Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sport kan só in CR se guns werk
Heindrich Wyngaard
Heindrich Wyngaard.

In die nadraai van pres. Cyril Rama­phosa se droom van ’n slimstad en sneltreine, merk die opvoedkundige sielkundige Quinton Adams op dat ons dalk nog te vasgevang is in die effek van staatskaping om saam met Rama­phosa te kan droom.

Hoe werk ons dan die verlammende narratief van staatskaping, korrupsie, ’n sukkelende ekonomie en ewig strydende politici teen? Sport het nog altyd uitkoms gebied, selfs in die donkerste dae van ons verlede, ’n realiteit wat oudpres. Nelson Mandela as ’n saambindende faktor aangegryp het.

Barney Mthombothi het verlede Sondag in die Sunday Times die land se prestasie op die sportveld gelykgestel aan hoe sake op ’n gegewe oomblik in die samelewing staan.

Hy beskou die Springbokke se Wêreldbeker-oorwinning in 1995 en Bafana Bafana se triomf ’n jaar later in die Afrikabeker-toernooi – albei op tuisgrond – as die resultaat van harde werk en talent, maar ewe veel as ’n weer­spieëling van die goeie gevoel wat uit die vreedsame oorgang na demokrasie voortgespruit het.

“Mandela se gewildheid,” skryf hy, “het ook nie skade gedoen nie.”

Mthombothi sê niks oor die Bokke se tweede Wêreldbeker-oorwinning in 2007 in Frankryk nie. Dié is behaal in die Thabo Mbeki-era, ’n tydperk van ekonomiese opbloei.

Maar toe tref die Zuma-era ons twee jaar later. Indien Mthombothi se aanname dus in die kol is, is die droogte sedertdien betreffende internasionale spansporthoogtepunte een van die beste illustrasies van sy standpunt.

Maar toe tref die Zuma-era ons twee jaar later.

Wat ons kop bo water laat hou het, was die individuele prestasies van sportsterre soos Louis Oosthuizen (gholf), Chad le Clos (swem), Raven Klaassen en Kevin Anderson (tennis) en Caster Semenya en Wayde van Niekerk (atletiek).

En tog het ons nasionale spanne dit steeds reggekry om te kwalifiseer vir van vanjaar se toptoernooie. Die grootste verrassing, met die minste verwagtinge, bygesê, was sekerlik Banyana Banyana se kwalifisering vir die Wêreldbeker-sokkertoernooi in Frankryk.

Mín hoop het ook bestaan vir ’n goeie prestasie deur Bafana Bafana by die Afrikabeker-toernooi in Egipte, maar ons het tog hoër ambisie vir die Proteas gehad by die Wêreldbekerkriekettoernooi in Engeland en Wallis.

Uiteindelik het Banyana hulself darem nie heeltemal verneder nie. En wonder bo wonder het ’n enkele oorwinning in die groepfase en ’n “ongelooflike” punteberekening gemaak dat Bafana – tot die absolute verbasing van plaaslike sokkerondersteuners – na die volgende ronde deurgedring het.

Die teenstanders toe was die gasheerland, Egipte, ’n span wat letterlik soos die piramides bo Bafana uitgetroon het. Ons het almal ’n voorspelbare afjak verwag, maar daar skok Bafana toe die Egiptenare met 1-0.

Dit was egter die Proteas wat een van hul laagste oomblikke in die ná-isolasiejare beleef het. Nederlae teen onder meer Bangladesj het ondersteuners in sak en as gelaat, wat verklaar waarom hulle weinig wenkans vir hul laaste wedstryd in die toernooi – teen Australië – gegun is. Hulle het toe wel ’n skaf­like oorwinning behaal, maar helaas was dit mosterd na die maal.

Intussen sien Suid-Afrikaners uit na later vanjaar se Wêreldbeker-rugbytoernooi in Japan met die gróót hoop dat Rassie Erasmus se Bokke vir ’n derde keer die beker omhoog sal kan hou.

Prestasies deur ons nasionale sportspanne is dalk juis wat Ramaphosa benodig (in sy selfverklaarde strewe om Mandela se nalatenskap voort te sit) om die (voortydige?) nietigverklaring van die “Ramaforie”-droom teen te werk.

  • Wyngaard is ’n kommentator oor aktuele sake en televisieaanbieder.
Meer oor:  Heindrich Wyngaard  |  Politiek  |  Sport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.