Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Soos op aarde, net so ook in die hemel

Onlangs haal ek my ouma Johanna Jacoba Fourie se kerkhempie uit ’n stowwerige boks in my ouerhuis. Ek onthou hom goed, want Ouma het elke liewe Sondag, soggens en saans die huis van die Here twee keer besoek; en Depressiekinders het nie baie of uitspattige kerkuitrustings gehad nie, al was hulle ook, soos Ouma, die predikantsvrou.

Soos gister voel dit dat Ouma einste hempie regtrek, hoed op die kop plak, handsak en Bybel gryp en almal voor haar uitjaag na die ligblou Volksie. In die Volksie, voor ons wegtrek: ’n gebed dat die Here ons veilig sal hou tydens die rit deur Despatch se stofstrate. Dan kerk en Oupa se preek. Terug by die huis, in die Volksie: ’n dankgebed dat ons veilig tuis is. In die huis: ’n tafelgebed voor ons ete.

Ouma het haar goedjies mooi opgepas en nie sommer iets weggegooi nie, en so gebeur dit dat ek 17 jaar ná haar dood die afgelope week haar hempie werk toe dra. Sy sou daarvan gehou het, laat weet my ma, maar ék dink sy sou geraas het oor al die “sierade” waarmee ek my “behang” het. Halssnoer, borsspeld én oorbelle. Te uitspattig en ydel na haar smaak.

Jammer, Ouma, dink ek terwyl ek rinkelend die trappe voor die Universiteit van Kaapstad se Jameson Hall uitklim.

Wat sou sy gemaak het van hierdie kampus en universiteit en van die debatte wat hier woed, wonder ek. Sy was ’n plaasskoolproduk en het slegs st. 6 gemaak voordat sy in Mobb’s se skoenfabriek in die Baai gaan werk het. Nogtans: Haar “geleerdheid” het haar goed te staan gekom toe sy later met ’n predikant trou.

Ek onthou vaagweg poskaarte, afdrukke en skilderye van dinge waarvan die res van die huis ook gewemel het: blomme, plante en katte.

Sy was ’n bekwame notulehoudster by vroueverenigings. Haar spelling was foutloos, haar handskrif onberispelik en anders as baie ander Afrikaners van haar generasie het sy nie dood neergeslaan van vrees as sy Engels moes lees, praat of skryf nie. In die plaasskooltjie op Slagboom, naby Addo, waar sy les gehad het by ’n Mister Rintell en by haar ma, my oumagrootjie, is duidelik hard gewerk.

Ouma, onthou ek terwyl ek op die kampus ronddwaal, was een van die min kinders in haar skooltjie wat ’n skoolrok had. Sy het jare later steeds gekla omdat sý smiddags die skoolgeboutjie moes uitvee, maar dan gou bygevoeg: “At least I had a gym.” Skoene waarskynlik nie, maar darem ’n gym, waarin sy trots pryk op ’n ou foto van haar saam met haar kennelik selfs nóg armer medeleerlinge. Wie weet: Waarskynlik sou sy aanklank gevind het by hedendaagse gesprekke oor armoede en agterstande in tersiêre onderrig.

Terwyl ek op die kampus verby ’n toegespykerde Diane Victor-skildery stap, besef ek daar is nóg iets op my kampus wat haar op haar gemak sou stel: die kuns. In Ouma se huis was die mure nie leeg nie, maar alles teen die mure was fraai en ordentlik. Natuurlik was daar ’n reusagtige geraamde afdruk van De breede en de smalle weg. Ek onthou vaagweg poskaarte, afdrukke en skilderye van dinge waarvan die res van die huis ook gewemel het: blomme, plante en katte. Behalwe familieportrette en hier en daar ’n soetsappige landskapskildery, ook talle geraamde Bybelspreuke in verskillende registers: sommige streng vermanend en ander vertroostend.

Kyk, Ouma, dink ek op my kampuswandeling, hier werk dit presies soos in die pastorie vanmelewe. Nêrens teen Ouma se mure was daar iets wat kerk, gemeente of staat aanstoot kon gee nie. Ook hier by die Universiteit van Kaapstad hang niks waaroor enigiemand hulle kan kwel nie. David Goldblatt se fotoargief is weg. Breytenbach se Hovering Dog is weg. Pippa Skotnes, Pieter Hugo en Christo Coetzee: weg. Net katjies, blommetjies en sonsondergange vir ons, dankie.

My verontwaardiging het niks met Ouma uit te waai nie. Sy sou dit nie verstaan het nie. Of wie weet, miskien sou sy lekker gelag het, want wie sou kon raai: Wat gepas was vir ’n Oos-Kaapse pastorie toe apartheid op sy kruin was, is nou ook gepas vir die mure van ’n sogenaamde wêreldklas- Suid-Afrikaanse universiteit in die 21ste eeu.

Ek knoop die kragie van die kantbloesie toe tot bo. Vandag is ewe vreemd as
gister.

Meer oor:  Sonja Loots  |  Die Ander Kant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.