Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Spaarwater het sy (betottelde) lesers verstaan
Emile Joubert

Daar was ’n tyd toe vele jongmense met joernalistieke ambisies gedink het Pieter Spaarwater het net plein die lekkerste werk op aarde. As skrywer van Die Burger se daaglikse rubriek Van Alle Kante moes jy mos net elke dag by die werk opdaag, agter jou stoel inskuif en ’n paar honderd woorde uittik oor, wel, enigiets wat jy wou. Want die rubriek se naam was, soos vandag nog, Van Alle Kante.

Oom Pieter, die familiariteit wat ek verdien weens die voorreg van persoonlike kennis, sou seker ’n ander mening hieroor had. Dit kan ek egter nie bevestig nie. Want hy is verlede Sondag oorlede, daar langs die Hermanus-kus waarvoor hy so lief was. Maar vir een skrywer om vyf dae per week die wil en die kreatiwiteit en die vonk te vind om hierdie rubriek uit te hamer, wel, dit wil gedoen wees.

Dit is egter hoe Van Alle Kante gewerk het, vir dekades lank. Ongeveer 500 woorde. Daagliks. Onder jou eie naam geskryf. In die enigste Kaapse dagblad, gelees deur honderdduisende mense. Van Stellenbosch tot Kimberley, Mosselbaai tot Springbok.

Gevolglik was Pieter Spaarwater in die 1970’s, ’80’s en ’90’s ’n huishoudelike naam.

Ek weet nie of hy die woord “betottelde” geskep het nie, maar oom Piet het dit sy eie gemaak.

Daar op die koerant se middelblad het hy gepronk, saam met ’n string woorde oor gedagtes, waarnemings en, veral, opinies. Om te vermaak, te laat dink en in te lig. En te roer. Want ’n rubriekskrywer wat nie soms ’n emosie kan aanwakker aan albei kante van die leser se psigiese spektrum nie, is nie die koerantruimte werd nie.

Ek weet nie of hy die woord “betottelde” geskep het nie, maar oom Piet het dit sy eie gemaak. Dertig jaar voordat die moderne term “woke” geskep is om iets en hulle te beskryf wat ekstraordinêre politieke of ekologiese korrektheid voorstaan, was Van Alle Kante daar met sy skrywer wat, met tasbare genot tussen die lyne, uitvaar teen al wat liefies en omhelsend en vroom is.

Betotteldes sou wees diegene wat behoorlik hop oor die uitdunning van robbe en in leersandale en kaftans betoog teen kernkrag by Koeberg. Asook hulle wat enorme volwassenheid betoon deur hulself vas te ketting by wynplase uit protes teen verdwaalde verkleurmannetjies wat perdalks in druiwe-parsmasjiene beland. Waarna die betogers terugkeer Stellenbosch toe vir ’n pizza getop met spek komende van ’n geslagte vark.

Selfspot is myns insiens een van enige skrywer se grootste deugde. In die middel 1990’s verlekker oom Piet hom oor die feit dat hy en sy vrou, Estelle (tannie!), die raserige, besige Kaapstad verlaat om in Vermont te gaan woon, reg langs die see. Die eerste paar Van Alle Kante uit die paradys was heel idillies. Maar toe word die leser gebombardeer deur klagtes en knorre van die goor weer wat die kus treiter. En vrae oor hoe hy hom so kon misgis het.

Wat hy nooit met sy groot vriend, die leser, gedoen het nie. Elke woord was in die kol. Ek is seker die laaste een ook.

Meer oor:  Emile Joubert  |  Rubrieke  |  Lesers  |  Rubriekskrywer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.