Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sportwêreld moet nou beter planne uithaal en wys
Foto:

Verlede week tydens die vlak 5-inperking nog is ek effens onkant betrap deur ’n item op SS1, SuperSport se vlagskipkanaal: die fliek Rocky II.

Ek dog eers ek het die verkeerde knoppie gedruk, maar nee, die Italian Stallion en Apollo Creed is inderdaad besig om mekaar om die beurt plat te slaan – op SuperSport1.

Dit wys jou hoe erg die sportwêreld deur die korona-pandemie getref word. Daar is geen wedstryde om uit te saai nie, geen toernooie om na uit te sien nie, geen voorskoue vir Wimbledon of die Olimpiese Spele nie, geen Formule 1-wedrenne of Superrugby nie. Niks.

SuperSport moet terugval op ’n boksfliek uit 1979 om die sportvlammetjie aan die brand te hou. Dis amper so desperaat as om pynappelbier in jou motorhuis te brou.

Hopelik het die wêreld se sportbase die afgelope maand diep gedink oor hoe hulle die post-korona-wêreld gaan takel, want talle van die huidige toernooie is in elk geval lewensmoeg.

Neem krieket. In 2019 was Pakistan hier vir ’n reeks van drie vyfdagtoetse, vyf eendagwedstryde en dan nóg drie T20-wedstryde. Hulle was so lank hier hulle het amper vir burgerskap gekwalifiseer. Daar is tog sekerlik ’n meer boeiende formaat as om dieselfde twee spanne oor ’n tydperk van drie maande 11 keer teen mekaar te sien speel?

Nugter weet hoekom krieket steeds nie ’n beste-uit-drie-eindstryd speel nie.

So ook met eendagkrieket se Wêreldbekertoernooi elke vier jaar. Hoekom nie eerder elke drie jaar nie? En waarom steeds net ’n enkele lewe-of-dood-eindwedstryd?

In Amerika se World Series speel die twee voorste bofbalspanne ’n beste-uit-sewe-reeks om die beker te wen. Nugter weet hoekom krieket steeds nie ’n beste-uit-drie-eindstryd speel nie.

Rugby is diep in die moeilikheid, veral in die Suidelike Halfrond. WP-rugby is bankrot, en onlangs was daar skaars 4 000 toeskouers by ’n Bloubul-wedstryd op Loftus Versfeld. Ook in Nieu-Seeland en Australië is die Superrugby-paviljoene leeg.

Sport maak op televisieregte staat vir sy inkomste, en die momentum is dus immer na meer wedstryde en langer kompetisies. Só het die Super10-rugbyreeks van 1993 die Super12 en later die Super14 geword. Teen 2018 was daar 18 spanne in ’n logge kompetisie wat nou genadiglik onder sy eie gewig inplof.

In die 1950’s was daar sewe Formule 1-wedrenne. In die 1970’s het dit aangegroei tot 17, en deesdae is daar 21, met ’n hele paar daarvan wat op verlate renbane gejaag word in een of ander woestynlandjie met baie oliegeld. Nog twee kom binnekort by.

Hier’s die punt: Sport op televisie kort ’n volgepakte paviljoen. Geen skare, geen drama.

Engeland se premierliga-sokker word oorwegend in kleiner stadions gespeel (gemiddeld 37 000 sitplekke), maar dit is een van die gewildste televisie-sportreekse ter wêreld.

Dit is ook heerlik om Britse klubrugby op televisie te kyk, want die wedstryde word voor knus, volgepakte paviljoene gespeel. Bath se tuisveld het plek vir net 15 000 mense, Saracens s’n vir 10 000.

’n Mens hoop die sportbase se nuwe planne maak voorsiening vir korter kompetisies in kleiner stadions. Indien nie, is Rocky III ons voorland.

  • Booyens is ’n vryskutskrywer.
Meer oor:  Bun Booyens  |  Sport  |  Vermaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.