Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Spook van Hitler en oppergesag van die reg

Die spook van Adolf Hitler doem deesdae in onverwagse plekke op, skryf Christi van der Westhuizen.

Adolf Hitler in 1932, ’n jaar voordat sy Nazi-party in Duitsland aan bewind gekom het. Foto: Getty Images

In die mees onlangse voorval het dr. Lwazi Lushaba, ’n politieke wetenskaplike aan die Universiteit van Kaapstad, in ’n lesing twyfel uitgespreek oor of Hitler se slagting van die Jode in die Tweede Wêreldoorlog werklik ’n misdaad was. Verskeie ondersoeke is intussen na sy uitsprake geloods.

’n Ander vooraanstaande universiteit het ook ’n paar jaar gelede weens stellings oor Hitler aandag getrek. Mcebo Dlamini is sy posisie as studenteraadsvoorsitter by Wits kwyt nadat hy verklaar het dat hy Hitler “lief het” weens sy “charisma en organisatoriese vermoëns”.

Intussen het The Kiffness-musikant David Scott onder skoot gekom nadat hy onlangs Julius Malema met Hitler vergelyk het.

Dlamini het dit verdedig as soortgelyk aan sy liefde vir die Zimbabwiese oud-diktator Robert Mugabe, en bygevoeg dat hy nie na Joodse mense se “gevoelens” hoef om te sien nie.

Intussen het The Kiffness-musikant David Scott onder skoot gekom nadat hy onlangs Julius Malema met Hitler vergelyk het, terwyl die DA die EFF se optrede by Brackenfell-skool laasjaar as soortgelyk aan Nazi-metodes bestempel het.

Adam Habib, voormalige Wits-rektor wat die Dlamini-geval gehanteer het, het ook al die EFF as “fascisties” beskryf. Sedertdien het hy vasgevang geraak in ’n politieke stroming wat ’n mens met die EFF kan assosieer. Habib word tans aan ’n studenteveldtog onderwerp om hom van sy nuwe pos as direkteur van die Londense Skool vir Oriëntale en Afrika-Studies te beroof: hy word van rassisme beskuldig weens sy beweerde gebruik van die Amerikaanse n-woord.

Joodse mense nie altyd as wit beskou

Die gedenkteken in Boston wat die Nazi’s se volksmoord op die Jode herdenk. Foto: Getty Images

Lushaba het verlede week opspraak verwek met sy verklaring dat: “Hitler het geen misdaad gepleeg nie. Al wat Hitler gedoen het, was om aan wit mense te doen wat wit mense vir ons, swart mense, gereserveer het. So sy misdaad, indien hy ’n misdaad gepleeg het, was om aan wit mense te doen wat wit mense gedink het was reg om net aan swart mense te doen.”

Hy gebruik die voorbeeld van die Nazi-massamoord op Jode om aan te voer dat politieke wetenskap as dissipline besorg was oor die Holocaust, maar nie oor die soortgelyk ekstreme geweld waarmee kolonialisme uitgevoer is nie. Politieke wetenskaplikes het histories nie koloniale geweld teen swart mense in dieselfde lig as geweld teen wit mense beskou nie, is sy kritiek.

Lushaba is heeltemal korrek wat dít betref: in die Westerse denkwyse is daar histories ’n rasse-hiërargie van menselewens geskep, met swart mense onderaan die piramide. Dit het te make met hoe koloniale rassisme swart mense as nie volledig deel van die mensdom beskou het nie. Koloniale geweld teen swart mense is só geregverdig.

Dr. Lwazi Lushaba, ’n politieke wetenskaplike aan die Universiteit van Kaapstad, se uitlatings oor Adolf Hitler word nou ondersoek.

Waar Lushaba verkeerd is, is dat Joodse mense nie altyd as wit beskou is nie. Om die waarheid te sê, die geskiedenis van Europa is ook die geskiedenis van die rasse-vervolging van Joodse mense oor die eeue heen. Nazi-mobilisering het op ’n gunsteling-gehate groep geteer, soortgelyk aan hul aanslag op die Roma en Sinti, en gay en gender-niekonformerende mense.

In Nell Irvin Painter se boek The History of White People haal sy een van die persone aan wat geassosieer word met die vergeefse poging om ras as ’n “wetenskaplike” kategorie te probeer skep. Johann Blumenbach het in die 18de eeu oor die Jode geskryf dat hulle die “berugste” en ooglopendste rasse-eienskappe besit: “their eyes . . . breathe of the East”.

Hitler se aksies teen sy bure ter wille van 'Lebensraum' was soortgelyk aan koloniale geweld.

Nazi-Duitsland se aanslag op ander Europese bevolkings kan as ’n vorm van intra-Europese kolonialisme ontleed word. As verloorders in die Eerste Wêreldoorlog is die Duitsers se kolonies elders van hulle weggeneem.

Hitler se aksies teen sy bure ter wille van Lebensraum was soortgelyk aan koloniale geweld, met rassistiese diskoers, gedwonge arbeid en massa-vernietiging van lewens – soos kenmerkend van kolonialisme elders was.

Met dié ontleding word Nazisme behoorlik in konteks geplaas as ’n voortsetting van die Westerse rassegeweld wat op ander vastelande gepleeg is.

Is die EFF fascisties?

Die vraag of die EFF fascisties is of nie, is deesdae ’n onderwerp van debat in die akademie. Foto: Getty Images

Dit is gewis noodsaaklik om krities na akademiese dissiplines se minagting van sekere menselewens teenoor ander te kyk. Maar deur twyfel te skep oor of massa-rassegeweld in Europa ’n misdaad is of nie, word slegs ’n ommekeer bewerkstellig: waar swart lewens vantevore geringgeskat is, word Joodse (en Roma, Sinti en gay) lewens nou as gering geskat.

Anti-Semitisme se lang geskiedenis het al baie draaie in Suid-Afrika gemaak. In die kookpot van strydende ideologieë ’n eeu gelede in hierdie land, het die Afrikaner-nasionaliste kapitalistiese uitbuiting met die Joodse gemeenskap geassosieer.

Die eerste apartheidspremier, D.F. Malan, het die Jode as 'onassimileerbaar' beskryf.

Die anti-Semitiese Hoggenheimer-karakter in destydse Die Burger-spotprente illustreer dit.

Die eerste apartheidspremier, D.F. Malan, het die Jode as “onassimileerbaar” beskryf in sy verdediging van anti-Semitiese en pro-Nazi neigings binne die Nasionale Party (NP) in die 1930’s.

Dit is eers in die 1970’s dat die NP se houding verander het, toe Suid-Afrika as “muishond van die wêreld” met ander muishond-lande soos Israel begin saamwerk het om anti-apartheid-sanksies te ondermyn.

Christi van der Westhuizen

Navorsing wys dat sekere Afrikaners vandag so sterk met die Jode en ook Israeli’s identifiseer dat sommige selfs giyur – hulle tot Judaïsme bekeer. Dit wys hoe identifisering oor tyd skuif, dikwels op weersprekende en ook opportunistiese maniere.

Opvallend van die huidige retoriek in Suid-Afrika oor die Nazi’s is dat die verband meer en meer met die EFF gemaak word, soos in die voorbeelde van Habib, The Kiffness en die DA se opmerkings. ’n Debat word in die akademie gevoer oor of die EFF fascisties is.

Die EFF duik ook in Lushaba se lesing op, maar op ’n ander manier. Een van sy argumente in die lesing is dat Hitler se opkoms wys dat politieke wetenskap se geloof in die beginsel van die oppergesag van die reg verkeerd was.

Die bevraagtekening van die oppergesag van die reg en of Hitler 'verkeerd' was, in dieselfde asem as wat die EFF verdedig word, is onrusbarend.

Lushaba meen politiek is bo die reg verhewe. As voorbeeld gee hy die EFF se aandrang om rooi uniforms na parlementêre sittings te dra. Die voorbeeld is nie heeltemal duidelik nie, maar die bevraagtekening van die oppergesag van die reg en of Hitler “verkeerd” was, in dieselfde asem as wat die EFF verdedig word, is onrusbarend.

Soos ook die tydsberekening van die opmerkings: Suid-Afrika beleef ’n grondwetlike krisis met ’n voormalige president wat ook meen dat die politiek bo die reg verhewe is.

• Van der Westhuizen is medeprofessor by die sentrum vir die bevordering van nierassigheid en demokrasie, Nelson Mandela-Universiteit. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.