Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sout wat laf geword het, is onbruikbaar
Annelie Botes

Wanneer ek saans nuus kyk en nogeens moet vasstaar in ’n protesoptog, sit ek sommer die televisie af. Regtig, ek is keelvol vir daardie soort konsert.

Kom ek haak ver terug aan. 22 jaar gelede bevind ons Rudolph-kind hom in Nederland as oppasser van die vierjarige Alexander Hartoog. Die ma is ’n mediese dokter; die pa ’n onderwyser. Geleerde Europeërs. Alexander is bedorwe, want vanweë ’n boggelrug mog die ma nie kinders hê nie. Dié enetjie is reeds ’n wonderwerk.

Op ouderdom vier beproef alle kinders die grense van toelaatbaarheid. Hulle toets gesagstrukture. Kry hulle nie hul sin nie, sit hulle ’n konsert op. Dís wanneer die boompie gebuig moet word, of gelos word om skeef te groei. Só is Alexander ’n klein jukskeitjie met ’n groot kop. Dit kos ons seunskind bontstaan om sy ysere wil te buig.

Een van sy truuks is om ná aandete op die tafel te klim en met die soutpot te speel. Strooi sout oor alles. Sy ouers dink dis seer skattig. Maar boerekinders word nie toegelaat om handeviervoet op ’n tafel te staan en sout te strooi nie. By die Sondagskool en huis word hulle geleer van sout wat laf geword het.

Alexander trommel met sy vuiste op die tafel en skreeu soos ’n pou: “Ik ben nou erg boos!”

Die aandritueel begin ons seunskind gruwelik irriteer. Vermoedelik was sy groot irritasie dat die ouers nie intree nie. Derhalwe vat hy die soutpot af en verbied die jukskeitjie om daarmee te speel.

Luide konsert wat afspeel. Alexander trommel met sy vuiste op die tafel en skreeu soos ’n pou: “Ik ben nou erg boos!”

Die ma sê Rudolph moet die soutpot teruggee, maar die boerekind weier.

’n Week later is die aanddrama verby en die jukskeitjie raak kalm. Ek praat onder korreksie, maar Sigmund Freud het gesê ’n baba word almagtig gebore. Met elke knies en kweel spring algar tot sy plesier. Onwetend trek hý die toutjies. Gaandeweg kom blok gesagstrukture sy pad. Ouers. Oupa. Ouma. Kinderkranstannie. Kleuterskooljuffrou. Elke keer as hy met sy vuiste op die tafel trommel en uitskree hoe boos hy is, trek iemand die briek op. Hy leer dis seer om met sy kop teen ’n muur vas te storm.

Freud sê dit is die grootste onbewuste ontnugtering van elke mens se lewe, daardie wete dat hy nie almagtig is nie.

Met elke protesoptog wat ontaard in vandalisme wonder ek wie gaan die soutpot afneem en sê: Stop dit. As protes die enigste spreekbuis is, is dit klaers se goeie reg. Daar is egter maniere én maniere. Ek sien nooit ’n plakkaat wat sê: “Dankie dat ons werk het” nie. Of ’n protesleier wat die skare sinvol tot bedaring práát nie. Inteendeel.

Dan weet ek Suid-Afrika het nog ’n lang opdraand pad voordat die besef saadskiet dat sout nie op die vloer hoort nie, maar op jou daaglikse kos.

Nou sluit ek maar af met ’n Nederlandse kinderrympie. Ben je boos? / Pluk een roos! / Zet hem op je hoed! / Dan is het morgen weer goed.

Meer oor:  Annelie Botes  |  Jeug  |  Herinneringe  |  Kinders
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.