdog en argwaan duidelik te maak jeens romans, boeke, mense wat boeke lees en mense wat boeke skryf.

Sy tirade is ontlok deur die teenwoordigheid van twee boeke wat deur DA-LP’s by die parlement ingedra is.

George Michalakis het tydens Zuma se toespraak opsetlik opvallenderwys sit en lees aan Jacques Pauw se The President’s Keepers; en Leon Magwebu het Khwezi, ­Redi Tlhabi se biografie oor Fezekile Kuz-wayo, die vrou wat Zuma van verkragting beskuldig het, bo sy kop rondgeswaai.

Met sy aandrang dat boeke vir hom geen bedreiging inhou nie, het Zuma herinner aan genl. Augusto Pinochet, die Chileense diktator wat hom dekades lank posisioneer het as ’n eenvoudige man met min belangstelling in die geskrewe woord.

As student het hy ’n boek getiteld Geopolitiek gepubliseer, maar nadat dit aan die lig gekom het dat groot gedeeltes geplagieer is – en dat hy boonop die deelstaat Washington met Washington DC verwar het – het hy hom in ander stokperdjies begin verdiep. Hy het genl. Carlos Prats as hoof van die weermag vervang, en pres. Salvador Allende met ’n staatsgreep ontsetel.

Sy tirade is ontlok deur die teenwoordigheid van twee boeke wat deur DA-LP’s by die parlement ingedra is.

Pinochet se jeugdige flirtasie met die wêreld van die boek was skynbaar klaar. Hy het tydens sy bewind sporadies boeke laat verbrand.

Toe die uitgewer Jorge Torrealba dit regkry om die memoires van die vermoorde genl. Prats te publiseer, was Pinochet so woedend dat hy enige verwysing na die publikasie onwettig verklaar het.

Aan die 5 000 eksemplare wat gedruk en versprei is voordat hy sy oë kon uitvee, waaronder 1 000 wat landuit gestuur is in geval van inbeslagneming of vroeë ontdekking, kon hy egter niks doen nie.

Teen die volgende jaar, toe Pinochet 15 000 eksemplare van ’n roman deur Gabriel García Márquez laat verbrand het, was dit duidelik: Sy teenstanders het weer moed geskep.

Daar sou die verhaal kon eindig, maar in 1990, tydens ’n ondersoek na die geheime bankrekeninge van Pinochet, is ’n verbasende ontdekking gemaak.

Met die miljoene wat hy verduister het, het Pinochet onder meer in die geheim ’n enorme boekeversameling opgebou. Die versameling, een van die waardevolste in die ganse Latyns-Amerika, word nou gehuisves in die Augusto Pinochet Ugarte-
biblioteek in Santiago.

Wat sou die rede wees vir Pinochet se geheime obsessie?

“Pinochet was gepynig deur ’n intense minderwaardigheidskompleks,” skryf Cristóbal Peña in The Secret Literary Lifeof Augusto Pinochet.

Volgens hom het Pinochet jare lank ­baklei teen die besef dat Prats en Allende, die twee belese teenstanders van wie hy op gewelddadige wyse ontslae geraak het, sy intellektuele meerderes was.

En daarom, meneer Zuma, glo ons al weer nie ’n woord wat jy sê nie.

Ons weet jy sit ure lank op jou troon met die boek op jou skoot. Jou vinger beweeg stadig van links na regs en jou lippe roer soos wanneer jy probeer sin maak uit groot syfers in begrotingstoesprake.

Af en toe vryf jy moedeloos oor jou oë en mor jy: “Jirre . . . boeke . . .”

Ons sien jou, meneer die president. Kreunend en steunend sit jy daar, stomend in jou eie onwelriekende walms, met The President’s Keepers op die skoot en jou broek om die enkels.

Meer oor:  Sonja Loots  |  Boeke  |  The President's Keepers  |  Die Ander Kant  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.