Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Spanning eb en vloei oor ’n dam

Die Groot Ethiopiese Renaissance-dam is Afrika se mees ambisieuse infrastruktuurprojek, maar ook die oorsprong van toenemende konflik tussen Egipte en Ethiopië, skryf Jo-Ansie van Wyk.

Die Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies (VN) het die afgelope week die geskil oor die Groot Ethiopiese Renaissance-dam tussen Egipte en Ethiopië bespreek.

Dié lande is haaks sedert Ethiopië in 2011 aangekondig het dat hy met vier dambouprojekte in die Nylrivier gaan begin.

Egipte waak al eeue oor die eb en vloei van die Nylrivier as sy vernaamste waterbron en is dus bekommerd oor die impak van die damme op sy watersekerheid.

Egipte en Ethiopië is egter nie die Nyl se enigste twee oewerstate nie. Die Nyl, die langste rivier ter wêreld, ontspring in Uganda en vloei ’n verdere 6 650 km deur dele van verskeie oewerstate, naamlik Tanzanië, Burundi, Rwanda, die Demokratiese Republiek van die Kongo, Kenia, Suid-Soedan, Ethiopië, die Soedan en Egipte.

Die Nyl bestaan uit drie groot sytakke. Die Wit Nyl, die grootste sytak, dreineer die Victoria-meer en vloei tot by Khartoem in die Soedan, vanwaar dit saam met die Blou Nyl en die Atbara, wat in die Ethiopiese hoogland ontspring, by die Middellandse See uitmond.

Egipte het die Aswandam in 1970 in die Nyl voltooi. Die Nasser-meer is die vernaamste reservoir van die dam wat water 320 km suid van die damwal in Egipte en ’n verdere 160 km in die Soedan opstoot. Ingevolge ’n verdrag tussen Egipte en die Soedan, wat suid van die Aswandam is, kan albei lande jaarliks ’n ooreengekome volume water uit die Nyl onttrek. Die ooreenkoms verseker dus dat Egipte se watersekerheid verskans is. Sedert die ooreenkoms het die geopolitiek van die opvanggebied van die Nyl, wat byna 3,3 miljoen vierkante kilometer en talle oewerstate insluit, aansienlik verander.

Die Groot Ethiopiese Renaissance-dam. Foto: Reuters
Angs en neutraliteit

Die einde van die uitgerekte Soedanese burgeroorlog in 2005 het gelei tot die ontstaan van ’n nuwe oewerstaat, Suid-Soedan, in 2011.

Dieselfde jaar het Ethiopië die bouplanne vir vier groot damme, wat die Renaissance-dam insluit, in die Blou Nyl bekend gemaak. Sedertdien het die Arabiese Lente veroorsaak dat Egipte twee nuwe presidente gehad het en dat Omar al-Basjir in 2019 in die Soedan uit die kussings gelig is.

Spanning tussen Egipte en die Soedan oor grensgeskille en lede van die Moslem Broederskap het egter bly voortduur.

Voorts het politieke stabiliteit in Ethiopië mettertyd daartoe gelei dat die land heelwat meer selfvertroue toon wat sy buitelandse betrekkinge betref.

Ethiopië huisves, byvoorbeeld, die hoofkwartier van die Afrika-Unie (AU) en die Nobel-vredesprys is in 2019 aan sy eerste minister toegeken.

Sedert die Ethiopiese dambouprojekte aangekondig is, het verskeie samesprekings tussen Egipte, die Soedan en Ethiopië plaasgevind en ooreenkomste is bereik. Egipte bly egter angstig oor die impak van die damme op die vloei en vlak van die Nyl, wat nou in werklikheid deur Ethiopië beheer word.

Die Soedan staan relatief neutraal, aangesien hy voordeel trek uit die projekte stroom-op en stroom-af wat elektrisiteit aan die land sal verskaf.

Nasionalisme

Die naam van die Groot Ethiopiese Renaissance-dam (aanvanklik is dit die Groot Millennium-dam genoem) is simbolies, aangesien dit enersyds na die omvang van die projek, tans die grootste hidro-elektriese projek ter wêreld, en andersyds na Ethiopiese nasionalistiese ambisie (Groot Ethiopiese Renaissance) verwys.

Die nasionalistiese ondertoon was ook duidelik uit ’n Twitter-plasing van die Ethiopiese eerste minister se woordvoerder, Billene Aster Sejoem, op 22 Junie.

Die plasing, haar gedig “Ethiopia speaks” teen die agtergrond van ’n foto van die dam, gaan oor die nasionale betekenis van die dam vir haar land.

Die Nyl is die bron van 90% van Egipte se watervoorraad. Angs oor sy watersekerheid is vererger deur Ethiopië se aankondiging in Maart dat hy vandeesmaand begin om die dam te vul.

Dit sal prakties die Nyl se vloeivolume noordwaarts en dus Egipte se watervoorraad beïnvloed.

Egipte én die Soedan vereis ’n nuwe ooreenkoms oor die vloei­volume van die rivier, maar Ethiopië is nie daarvoor te vinde nie.

Die AU is reeds geruime tyd betrokke as bemiddelaar om tegniese en wetlike verskille op te los. Samesprekings het egter ’n dooiepunt bereik, maar is in Mei vanjaar hervat.

Die AU het ’n beroep op die partye gedoen om die verklaring van beginsels wat in 2015 onderteken is, gestand te doen. Samesprekings het egter al vroeg in Junie weer ’n dooiepunt bereik en Egipte én Ethiopië het dreigemente van militêre optrede geopper.

Pres. Donald Trump van die VSA en Egipte se pres. Abdel Fattah el-Sisi met hul samesprekings in 2019. Selfs die VSA se hulp is al ingeroep om die konflik oor die dam te help besleg. Foto: Getty
Kuberkrakers

Op 23 Junie het die Ethiopiese nuusagentskap berig dat die land se kuberveiligheidsagentskap, Insa, drie Egiptiese kuberkrakers – die Cyber Horus Group, AnuBis.Hacker en Security By Passed – se aanvalle op 17, 18, 19 en 20 Junie op 13 Ethiopiese staatsinstellings gestuit het. Al drie krakers het verantwoordelikheid vir hul aanvalle aanvaar.

Egipte het reeds in Mei protes teen die opvul van die dam by die VN se Veiligheidsraad aangeteken en het die raad op 19 Junie versoek om vraagstukke daaroor in ’n openbare sessie te bespreek.

In sy versoek het Egipte hom beroep op art. 35 van die VN-handves, wat lede verplig om enige vraagstuk wat internasionale vrede bedreig, onder die aandag van die Veiligheidsraad te bring.

Die Soedan, wat intussen ook as bemiddelaar tussenbeide getree het, het die Veiligheidsraad op 25 Junie oor die saak toegespreek.

Pres. Cyril Ramaphosa het hierna, in sy hoedanigheid as AU-voorsitter op 26 Junie virtuele samesprekings met die partye gevoer.

Volgens die verklaring wat ná afloop daarvan uitgereik is, het die partye onderneem om ’n AU-komitee te stig om geskille op te los en om geen verdere uitlokkende verklarings oor die vraagstuk uit te reik nie.

Enkele ure ná die samesprekings het Ethiopië egter aangekondig dat hy vandeesmaand met die opvul van die Groot Ethiopiese Renaissance-dam sal voortgaan.

Die Veiligheidsraad het op 29 Junie die vraagstuk bespreek. Die Soedan, Ethiopië en Egipte – wat nie een ’n lid van die Veiligheidsraad is nie – het saam met ander state die raad toegespreek.

Egipte het na die belangrikheid van die Nyl vir sy oorlewing verwys, terwyl Ethiopië hom op art. 33 van die VN-handves beroep het wat state verplig om geskille eers op streeksvlak te probeer oplos voordat dit voor die Veiligheidsraad dien.

Veiligheidsraadslede het Egipte, die Soedan en Ethiopië versoek om hul geskille deur middel van die AU-komitee te probeer oplos.

Egipte het egter sedertdien aangedui dat hy die Veiligheidsraad sal versoek om oor die kwessie te stem.

’n Afrika-mantra

Ambassadeur Jerry Matjila, Suid-Afrika se permanente verteenwoordiger by die VN, het in sy toespraak voor die Veiligheidsraad ’n versoek gerig dat Afrika se pogings om die impasse op te los, eerbiedig word.

Intussen sal die AU-komitee wat op 26 Junie gestig is, probeer om, soos ooreengekom, ’n ooreenkoms tussen Egipte, die Soedan en Ethiopië te fasiliteer.

Die komitee word bygestaan deur die leiers van Kenia, Mali, die Kongo en Suid-Afrika, met die VSA en die Europese Unie as internasionale waarnemers.

Samesprekings sal hoofsaaklik fokus op die bindende aard van dié ooreenkoms, ’n meganisme om toekomstige verskille op te los, en die bestuur van die Nyl se vloei tydens droogtes.

Die Groot Ethiopiese Renaissance-dam is Afrika se grootste en duurste infrastruktuurprojek tot nog toe. Kosteramings beloop $4,6 miljard en die verwagting is dat dié hidroëlektriese projek 6 GW elektrisiteit sal opwek.

Die samesprekings van die volgende twee weke is opnuut ’n toets vir die mantra “Afrika-oplossings vir Afrika se probleme”, die kontinentale leiding van Rama­phosa en sy reputasie as vredemaker.

  • Van Wyk is ’n hoogleraar in internasionale politiek verbonde aan Unisa.
Meer oor:  Ethiopië  |  By
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.