Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sportklub: Op ’n drafstap die toekoms in

Terwyl MC Botha op die perseel van die nuutgestigte Hermanus-sportklub gestaan het, kon hy nie help om te dink aan die afsterwe van die nabygeleë Hermanus-rugbyklub nie.

MC Botha

Dok Craven het op sy dag ’n draai hier kom maak om hard met die manne te praat en Jacques Kallis sou later die een ná die ander ses oor die hoë bloekombome moker. Maar nou kom ’n 50-stuks gewone sportgeesdriftiges bymekaar om oor die vordering van die nuutgestigte Hermanus-sportklub te praat.

Die nuwe klub sluit ’n wye reeks sportsoorte in, selfs dans. As skaak in sekere geledere as ’n sportsoort beskou word, waarom nie ook dans nie? Om op spoed te langarm kan jou selfs in ’n effense sweet laat uitslaan.

’n Multimiljoenrand-klubhuiskompleks is reg langs die krieketveld geleë en sal hopelik binne ’n maand of wat betrek kan word. Die romp van die klubhuis is reeds voltooi en dit is in hierdie sementkoepel dat die entoesiaste hul eerste glasie op die totstandkoming van ’n langverwagte ideaal kan skink.

Jy kan jou laaste geldjies verwed dat dit nie hul laaste glasie op die perseel sal wees nie.

Gelukkig vir ons muurbalspelers is die vier nuwe muurbalbane feitlik ’n valhoutjie weg van die kroeg en sal dit net ’n systap verg om van die baan daardie lewensnoodsaaklike bybringtoonbank te bereik.

Die tennisspelers het ’n langer roete om te volg, langer ook as by die ou bane, maar op die lange duur sal dít hulle net fikser maak.

Danksy die nuwe ontwikkeling is die gehawende ou geboutjie wat tussen bloekombome agter die krieketklubhuis gestaan het, maar steeds trots sy naam gedra het – die Hermanus-posduifklub – nou gesloop, maar ’n splinternuwe klubhuis vir hierdie sportsoort het ’n entjie verder verrys. Dit is langs die Hermanus-begraafplaas geleë wat tans opgeknap en selfs van nuwe houtkruise op voorheen onbedekte grafte voorsien word, asof dit ’n teken moet wees aan die posduifeienaars oorkant die draad van wat op hulle wag as hulle nie so fiks soos hul duiwe bly nie.

Uitsig oor die berge vanaf die perseel van die nuwe Hermanus-sportklub. Foto: MC Botha

Voetjie-voetjie met die ANC

Terwyl ek daar op die perseel saam met die ander staan, kon ek nie help om te dink aan die afsterwe van die nabygeleë Hermanus-rugbyklub nie. Lank voordat dit in die laat 1980’s mode geraak het om voetjie-voetjie met die verbode ANC te speel, het die SA Rugbyraad onder leiding van Craven stappe begin doen om veelrassigheid by klubrugby in die Boland in te voer.

Klubs in die verre platteland, soos Hermanus, is ’n aanloklike finansiële wortel voor die neus gehou wat hulle moes aanmoedig om deel te word van die nuwe wêreldorde van nierassigheid. Wat egter daaragter gesteek het, was dat elke klub moes inskakel met die dorp se bruin klub wat ’n ander naam gehad en in ’n ander liga gespeel het. Apartheid op voetsoolvlak, kan jy maar sê.

Die plaaslike hardebaarde kon nie hierdie bitter pil gesluk kry nie en rugby op die dorp het ’n vinnige dood gesterf.

In Hermanus se geval was dié klub Atlantics van Mount Pleasant. Indien samesmelting egter aanvanklik te volksvreemd voorgekom het, moes die bruin klubs ten minste toegelaat word om op die wit klubs se velde te speel – op Hermanus trots genoem die Attie Bishop-veld.

Die plaaslike hardebaarde kon nie hierdie bitter pil gesluk kry nie en rugby op die dorp het ’n vinnige dood gesterf. Die enkele wit rugbyspelende bittereinders is gedwing om by Atlantics te gaan aansluit, waar daar in teenstelling nie teen húlle gediskrimineer is nie.

Intussen is die wit-teen-elke-prys-klubhuis deur die nogal toepaslik genoemde Old Boys-klub oorgeneem. Week ná week, jaar in en jaar uit, het lede Saterdae-middae langs die veld bymekaargekom, hul drankies geskink en uitgekyk na die eensame rugbypale en die onkruid begroeide speelveld, vir ewig ontdaan van rugbyaksie.

Skielik word ek uit my mymering geruk deur die opgewekte gebabbel van die verteenwoordigers van al die verskeie klubs op die perseel van die nuwe Hermanus-sportklub. Ek kyk rond om my en sien tot my verbasing nie ’n enkele swart gesig nie.

* Hierdie rubriek het aanvanklik in die Hermanus Times verskyn.

* Die opinies in hierdie rubriek is die skrywer se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Mc Botha  |  Apartheid  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.