Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sportminister laat val bal

Oeps. En daar kry SuperSport toe (tans) geen teken van rassisme in die voorval waarin Ashwin Willemse in ’n regstreekse uitsending uit die ateljee gestap het nie.

“Op die oomblik sien ons dit as mense wat ’n meningsverskil gehad het, maar delf nog dieper,” sê Calvo Mawela, uitvoerende hoof van MultiChoice, bygestaan deur Gideon Khobane, hoof van SuperSport.

Dit was Maandag ná ’n eerste ronde gesprekke met Willemse en sy twee medeaanbieders, Nick Mallett en Naas Botha, wie se optrede hy as neerbuigend beskryf het.

Dit is uiteraard nog te gou om finale gevolgtrekkings te maak en meer kan nog aan die lig kom. Juis daarom het die gepaste reaksie te midde van so ’n emosiebelaaide kwessie Maandag gekom van Beauty Dlulane, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor sport en ontspanning.

“Soos dinge nou staan, lug almal ’n mening oor ’n voorval waaroor ons nie al die inligting het nie,” het sy gesê en Suid-Afrikaners tot versigtigheid gemaan wanneer op die voorval gereageer word.

Dis teleurstellend dat daar ’n koorsagtige en venynige opwelling was om die voorval binne minute aan rassisme toe te skryf.

Was dit moontlik ’n teregwysing aan haar minister van sport, Toko Xasa, wat die bal lelik laat val het en haar eie geloofwaardigheid ernstig geskaad het? Veral omdat sy reeds Sondag in haar erg misplaaste verklaring ook sommer begin het om ’n deel van die narratief te versin met die verstommende stelling: “Dit is duidelik dat sy mede-aanbieders na Willemse as ’n kwotaspeler verwys het ...”

Dié politikus is toe summier self-aangestelde jurie en regter en eis dat Mallett en Botha geskors word. “As hulle aanbly, sal dit bestempel word as goedkeuring van hul beweerde rassistiese gedrag,” bevind sy toe ewe.

Sedertdien hou sy by haar verklaring. Het sy dalk binne-inligting oor wat wie vir wie of iewers gesê het? Of is Willemse se woorde doelbewus verdraai? Haar verduidelikings op ’n mediakonferensie gister was onoortuigend.

Xasa is nie die enigste persoon wat onkant betrap is ná SuperSport se jongste verklaring nie. Daar was heelwat mense en veral Twitterati in haar boendoejurie.

Ons almal het ’n verantwoordelikheid om met sensitiwiteit in ons medebestaan om te gaan.

Dat baie ondersteuners om Willemse verenig het, wat ook al die konteks is van wat hy as ’n afjak beleef het, is verstaanbaar. Vir baie is hy ’n ikoniese rolmodel en ’n gewaardeerde sportaanbieder. En dit strek oor baie grense verder as net die bruin gemeenskap.

Dis teleurstellend dat daar ’n koorsagtige en venynige opwelling was om die voorval binne minute aan rassisme toe te skryf en Mallett en Botha dadelik met dié kwas te begin bydam. Sommer wit mense en hul witheid in die algemeen ook, hetsy in ’n rugbykonteks of daarbuite.

Wit mense moet nou ophou verduidelik en ’n slag luister, het onder meer in een twiet gestaan. Amper asof daar in enige optrede van wit mense in enige konteks nou ’n outomatiese vermoede moet bestaan dat hulle rassisties en bevooroordeeld is. Regtig?

Moontlik het Willemse die optrede van sommige van die superego’s wat saam met hom werk as neerhalend ervaar en begin wonder of rassevoordeel nie tog ’n rol speel nie. In dié stadium verwys hy in sy verklaring na “diepgaande kwessies”. Ons moet nog hoor. Dit is so dat ander wit mense ook van die genoemde superego’s se optrede soms as neerhalend kan ervaar, bloot oor die samestelling van hul persoonlikheid. En van hul bruin en swart kollegas wat dit nie noodwendig so ervaar nie, hoor ek direk.

Hoe ook al. Dlulane is reg. Ons almal het ’n verantwoordelikheid om met sensitiwiteit in ons medebestaan om te gaan. Die aanblaas van verdelende emosies in die kwessie is tot skande van almal wat deel daarvan was.

As werkgewers soos SuperSport bewus is van opbouende frustrasies tussen persoonlikhede in die werkplek, moet dit betyds hanteer word, veral as moontlike rassespanning kan ontstaan. En ons almal moet baie bedagsamer optree. Dit is ons werklikheid.

En dan moet die geagte sportminister opklaring bied om enigsins verder ernstig opgeneem te word.

Beukman is redakteur van Beeld.

Meer oor:  Supersport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.