Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Spraakvryheid: Byt op die tande

Oor die reg op vryheid van spraak is ons, soos in alle demokrasieë, nog lank nie uitgepraat nie. Die jongste gedoente oor MultiChoice se aandrang daarop dat Steve Hofmeyr deelname belet word aan die Ghoema-musiekbekronings van kyk­NET beklemtoon dit opnuut.

Prof. Anton van Niekerk

Min openbare figure irriteer my persoonlik soveel soos Hofmeyr. Baie jare gelede is ek teen my sin saamgenooi na ’n “konsert” van hom. Vir die eerste helfte van die program het hy gesing. En toe kom deel twee. Dit was niks anders nie as ’n volskaalse, op­ruiende politieke vergadering. Verby was musiek en sang; wat ons moes aanhoor, was ’n ellelange tirade oor Pretoria se naam, Afrikaans op Stellenbosch, plaasmoorde (toe nog ’n nuutjie) en wat ook al nog.

Sedertdien sing hy lustig “Die Stem” by konserte, ongeag die verterend nega-tiewe assosiasies wat dit uitlok by die oorgrote meerderheid van ons bevolking.

Sy ergste uitspraak – en waarskynlik die strooihalm wat MultiChoice se rug gebreek het wat betref sy aan-vaarbaarheid vir ’n kompetisie wat die maatskappy borg – was sy deklamasie dat “swart mense eintlik apartheid veroorsaak het – go fi­gure!” Dis die naaste aan haat­spraak wat hy myns insiens gekom het – net duskant die openlike bewering dat swart mense agterlik en minderwaardig is en dus eintlik apartheid verdien het. Soos die meeste Suid-Afrikaners het ek nie regtig woorde om my afsku van sulke insinuasies te verwoord nie.

Maar beteken dit – ja, selfs dié laasgenoemde belediging – dat ons hom eenvoudig moet stilmaak? Dit kan ek ook nie verdedig nie. Wanneer dit gaan oor vryheid van spraak, is die eerste uitspraak wat by my opkom: “Ek hou nie van wat jy sê nie, maar ek sal jou reg om dit te sê tot die dood verdedig” (toegedig aan Voltaire).

Dit herinner my ook aan ’n toneel in die rolprent The American President waarin Michael Douglas die rol van die wewenaar-president Andrew Shepherd speel wat ’n meisie begin uitneem. Sy opponente pleeg lustig karaktermoord op die paartjie. Waarom beskuldig hy hulle nie van laster en neem hulle desnoods hof toe nie?

Om vas te hou aan vryheid van spraak is deksels, deksels moeilik – maar vir die demokrasie noodsaaklik.

As Shepherd homself hieroor moet verantwoord, is sy eerste sin: “America is not easy.”

Oor enige land (ook Suid-Afrika) wat vryheid van spraak in Vol­taire se sin ernstig opneem, moet dít heel eerste gesê word: “South Africa is not easy.” Dit is waaragtig nie maklik om net maar jou tande te kners as Julius Malema by die punt omdraai waar hy moorde op wit mense begin aanmoedig nie. Dis vir my net so moeilik om Hof-meyr se kwalik bedekte rassisme en sy agterhaalde, verdelende Afrikanerna-sionalisme aan te hoor en uit te staan.

Om egter in reaksie toe te slaan, dié oproerkraaiers stil te maak en ’n hege-monie van wat gesê mag word oral in die land af te dwing, is die maklike uitweg.

Om vas te hou aan vryheid van spraak is deksels, deksels moeilik – maar vir die demokrasie noodsaaklik. Ons was immers die getuies van ’n on-demokratiese bestel waar enigeen se mond oor enigiets gesnoer kon word.

Karl Popper skryf oor die paradoks van demokrasie en verdraagsaamheid: die moontlikheid dat mense die demo-krasie probeer gebruik om die demo-krasie te beëindig. Dit, beweer hy (en ek stem saam), kan wel nie geduld word nie. Daar help die Grondwet ons: oor-logspropaganda, haatspraak en aanhit-sing tot geweld is die grense wat nie oorgesteek mag word nie.

Kom ons byt dus maar op ons tande ten aanhoor van mense soos Malema en Hofmeyr tot op hede. Hulle moet egter lig trap – hulle is baie na aan eksponente (met alle gevolge) van die paradoks.

Meer oor:  Anton Van Niekerk  |  Steve Hofmeyr  |  Haatspraak  |  Rassehaat  |  Apartheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.