Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Soos Don Quixote en Sancho Panza
Gert Coetzee

Regerings se oplossing vir ’n probleem is gewoonlik erger as die probleem self, het Milton Friedman gesê. Só lees ek eergister in Volksblad se Gedagte van die dag (regs bo op hierdie blad) en kan nie help om – ietwat wrang – te glimlag nie.

Gedagtig aan die ANC-regering se “planne” vir selfgeskepte probleme – dat onteiening sonder vergoeding die  grondkrisis (wat uit versuim deur die regering oor ’n kwarteeu spruit) moet oplos; gratis tersiêre onderrig aan almal (danksy kader JZ) werkloosheid en armoede gaan fnuik, en nasionale gesondheidsversekering die antwoord vir haglike openbare gesondheidsorg is.

Dit herinner so bietjie aan die kuns van krisisskepping wat deel van die smoke and mirrors van politiekery en ons alledaagse bestaan is.

Ook die stomme Jan van Riebeeck staan dik in die skuld.

Dit werk só: 1. Die stelsel werk; die meeste spanlede bring hul kant en die resultaat is bevredigend tot puik. 2. ’n Bedreigde – of ambisieuse – kollega wat nie noodwendig  in ywer uitblink nie, maak almal attent op ’n krisis waarvan niemand sover bewus was nie, sê maar  dat lang ure se rekenaarwerk nadelig vir die oë is. 3. Met groot fanfare stel die werknemer ondersoek in hierna, hoe maatskappybeleid te kort skiet en watter oplossings daar sou wees. 4. Die werknemer tree in as “kampvegter” wat hierdie krisis met groot gewag beveg namens al die slagoffers vir wie hy – of sy – soveel veil het. 5. Tydens die veldtog kom die kampvegter nie uit nie by sy eintlike pligte, wat hy in elk geval sou vermy het, maar nou is die aandag daarvan afgelei en die fokus is op die heldewerk waaraan hy sy lewe wy.  6. Die realiteite bly onveranderd; die nie-bestaande krisis verstryk; die rook gaan lê en die kampanje verloor stoom. 7. Ondanks die verlore energie het niks ’n duit verander nie. 8. Almal werk sonder bohaai of skade met dieselfde rekenaarskerms. 9. Die boerebedrieër is nou beroemd, tree as ’n “denkleier” of motiveringspreker vir potte vol geld op en skryf boeke oor sy heldedade.

Dis aangedik, maar tog. Soos Cervantes se droewige ridder Don Quixote en sy agterryer Sancho Panza windmeulens bestorm het.

Die liewe EFF, ons derde grootste politieke party, se bestaansrede is op muntslanery uit “krisisskepping” geskoei

Die kampvegtery in ’n vorige bedeling by ’n plaaslike universiteit (voorheen Afrikaans) het nogal hierdie patroon gevolg. ’n Boek of twee waarin eie roemryke deelname hierin besing word, het juis pas verskyn, Pappie!

Politiekgewys, is Jacques Pauw se The President’s Keepers ’n handleiding oor die opstelling van ’n skadustaat waarin die hoeders se parallelle gevegvoering vir die beskerming van die eer van hul heer en meester – wat die bron van die kwaad is – alle tyd en aandag – en geld – verg. Teorieë oor sameswerings is deel van die resep. Ook die stomme Jan van Riebeeck staan dik in die skuld.

As deel van sy skadeherstel-poging, speel Mduduzi Manana, ANC-LP wat pas moes bedank, die slagofferkaart. Dis ’n politieke smeerveldtog se skuld. Nie die feit dat hy in die hof van vroue-aanranding skuldig bevind is nie.

Die liewe EFF, ons derde grootste politieke party, se bestaansrede is op muntslanery uit “krisisskepping” geskoei. Responsief, dekonstruktief en skadelik. Teenoor proaktief, konstruktief, waardetoevoegend.

In Bloemfontein lamenteer tannie Olly Mlamleli, burgemeester, oor die  laakbares wat haar verdag probeer maak vir haar nie-bestaande aandeel in die betoging van munisipale werkers wat daartoe gelei het dat die stadsaal een wintersnag geheimsinnig en onverklaarbaar vanself afgebrand het.

Die 10de Brics-beraad word nou in Sandton onder voorsitterskap van Suid-Afrika gehou en kos seker ’n aardige bedraggie. Mag die gepraat lei tot werkbare planne en voordele en nie verval in die oplossing van nie-bestaande selfgeskepte krisisse nie.

Meer oor:  Gert Coetzee  |  Da  |  Eff  |  Mening  |  Krisis  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.