Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘Soos Depressie’ is louter snert
Roelof Botha
Roelof Botha

Die hoeveelheid onsinnighede wat kwytgeraak word oor die moontlike omvang van die onvermydelike wêreldresessie is verstommend.

Een daarvan, wat onder meer deur ’n groep navorsers van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) in ’n onlangse artikel geuiter is, is die bewering dat vanjaar se resessie erger kan wees as die Groot Depressie, wat ’n kortkop duskant ’n eeu gelede plaasgevind het.

Dié wolhaarstorie moet liefs die nek ingeslaan word, eerstens weens die feitelike onwaarhede en ook weens die onnodige negatiwiteit wat daardeur kan ontstaan.

Hoewel dit hopeloos te vroeg is om die omvang van die huidige resessie te meet, kan afleidings reeds na aanleiding van die vertonings van die Indeks van Aankoop-bestuurders (die Engelse afkorting PMI word gebruik) gemaak word.

In China, waar die pandemie ironies genoeg ontstaan het, is dié kernbelangrike aanwyser van ekonomiese aktiwiteit al vir twee agtereenvolgende maande bokant die neutrale 50-merk, wat die skeidslyn tussen positiewe en negatiewe ekonomiese groei verteenwoordig.

Dit is dus duidelik dat die wêreld se tweede grootste ekonomie blitsvinnig van die inperkings herstel het en nie eens ’n resessie gaan beleef nie.

China se saamgestelde PMI was slegs vir een maand (Februarie) negatief, toe dit na ’n vlak van 28 teruggesak het – die laagste in die land se geskiedenis. Dit is dus duidelik dat die wêreld se tweede grootste ekonomie blitsvinnig van die inperkings herstel het en nie eens ’n resessie gaan beleef nie.

’n Toenemende aantal hoë-inkomste-lande is ook besig om tekens van vinnige ekonomiese herstel te toon, soos inperkings stadig maar seker opgehef word.

Volgens navorsing deur die Internasionale Organisasie vir Burgerlugvaart kan binnelandse passasiersvlugte voor die einde van die jaar met tussen 50% en 95% herstel – nogal bemoedigend vir ’n sektor wat hard deur die koronavirus geslaan is.

Volgens die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) behoort die wêreldekonomie volgende jaar weer stewig te groei. Slegs twee van die 38 ekonome wat aan die Ekonoom van die Jaar-wedstryd deelneem (aangebied deur Netwerk24, Beeld, Die Burger, Volksbladen Rapport) verwag negatiewe groei in Suid-Afrika se bruto binnelandse produk vir 2021. Die konsensus onder dié groep vir volgende jaar se groeikoers is 2,7%.

In skerp teenstelling met die realistiese vooruitsig van ’n “V”-vormige ekonomiese herstel wat op die opheffing van inperkings behoort te volg, het die Groot Depressie volgens gesaghebbende geskiedkundiges ’n volle dekade geduur, van 1929 tot 1939.

Tydens die eerste vier jaar daarvan het die Amerikaanse ekonomie met sowat 30% gekrimp en werkloosheid het met 20% toegeneem.

Aangesien die Tweede Wêreldoorlog in 1939 ontstaan het en die ekonomiese ellende laat voortduur het, is daar heelwat geskiedkundiges wat die tydsduur van die Groot Depressie op 16 jaar stel.

Tydens die eerste vier jaar daarvan het die Amerikaanse ekonomie met sowat 30% gekrimp en werkloosheid het met 20% toegeneem. Talle banke het bankrot gespeel en ’n tarief-oorlog tussen Amerika en die vernaamste Wes-Europese moondhede het voedselpryse en rentekoerse laat styg.

Aangesien regerings in dié tydsgewrig nog nie enige noemenswaardige lenings aangegaan het nie en swewende wisselkoerse eers byna 50 jaar later toegelaat is, was daar bykans geen fiskale óf monetêre beleidsmaatreëls waarmee die ekonomie gestimuleer kon word nie. Kommersiële lugvaart was nog nie op dreef nie en persoonlike rekenaars het eers 35 jaar ná die Groot Depressie op die mark verskyn.

Dit is nie raadsaam om rosyntjies met waatlemoene te vergelyk nie. Die resessie wat voorlê is kinderspeletjies in vergelyking met die Groot Depressie en kan binne enkele kwartale iets van die verlede wees.

  • Dr. Botha is ’n ekonomiese raadgewer van die Optimum-beleggingsgroep.


Meer oor:  Roelof Botha  |  Resessie  |  Ekonomie  |  Koronavirus  |  Depressie  |  Finansies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.