Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Spanwerk red SA van afgrond
Gert Coetzee

Tydens vredesonderhandelinge in 1902 tussen die Boererepublieke en Brittanje is die tentedorp by die Vaalrivier bewaak sodat geen nuus kon uitlek nie. Maar Edgar Wallace, oor­logs-korrespondent­, se “obsessiewe drang na onthulling” het Lord Kitchener se aandrang op geheimhouding oortref.

Toe sy “bron” in die kamp eindelik met ’n wit vlag sein, het Wallace – soos gewoonlik in die dagtrein verby die kamp – geweet die verdrag is gesluit.

Met gekodeerde boodskappe het hy die nuus aan die Londense Daily Mail gestuur, skryf Joel Mervis in The Fourth Estate oor wat as die ontstaanmoment van joernalistiek in ons land beskou word.

Meer as ’n eeu later lyk die Suid-Afrikaanse landskap onherroeplik anders, maar joernalistiek gewys geld dieselfde beginsels. In wese gaan dit oor die inwin van inligting om oor nuus-waardige kwessies die volle waarheid, of so na as moontlik daaraan, te kan dra, sodat die samelewing kan besluit of en hoe hy met die waarheid sou wou handel. Sodat dit ook – in Bybelse terme – kan vry maak.

Die domino-effek van die afgelope meer as ’n dekade se joernalistieke opdiening van brokkies waarhede in die openbare domein het gekulmineer in die bedanking van Jacob Zuma as staatshoof. Sy strafregtelike vervolging is die eerste tot dusver van ’n staatshoof van ons land.

Die uitskuddery is aan die gang.

Die mees onlangse onaantasbare wat geval het, was Tom Moyane wat as draer van die staatsbeursie ’n belangrike rol vervul het in die eens onstuitbare ketting van staatskaping.

Pres. Cyril Ramaphosa wys in Moyane se afdankingsbrief hom daarop dat belastinggeld eintlik vir die opbou van die land bedoel is.

Ja, dit was so hittete of aartsskelms het dit reggekry om die land te steel.

Verslaggewing oor Zuma en sy dinge het al in die laat 1990’s begin. Suid-Afrika het in die afgelope dekade op die rand van die afgrond gaan draai, maar gelouter en hopelik beter af anderkant uitgekom.

Van 1902 na 2018: Joernalistieke realiteite gaan nooit verander nie.

Die “guns” wat die Zuptas ons betoon het, was die samespanning van die bolwerk van burgerlike weerstand wat moes inskop om die waarhede – eers fragmentaries, later toenemend verdoemend – waarmee die land gekonfronteer is te takel.

Die opposisie, die regbank (waaroor daar soms geweifel is), aktivisgroepe (insluitend Freedom under Law, Corruption Watch en die Raad vir die Bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet) het hul rol gespeel.

Oor joernalistiek: Die Universiteit Stellenbosch se joernalisdepartement vier sy 45ste bestaansjaar. In die gedenkboek skryf Mpumelelo Mkhabela, alumnus, oor die blywende politieke effek van joernaliste se “dekking, kommentaar en mobilisering van die plaaslike en internasionale gemeenskap teen staatskaping”.

En hoe (beriggewing oor) post-demokratiese korrupsie joernaliste in die land verenig het, terwyl hulle onder apartheid “ideologies en rasgewys” verdeel was.

In ’n artikel in The Conversation wys Anton Harber, sameroeper van die Taco Kuiper-pryse vir ondersoekende joernalistiek, ook op die verenigde front. Hy weet net “van enkele gevalle in die geskiedenis van ’n nasie waar joernaliste so ’n duidelike en deurslaggewende rol gespeel het om ’n land van die rand van ’n afgrond terug te bring”.

Die gesofistikeerde spanpoging van gedrukte en digitale media, burgerlike samelewing, regterlike gesag, filantrope en stigtings volg internasionale tendense na.

Van 1902 na 2018: Joernalistieke realiteite gaan nooit verander nie.

Floyd Shivambu, skobbejak-EFF-LP, se aanranding van ’n joernalis eergister staaf dit.

Meer oor:  Gert Coetzee  |  Menings  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.