
Gert Coetzee
Die meerderheidsuitspraak
van die konstitusionele
hof dat die Universiteit van die Vrystaat (UV) se Engelse onderrigtaalbeleid
grondwetlik reg is, skep ’n presedent. In
Suid-Afrika voorspel dit niks goeds vir Maties, Tuks en Pukke nie. Hul name is
juis in die hofbevindinge geopper.
Internasionaal strook dit
nie met inisiatiewe om bedreigde tale te beskerm nie.
Nie dat die uitspraak met
taalregte en -beginsels rekening hou nie. Die politieke bevindings is – sonder
dat dit getoets is – dat Afrikaans die ras-verdeler op die UV-kampus is en as
sodanig ter wille van rasseversoening as onderrigtaal moet wyk. Dit sluk die
windeier wat die UV as deel van ’n opgestelde klugtige “taalproses” voer.
Dit daar gelaat. Die UV –
moedswillig die uwe sou ’n mens by UFS wou hou – dra die twyfelagtige
onderskeiding dat hy seker al universiteit ter wêreld is wat daarmee kan spog
dat hy ’n akademiese taal ingespit het.
Ja, daar is die versekering
dat hy nou alles veil vir Afrikaans en ander inheemse tale gaan hê. Dis bietjie
soos om iemand ’n doodskoot te gee en dan kunsmatige asemhaling te wil toepas.
Oor die presedent wat geskep
is met die (UV se gerieflike) gelykstelling van taal aan ras: Hoe sou die
hofbevinding geld vir die Gariepfees in Kimberley waaroor ’n EFF-stadsraadslid
onlangs kapsie aangeteken het omdat dit dan ’n “wit” fees sou wees? Wat onsin
is.
Dis bietjie soos om iemand ’n doodskoot te gee en dan kunsmatige asemhaling te wil toepas.
Die minderheidsuitspraak wat
meen dat die meerderheidsuitspraak van dieselfde hof die staat se grondwetlike
taalpligte verontagsaam, is veelseggend.
Emosielose besinning is
taai, maar veral die beginsel van “redelikerwys doenlik” verg nugter besinning.
Dit gaan oor die haalbaarheid daarvan om in ’n diverse universiteitsgemeenskap
wel Afrikaans as ’n bykomende of meelopende taal vir onderrig te hê.
Maklik sou dit nie wees nie
– en dis juis waaragter die UV geskuil het. Met die troefkaart dat die kiem van
rasse-spanning en -diskriminasie hier skuil en Afrikaans die verdeler is.
Weer wys die
minderheidsuitspraak uit die UV het nie hiermee moeite gedoen nie en dat dié
aanname klakkeloos aanvaar is. Net so ontbreek bewyse van die
“rassediskriminasie” wat Afrikaans sou ontketen het.
Nogtans oor “doenlikheid” is
die dilemma verstaanbaar. ’n Mens (ek) sou net wou hê dat daar nie so ’n
leuen-agtige pad gevolg is met die aannames wat aan die konstitusionele hof
gevoer is nie. Ondervinding leer kitsoplossings en beginsellose prosesse hou
nie stand nie. Hopelik het die UV nie later berou oor sy kortsigtigheid nie.
En die moedswillige vraag is
wie se skuld dit nou gaan wees as die kampus weer ontplof.
Ewenwel, die oppergesag van
die reg geld en die beslissing staan. Dít is die realiteit wat
Afrikaanssprekendes wat vir hul taal omgee, moet bestuur.
Om in sak en as te bly sit,
gaan nie werk nie. Wat die UV betref, moet Afri-kaansgesindes die huidige
gematigde rektor se uitreiking na Afrikaans ter wille wees – help om ons
“kombuistaal” as deel van die verskeidenheid gelief te maak en te verskans.
Leef en laat leef.
Elkeen van jou bydrae in
Afrikaans help: Naln, boeke, Netwerk24, kunste-feeste, WAT se borgwoorde
en nuutskeppings, rolprente,
afrikaans.com, musiek . . .
Solidariteit en AfriForum
geval nie almal nie, maar hulle het met die hofsaak woorde met dade gerugsteun.
In die minderheidsuitspraak
wonder die regter daaroor of die uitslag nie ’n Derde Taalbeweging inlui nie.
Immers kan niemand anders ’n
taal doodmaak nie, buiten sy eie mense.
Johnny is nie dood nie was
2017 se beste Afrikaanse fliek. Die Taal ook nie, sou ’n mens oor dekades wou
sê.