Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Spring aan die werk, boere

Wat ’n plesier is dit nie om by landbou-ontwikkelingsprojekte wat suksesvol bestuur word, besoek af te lê.

Hul sukses is ’n uitvloeisel van wen-wen-vennootskappe tussen opkomende en gevestigde kommersiële landbouers, gegrond op wedersydse respek, omgee en gedeelde waardes.

Christo van der Rheede

Maar daar is ook vele landbouprojekte wat klaaglik misluk weens onderlinge konflik, wantroue, gebrekkige ondersteuning en kundigheid en korrupsie. Eens produktiewe plase staan vervalle en belastinggeld is daarmee heen.

’n Kritieke faktor wat soos ’n goue draad deur die suksesvolle projekte loop, is private grondeienaarskap.

Dis vir baie swart en bruin boere wat op staats- of kommunale grond boer, feitlik onmoontlik om toegang tot finansiering te kry. Dis ’n enorme struikelblok en belemmer hul vooruitgang.

EFF-beleidsverklarings en uitsprake deur sommige ANC-lede dat ontslae geraak moet word van die beginsel van private eienaarskap deur alle grond aan die staat oor te dra en sonder vergoeding te onteien, maak daarom nie sin nie.

Die nasionalisering van grond, soos voorgestel deur die EFF, beteken die staat word die eienaar van alle grond. Indien dit wel sal gebeur, sal dit bestaande titelaktes ongeldig maak.

Dit hou vernietigende ekonomiese implikasies in vir elke burger wat grond besit waarop sy huis, fabriek of winkel gebou is en waarop allerlei vorme van vrye ondernemerskap, soos kleinhandel, vervaardiging en boerdery beoefen word.

Teen die agtergrond van die staat se swak diensgeskiedenis is dit nou van kritieke belang dat veral die landbougemeenskap koppe bymekaarsit om regverdige en ekonomies volhoubare oplossings vir die grondkwessie te vind.

Besef die EFF nie dat eiendom in private besit as sekuriteit aan banke­ gebied word om geld te kan leen nie?

Besef hy ook nie watter geldelike implikasies dit inhou vir sukkelende en wanfunksionele munisipaliteite en ons nasionale tesourie, wat reeds deur ’n begrotingstekort in die gesig gestaar word nie?

Die nasionalisering van grond gaan ongetwyfeld tot grootskaalse ekonomiese verval en verarming lei. En dit gaan veral die armes raak. Maar vir korrupte politieke heersers en hul volgelinge skep dit ’n gulde geleentheid om hulself eerste te help en ten koste van die massas te verryk.

Aikôna, Suid-Afrikaners kan allermins bekostig om van wolf skaapwagter te maak!

Teen die agtergrond van die staat se swak diensgeskiedenis is dit nou van kritieke belang dat veral die landbougemeenskap koppe bymekaarsit om regverdige en ekonomies volhoubare oplossings vir die grondkwessie te vind.

Dié sektor behaal reeds groot suksesse met die ontwikkeling en bemagtiging van nuwe swart en bruin boere.

Ons sien dit reeds gebeur in gebiede waar mense grond onwettig beset. Dit lei tot konflik tussen gevestigde inwoners en grondbesetters.

Georganiseerde landbou het ook ’n kernrol in Operasie Phakisa gespeel om omvattende projekplanne vir grondhervorming te ontwikkel. Dit sluit huisvesting en opleiding vir plaaswerkers in.

Die staat het miljoene bestee om rolspelers te betrek om dié planne te ontwikkel.

Ongelukkig wil dit voorkom of die EFF-leierskorps en sommige ANC-politici geen waarde daaraan heg nie. Hulle fokus eerder op populistiese beleidsvoorstelle met geen substansie nie.

Dis ’n resep vir anargie, konflik, wetteloosheid en ekonomiese ontmagtiging.

Ons sien dit reeds gebeur in gebiede waar mense grond onwettig beset. Dit lei tot konflik tussen gevestigde inwoners en grondbesetters. Die swart-op- swart-geweld in Mamelodi verlede jaar, die onlangse konflik tussen swart en bruin op die Kaapse Vlakte en tussen wit en swart in die Midrand-omgewing die naweek getuig daarvan.

Dis die gevolg van populistiese uitsprake.

Die teenvoeter is die magdom van oplossings wat die landbou kan bied en waaraan reeds uitvoering gegee word.

Maar die ontsluiting en grootskaalse uitbou daarvan is in die landbou se hande. Kom ons spring aan die werk!

  • Van der Rheede is uitvoerende adjunkhoof van Agri SA.
Meer oor:  Christo Van Der Rheede  |  Eff  |  Rubriek  |  Droogte  |  Menings  |  Politiek  |  Boere  |  Anc  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.