Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Soos haaie wat bloed geruik het

Baie jare gelede sit ek in ’n onderhoud waarin ’n kollega vir die jong aansoeker vra: “Watter werk doen jou ouers?”

Dié kollega het geglo as jou ma en jou pa onderwysers is, is die stryd met jou halfpad gewonne ...

“Hulle is tenderpreneurs,” antwoord die aansoeker.

Dis eers later dat ek sou agterkom ek was nie die enigste mens in die vertrek wat onkant gevang is deur daardie antwoord nie.

“Tenderpreneur” was nog nie daardie jare gelys as een van die mees gesogte beroepe nie. En die Vrede-suiwelplaasprojek was in daardie stadium maar nog net ’n vonkel in Ace Magashule se oog.

Ek kon nie help om verlede week aan daardie onderhoud-toneeltjie herinner te word nie.

Die ontwikkeling van infrastruktuur is een van die regering se kernfokuspunte om ekonomiese groei te stimuleer. Infrastruktuurontwikkeling was ook die fokus van ’n simposium wat in Junie vanjaar gehou is spesifiek om te kyk na ’n herstelplan vir die ekonomie post-Covid-19.

Die regering was ook nog altyd uitgesproke oor die belangrikheid van vennootskappe tussen die openbare en die private sektor.

Die regering was ook nog altyd uitgesproke oor die belangrikheid van vennootskappe tussen die openbare en die private sektor.

Pres. Cyril Rampahosa was verlede naweek by die bekendstelling van die Mooikloof Megastad-ontwikkeling in die ooste van Pretoria.

Die oogmerk met die ontwikkeling is om 50 000 nuwe deeltiteleenhede te bou. Dis gemik op ’n spesifieke inkomstegroep: mense wat te ryk is om vir ’n regeringshuis te kwalifiseer, maar te arm om ’n huislening te kry.

As deel van die vennootskap met Baldwin-ontwikkelaars, sal die regering onder meer die infrastruktuur vir die projek ontwikkel en ’n toegangspad opgradeer.

Die nuus oor die projek was skaars bekend, toe duik die volgende vraag op: Waar is die tender?

Soos haaie wat bloed geruik het, sirkel tenderpreneurs skielik om Mooikloof en word daar vrae gevra oor die ontwikkelaar.

Soos haaie wat bloed geruik het, sirkel tenderpreneurs skielik om Mooikloof en word daar vrae gevra oor die ontwikkelaar (terloops, ’n bekende naam in eiendomsontwikkeling met ’n bewese geskiedenis van suksesvolle projekte). Dis asof die idee dat enige projek in hierdie land aangepak kan word sonder ’n tender, eenvoudig onmoontlik is.

Tenders is een van die meganismes wat veronderstel is om swart ekonomiese bemagtiging (SEB) te bevorder. Maar, net soos SEB, het dit oor die jare net ’n elite-groepie bevoordeel.

Het jy die regte politieke verbintenisse, kom die tenders na jou kant toe. Ken jy iemand wat in die binnekring sit waar die tenders bedink word en is jy bereid om omkoopgeld te betaal, lag jy die hele pad bank toe.

En niks word regtig in die proses gedoen om daardie driekoppige monster van werkloosheid, armoede en ongelykheid te beveg nie.

Kan Suid-Afrika, veral te midde van een van sy taaiste ekonomiese tye, dit regtig nog bekostig dat iemand homself ’n “tenderpreneur” kan noem.

Hoewel tenders – indien dit deursigtig bestuur word – ’n nuttige meganisme kan wees om korrupsie en botsende belange uit die weg te ruim, is dit dalk tyd om te vra of Suid-Afrika, veral te midde van een van sy taaiste ekonomiese tye, regtig nog kan bekostig dat iemand homself ’n “tenderpreneur” kan noem.

Voeg so ’n persoon enige waarde by die projek waarvoor getender word? Of is hy bloot ’n middelman met politieke verbintenisse wat die eintlike werk aangee na iemand wat óf nie bekwaam is om dit te doen nie, óf in die eerste plek self die tender moes gekry het?

Het ons nie liewer in dié tye tradisionele entrepreneurs nodig nie – mense met ondernemingsgees wat werk skep en nie bloot opdaag om te skep nie?

  • Van Eeden is meningsredakteur van Beeld en Die Burger.
Meer oor:  Johanna Van Eeden  |  Korrupsie  |  Tenders  |  Bedrog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.