Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Soos ’n skim deur droefheid se daeraad
Wilhelm Jordaan

Ek skryf al jare lank rubrieke oor my waarneming van die lewe. Nou met my vrou se dood word ek gekonfronteer met die waarneming van my eie lewe. En dit is of ek na ’n oop wond kyk.

Só skryf ek ’n brief vir ’n vriendin wie se man agt jaar gelede dood is: “Ek het gedink ek verstaan iets van smart en die droefheid wat daarmee saamgaan. Ek verstaan niks daarvan nie. Dit is die shadowlands waarvan C.S. Lewis skryf en ek beweeg soos ’n skim daardeur.

“Gaan aan met die dinge waarmee ek moet aangaan, skryf rubrieke, maar niks voel werklik nie. Ek praat, eet, antwoord, glimlag soos dit hoort en lag uitbundig soos ek kan . . . maar niks daarvan voel soos ek nie. Word dit later beter?

“In die weke wat kom, gaan ons haar as tussen die blomme van die Weskus strooi, in Kirstenbosch, in die see, en ’n bietjie oorhou vir die tuin by die huis.

“Ag liewe Here, ek huil, maar wys dit nie. Ek mis haar met ’n rouheid wat woorde soek. Hoef seker nie? Met elke stukkie musiek sien ek haar tydhou in die wit sokkies. Glo darem ek sal weer my ‘ou self’ wees, wat de *** dit ook is.”

Die helfte van jou is weg, hoe is dit hoegenaamd moontlik dat jy nog praat, eet, antwoord, glimlag en lag.

Die vriendin antwoord as volg: “Soos ek dit beleef, is daar absoluut niks te verstane aan die leed wat jy voel nie; net te oorlewe. Die helfte van jou is weg, hoe is dit hoegenaamd moontlik dat jy nog praat, eet, antwoord, glimlag en lag? Dit is die eintlike kwessie wat jy poog om te verstaan.

“Ek het nog nooit weer my ou self geword nie (soos jy sê, wat de *** dit ook is). Of die nuwe gedaante wat ek nou het, ’n ‘self’ is, weet ek nie.

“Verlede Donderdag sit ek nege-uur die oggend op my stoel en drink tee. En skielik, uit die bloute, bars ek in trane uit en huil lank soos ’n kind. Daarna, net weer soos altyd, opstaan en aangaan met die dingetjies van die dag.

“Al wat ek sien, is dat ek vaardiger word met die poging om my werklikheid mooier te maak as wat dit is.”

In dieselfde trant kry ek ’n brief van iemand wat ek nie ken nie. Sy sê sy wil iets aan my teruggee wat sy oor jare in my rubrieke gevind het: “Die ruimte wat jy nou met jou lewensmaat se dood betree, só het ek onlangs self geleer, is nie eintlik verwoordbaar nie.

“Hartseer kreukel jou en frommel jou weerloos, hopeloos op. En soos T.T. Cloete dit stel, word elke bekende rigtingwyser ‘die pad na Verdwaal’ en is jy voortaan net ‘amper tuis’.

“Jou geliefde lewensmaat het vertrek, maar ’n mens vertrek self ook stelselmatig en mettertyd na ’n gans ander heelal waarin jy die taal en die nuanses van jou menswees van voor af moet leer – die emigrasie van verdriet . . . Is dit troos hierdie? Net soos ’n geliefde nie herhaalbaar is nie, só is hartseer ook nie eindigend nie.”

Ek kyk weer na dié korrespondensie en besef opeens dat gedeelde belewenisse oor smart en verdriet ’n sagte mantel is wat om jou skouers gehang word omdat jy ’n binneseer beleef en koud kry.

Meer oor:  Wilhelm Jordaan  |  Droefheid  |  Lewensmaat  |  Daeraad  |  Dood  |  Sterf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.