Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Speel saam, jy het net nodig: ’n woordeboek
Jana Luther

Verlep jou oë van lees en skermkyk? Stof jou woordeboek af. Hier is ’n paar woordspeletjies:

1. Van die letters in “rower” maak ek – as ek elke letter net een keer gebruik – vier ander Afrikaanse woorde: “oer”, “ore”, “roer” en “rowe”. Hoeveel woorde, van drie tot ses letters, kan jy uit “korona” toor? Ek kry 22.

2. Ek skommel die letters van “perske” en maak met dieselfde letters nog drie ander woorde: “ekserp”, “respek” en “spreek”. Doen jy dieselfde met “genade” (twee 6-letter-woorde), “omskop” (drie 6-letter-woorde), “sektor” (ses 6-letter-woorde) en “kaartspeel” (vier 10-letter-woorde).

3. Dierename word soms vir dinge gebruik, soos “(rekenaar)muis” en “spaarvarkie”. Kan jy aan nog sulke voorbeelde dink?

4. Elke gesin, familie, het woorde wat net hulle ken: ’n Woord of uitdrukking wat dalk by ’n kind ontstaan het, word 20, 30 jaar later steeds gebruik, maar is vir ander sprekers van die taal buite die familiekring heeltemal onbekend. So skryf Dine van Zyl: “My ma het dikwels gesê enige een kan kosmaak, maar dit is wanneer dinge begin verkeerd gaan dat jy moet weet hoe om dit te ‘toelies’. Ek het mettertyd geleer daar is nie regtig so ’n woord nie, tog het my ma dit dikwels gebruik. As jy ’n stuk ongehoorsame vleis het, moet jy dit toelies met karringmelk om hom sag te kry. As jou sop te sout is, moet jy dit toelies met gerasperde aartappel. As jou tamatiekos te suur is, moet jy dit toelies met suiker.” Is daar in julle familie ook sulke woorde? Maak ’n woordeboek van julle “tuistaal” met woorde, definisies en voorbeeldsinne.

Wat noem jy iemand wat te veel gedrink het?

5. Vir wanneer iemand te veel alkohol in het, het Afrikaans tientalle uitdrukkings: “aangeklam”, “beskonke”, “geswael”, “ganse aanjaag”, “hoog in die takke”. Hoeveel ken jy nog?

6. ’n Palindroom, of kreefwoord, is ’n woord wat van links na regs dieselfde lees as van regs na links, soos “moorddroom” of “maandnaam”. Kan jy aan nog kreefwoorde dink?

7. Op Twitter skryf ’n Hollander onlangs dat woorde soos “huppel”, “flierefluiter” (rondloper) en “tierelier” (soos ’n voëltjie sing) ’n mens vrolik stem. Laas Sondag skryf Rachelle Greeff in Rapport: Die bekendstelling by die Woordfees van ’n nuwe digbundel deur Jeanne Goosen was ’n heerlike “harlaboerla”. Watter Afrikaanse woorde wek by jou ’n vrolike gevoel? (Jy kan ook jou eie maak.)

8. Begin met ’n lang woord en maak telkens ’n nuwe woord deur een letter weg te laat: “skottel”, “Skotte”, “skote”, “Skot”, “kot”, “ot”, “o”.

9. Begin met ’n kort woord en maak telkens ’n nuwe woord deur een letter by te voeg: “o”, “ot”, “kot”, “Skot”, “skote”, “Skotte”, “skottel”, . . . Hoeveel woorde het jou langste ry?

10. Bedink vir bestaande woorde nuwe definisies. Bv: “minimaal” – ’n baie klein ete; “natuur” – 60 minute van reën; of “antiloop” . . .

Meer oor:  Jana Luther  |  Woorde  |  Taal  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.