Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Spelling is soms senutergend
Prof. Gerhard van Huyssteen

Afrikaanse spellingkoors het so ongeveer drie, vier jaar gelede landwyd uitgebreek.

Die Sanlam WOW Spelfees en die ATKV Spelathon vir skoolkinders, die slimfoon-app Beter Afrikaans en kykNET se Op die spel-program is ’n paar van die simptome van dié ­endemie.

Een van die pertinentste vrae van spelkompetisies (en onderwysers, skrywers en uitgewers) is: Hoe word die moeilikheidsgraad van ’n woord ­bepaal?

Is die woord “penisillien” maklik, gemiddeld of moeilik om te spel?

Op watter ouderdom kan ek van iemand verwag om “frikkadelle” korrek te spel? (Ek is swaar middeljarig en kan dit tot vandag toe nie spel nie!)

Uit internasionale navorsingsliteratuur kon ek tot dusver meer as 60 (ja, sestig!) faktore identifiseer wat ’n rol speel in die bepaling van woorde se moeilikheidsgraad.

Allerweë stem navorsers egter saam dat die volgende drie faktore die belangrikste aanduiders van ’n woord se moeilikheidsgraad is:

  • Frekwensie: Hoe gereelder ’n woord in ’n verskeidenheid tekste voorkom, hoe makliker is die woord om te spel.

Al het ’n woord soos “familie” ’n paar vangplekke, behoort die meeste mense dit korrek te spel, aangesien dit een van die 500 frekwentste woorde in Afrikaans is.

  • Woordlengte: Hoe korter ’n woord is, hoe minder sal mense sukkel om dit te spel. Gegrond op ’n groot korpus van Afrikaans, weet ons dat die gemiddelde woordlengte in Afrikaans 10,7 karakters is.

Ons kan dus verwag dat enige woord met nege of minder karakters relatief maklik moet wees om te spel: “satelliet”, “assessor”, “krokodil” en ­“baseer” behoort dus min ­probleme op te lewer.

  • Die verhouding tussen die skrifbeeld (letters) en uitspraak (klanke): Hoe groter die passing tussen die letters en klanke van ’n woord, hoe makliker word die woord gespel.

Die woord “kram” word foneties getranskribeer as [kram] – daar is ’n een-tot-een-passing tussen die letters en die klanke, en dit behoort dus maklik te wees om te spel.

’n Woord soos “chihuahua”, uitgespreek as [?iwawa], is besonder moeilik: Daar is nege letters, maar slegs ses klanke; boonop kom slegs die “i” en [i] en die “a’s” en [a]’s met mekaar ooreen.

Party mense kan ook nog wonder of dit dalk met ’n hoofletter geskryf moet word.

Dit is maar net die oortjies van die seekoei.

Woorde met die schwaklank (die [?] in [kr?k?d?l]) verskaf talle hoofbrekens, verdubbeling van konsonante (“krokke” maar “krokodil”; “krokodille” maar “monnike”), konsonantverwarring (“vier” teenoor “fier”, of “rand” versus “rant”), ensovoorts.

En dan praat ons nie eens van los-of-vas-probleme nie:
Is dit “weereens” of “weer eens”, of is albei korrek? Hoekom is dit “onderweg” maar “op pad”?

Deur middel van ’n blitspeiling op Facebook het ek meer as 100 woorde ingesamel waarmee mense stoei.

Die toptiensukkelwoorde:

10. parallelle

9. adres

8. weereens of weer eens ­
(albei is korrek!)

7. professor

6. verrassing vs. ­verassing

5. op pad

4. huis toe

3. komitee maar kommissie

2. onmiddellik

1. interessant

Kan jy nog woorde tot die lys toevoeg?

Meer oor:  Gerhard Van Huyssteen  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.